Luister: Katbosbult – ’n vervolgverhaal

(Foto: Verskaf)

Geskryf deur Joe Kleinhans
Regie deur Bettie Kemp

Katbosbult is ʼn tipiese Karoodorpie met sy bekoring van Boerneef se Katbos en Kambro, asook sy dwergvetplante. Sedert 2019 is dié vetplante gesogter en lonender as renosterstropery. Asiatiese markte het ʼn ongekende honger daarvoor.

Midde in die armoede op die dorp word die steel van die vetplante ʼn plaag waarmee sersant Jakes Johnson nie meer tred kan hou nie. Veral noudat sy vrou hom gelos het en sy hom kaal in die skeihof wil uittrek.

Dit is veral weduwee Chrissie Celliers op haar plaas Halfmens, wat deurloop. Veral nadat Manie Maritz kort duskant hulle huwelik inmekaargesak het. ʼn Tragedie wat sy enigste dogter Monique weier om te aanvaar. Sy vermoed daar was gif betrokke en sy is knaend by die polisie dat hulle verdere ondersoek begin instel.

Nie dat Chrissie lank treur nie. Nee, die aantreklike dorpsraadslid Eppo Engelbrecht se vrou sterf ook eweneens onverwags, maar tot Chrissie se ontsteltenis daag haar skoolvriendin, die sjarmante oujongnooi, Shirley Sinfield, uit Switserland op. En Eppo stel hopeloos te veel na Chrissie se sin in die vrou met die indrukwekkende CV belang.

Eppo se sekretaresse, die fiksheidsfantikus, Reggie Roberts, staan weldra meer tyd af aan die hulpverlening en organisering van haar baas se privaat lewe as aan sy kantoorlewe. Eppo maak die fout om Shirley aan te moedig om haar verkiesbaar te stel vir die vakante pos op die dorpsraad, Chrissie besluit terstond sy is geroepe om die volgende dorpsraadslid op Katbosbult te word. Dit loop op ʼn katgeveg uit soos die dorp nog nie beleef het nie.

Dan is daar die misterieuse en welaf kunstenaar Leonardo le Roux wat op Shirley se voetspore, die dorp binne loop, die restaurant koop en Katbosbult bekend wil maak. Hy stel Jasper Jonker, ʼn aantreklike jong man, as sy assistent-restaurantbestuurder aan. Leonard het groot planne vir hom en Jasper vorentoe.

Katbosbult is ʼn mikrokosmos van Suid-Afrika. Daar is diegene met edele harte en opregte pogings om die gemeenskap op te hef, maar midde-in die armoede en ellende gedy die misdaad, die afguns en die geskinder op die dorp.

Die 120 episode-vervolgverhaal, geskryf deur Joe Kleinhans en vervaardig deur Bettie Kemp, word deur ʼn verskeidenheid van kleurryke karakters vertel.

Dié karakters word onder meer deur Ria Smit, Anton Dekker, Antowan Nöthling, Stefan Vermaak en Izel Bezuidenhout vertolk. Kaz McFadden en Rika Nieuwoudt maak hul buiging as nuwelinge in Maroela Media se radiodrama-ateljee.

Tegniese versorging is deur Marius Vermaak en die vervolgverhaal is opgeneem in Maroela Media se ateljee.

Daar sal van Maandag 12 Junie 2023 elke weekdag ʼn nuwe episode beskikbaar wees om na te luister. Luister na die episodes hier op Maroela Media of op een van die gemeenskapsradiostasies wat die drama uitsaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Meinung ·

Áltyd lekker om na ‘n Joe-Bettie-verhaal te luister. Lekker span spelers ook. Baie dankie.

Ilze ·

Ek kan nie wag vir ‘n nuwe episode elke dag nie. Lekker luister genot.

Marieta ·

Dit is nou sommer ‘n lekker storie met baie Karoovleisies om die been!

Rooi rissie ·

Dit was n baie mooi episode. Ek geniet Katbosbult so baie dat ek sommer nou hartseer is omdat die storie naby sy einde is. Hopelik kry ons nog n top beste vervolg verhaal van Bettie Kemp en haar puik span. Bettie se stories bly maar bobaas net die beste… dankie dat ons dit op Maroela Media kan luister.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.