Maroela-studiefonds

Maroela Media-studiefonds

Los ʼn nalatenskap vir Afrikaanse joernalistiek

Maroela Media is trots om aan te kondig dat ons pas ʼn eie studiefonds bekend gestel het vir studente wat joernalistiek wil studeer, maar wat nie tersiêre studies kan bekostig nie.

Die Maroela Media-studiefonds vir Joernalistiek skop reeds in 2021 af, en sal spesifiek toegeken word aan ʼn student wat volgende jaar die graad BA Kommunikasie en Joernalistiek aan Akademia wil studeer. Die eerste jaar van die student se studies word met dié fonds moontlik gemaak. Die fonds word bestuur deur die Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum.

Maak ʼn bydrae tot die fonds

Maroela nooi sy lesers uit om ons te help om dié fonds, wat tans een student se eerstejaarstudies in 2021 sal dek, uit te brei sodat talle ander joernalistiekstudente ook uit dié fonds gehelp kan word. Indien jy die waarde van gehalte joernalistiek insien en wil help om ʼn volgende generasie joernaliste op te lei, maak vandag nog ʼn bydrae aan die Maroela Media-studiefonds vir Joernalistiek. Inligting oor hoe jy ʼn bydrae tot die Maroela Media-studiefonds vir Joernalistiek kan maak, is onderaan hierdie artikel beskikbaar.

Doen só aansoek vir die Studiefonds vir Joernalistiek

Indien jy beoog om volgende jaar joernalistiek aan Akademia te studeer maar nie oor die nodige fondse beskik nie, kan jy ook nou aansoek doen vir die Maroela Media-studiefonds. Doen aansoek by Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum. Die studiefonds word aangebied in die vorm van ʼn rentevrye studielening: Jy begin dus eers terugbetaal aan jou lening wanneer jy klaar studeer het en begin werk, maar sonder enige rente. Só word daar weer fondse beskikbaar gemaak vir ʼn volgende student wat studiehulp nodig het.

Internskap as deel van opleiding

ʼn Groot bonus is dat die persoon wat hierdie studiefonds in 2021 ontvang, praktiese opleiding sal ontvang met ʼn internskap by Maroela Media wat deur die loop van die jaar deel van die suksesvolle aansoeker se program sal vorm. Die internskap sal só gestruktureer word dat die student optimale praktiese blootstelling in die veld van kommunikasie en joernalistiek sal ontvang.

“Ons leef in ʼn era waar etiese, goeie gehalte, betroubare en gebalanseerde joernalistiek uiters belangrik is – dalk belangriker as in enige era voor ons,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media. “In ʼn tyd van vreemde uitdagings wat 20 of selfs 10 jaar terug ongekend en ondenkbaar was, soos fopnuus, sosiale media en wêreldwye pandemies, is die rol van die media onontbeerlik vir ʼn deursigtige samelewing wat die staat en die publiek aanspreeklik en verantwoordbaar hou. Dis noodsaaklik dat joernaliste gehalte opleiding ontvang om hierdie rol in die samelewing te vervul.”

Meer oor die graad

Die BA Kommunikasie en Joernalistiek-graad is ʼn gespesialiseerde kwalifikasie wat studente toerus met die teoretiese kennis en praktiese vaardighede om suksesvolle loopbane in die joernalistiek- en kommunikasiebedryf te volg. Die doel van die program is om studente in staat te stel om as multimediajoernaliste en kundige kommunikasiepraktisyns te funksioneer. Gedurende die minimum studietydperk van drie jaar word studente blootgestel aan onder meer strategiese, organisasie en bemarkingskommunikasie binne korporatiewe en nie-winsgewende omgewings. Kyk na die toelatingsvereistes en kry besonderhede oor die kursus.

“As jy belang stel in nuus, sterk voel daaroor dat die publiek ingelig behoort te word met akkurate en betroubare inligting, en van mening is dat die media ʼn rol het om openbare figure en die regering verantwoordbaar te hou vir hul optrede en besluite, is ʼn loopbaan in joernalistiek moontlik die regte keuse vir jou,” sê Lombaard. “Die kurrikulum van Akademia se splinternuwe B-graad in Kommunikasie en Joernalistiek maak ons opgewonde. Ons glo dat dit al die elemente bevat wat voornemende joernaliste nodig het om hulself te bekwaam vir ʼn digitalemediaomgewing, sonder dat die tradisionele beginsels van goeie, etiese joernalistiek aan die agterspeen suig.”

Die sluitingsdatum om vir dié studierigting in te skryf is 2 Maart 2021.

Die Maroela-studiefonds en die Studiefondssentrum

Die Maroela Media-studiefonds word bestuur deur Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum (SFS). Die SFS is in 2009 gestig as platform vir donateurs om behoeftige studente wat wil studeer, te help om hul studiedrome waar te maak. Die fonds administreer tans meer as 200 onafhanklike studiefondse namens donateurs, waarmee meer as 6 300 behoeftige studente se studies met meer as R240 miljoen moontlik gemaak is.

Hoe kan jy help?

Maroela Media wil graag die Maroela Media-studiefonds vir Joernalistiek uitbrei. Ons nooi dus elkeen wat waarde heg aan gehaltejoernalistiek en wat besef hoe belangrik dit is dat ons vandag reeds Afrikaanse joernaliste vir die toekoms moet voorberei, om in dié fonds te belê.

Donateurs en skenkers in Maroela se studiefonds kan ook ʼn artikel 18A- belastingsertifikaat versoek, wat gebruik kan word vir gedeeltelike belastingvrystelling.

Jy kan sommer ʼn direkte inbetaling maak (maak asseblief seker jy gebruik die regte verwysing):

Rekeningnaam: Die Helpende Hand Studie Trust
Bank: FNB
Tak: Centurion
Takkode: 250-655
Rekeningnr.: 62331447541
Swift-kode: FIRNZAJJ
Verwysing: SDP/MaroelaMedia

Stuur enige navrae oor die studiefonds per e-pos aan [email protected].

Maak seker jy los ʼn nalatenskap vir Afrikaanse joernalistiek!