ToekomsVenster: Julle sal die Heilige Gees ontvang

(Argieffoto)

Toe antwoord Petrus hulle: “Bekeer julle en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus, en God sal julle sondes vergewe en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang.” – Handelinge 2:38 (AFR83)

Ons dink nog na oor die Persoon, werk en invloed van die Heilige Gees. Eersdaags vier ons Pinkster, en dit is altyd ʼn besondere tyd in die lewe van gelowiges.

Aan die vooraand van Jesus se Hemelvaart belowe Hy dat Hy sy Gees stuur om die dissipels vir die taak waarvoor hulle bestem is, toe te rus en te bekwaam.

Die laaste opdrag van Jesus is bekend – gaan en maak mense volgelinge van My. Die taak is oorweldigend, en die troos en nabyheid van Jesus hul leermeester moet hulle nou ontbeer, immers, Hy het pas aangekondig dat Hy weggaan.

Petrus was in die onlangse verlede bang vir ʼn diensmeisie. Toe sy hom konfronteer met in wie se geselskap hy homself tot onlangs bevind het, skrik Petrus hom buite weste. Jesus is pas met brute geweld in hegtenis geneem om voor die owerhede verslag te doen van die boodskap wat Hy verkondig en Homself te verweer teen die aanklagte wat teen Hom gebring word. Die omgewing waarin Jesus homself tans bevind is vyandig en gevaarlik. Jesus staan ʼn goeie kans om sy lewe te verloor, en Petrus sien nie daarvoor kans nie.

Voordat die haan kraai verraai Petrus Jesus drie maal.

Nou egter staan dieselfde mens voor die skare wat hulself in hierdie tyd in Jerusalem bevind en verdedig die Een wat heel onlangs aan ʼn kruishout gesterf het. Sonder omhaal van woorde roep hy die omstanders tot bekering op. Hy praat reguit oor sonde.

God se genadetyd breek egter nou aan, en Hy vergewe elkeen van harte wat hulle met sy Seun identifiseer. Boonop ontvang hulle die Heilige Gees.

Sonder die Gees kan niemand bely dat Jesus die Christus is nie. Wie so ʼn belydenis het, het ook die Gees. Die Gees word nie in dele gegee nie, die Gees is ʼn Persoon.

Wie Jesus as Here bely, het die Persoon van die Heilige Gees as blywende teenwoordigheid.

Sommige glo dat die Gees ʼn tweede gawe van God is. Eers Jesus en dan die Gees.

Ek verstaan die Bybel nie so nie.

Dit mag wees dat die werking van die Gees later duidelik word. Dit mag wees dat die gelowige homself dan eers bewustelik tot beskikking van die Gees oorgee, maar die Gees kom saam met Jesus, die Vader ook.

Mag ons baie bewus wees van die groot geskenk wat God gegee het: Sy Gees in die lewe van elkeen wat glo.

  • Wil jy meer weet oor die ToekomsVenster-projek? Stuur ʼn e-pos aan ds. Jannie Pelser by [email protected] vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Baie duidelik en verstaanbaar beskryf ds Jannie.Die driedemensionaliteit van ons Ewige Meester.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.