Resensie: Ripley kry nuwe lewe in ‘TV-meesterstuk’

RIPLEY
⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐⭐(9/10)     
Met Andrew Scott en Johnny Flynn
Regisseur: Steven Zaillian
(Netflix)

Jy hoor dalk almal praat oor Ripley. Dit is ʼn nuwe weergawe van Patricia Highsmith se veelbesproke roman The Talented Mr. Ripley.

Dit gaan oor ʼn psigopaat, Tom Ripley, briljant gespeel deur Andrew Scott, wat homself by ryk mense inwurm. Met sjarme, maar ook met ʼn sekure en dodelike presiesheid, raak hy ʼn parasiet wat op rykes teer, en nog erger, hulle vermoor en hulle identiteite oorneem.

Dit is waaroor Ripley handel. ʼn Man bestudeer sy slagoffer en neem dan sy identiteit oor. Die reeks is in wit en swart gemaak om aan te sluit by die film noir-genre van ouds.

Dakota Fanning en Johnny Flynn in “Ripley”. (Foto: IMDb)

Dit is vermaak waarvoor jy jou breinselle moet skoonwas en rondskommel. Dit verg intense konsentrasie, maar dit is ʼn televisiemeesterstuk. Slegs vir die fynproewer wat die uitmuntende en atmosferiese kinematografie sal raaksien, die komposisies, die uitstekende spel en die grillerige wyse waarop die storie verloop.

As jy jouself ʼn guns wil bewys, kyk ook na die Matt Damon-weergawe van The Talented Mr. Ripley, ook op Netflix en in kleur, en vergelyk die twee.

(9/10)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.