Man vertel van sy hel toe hy in hondehok aangehou is

Johannes Wolfaardt (Foto verskaf)

Hoe word ʼn kind wat jare lank mishandel en misbruik is, voortdurend vir sy gewelddadige pa moes vlug en van een kinderhuis, skool en pleeggesin na die ander geslinger is, weer heel?

Dit is wat Johannes Wolfaardt (40) met sy nuwe boek Struggling Stains wil vertel. Ten spyte van sy skrikwekkende lewensverhaal, glo Johannes daar is altyd hoop, dat daar mense is wat werklik omgee en dan is daar die onverklaarbare krag van vergifnis wat jou vry maak.

As kind is Johannes deur hel op aarde. Mense wat hom moes liefgehad het, het soos wrede sadiste teenoor hom opgetree.

Selfs die ondenkbare het met hom gebeur. Hy is twee keer as klein seuntjie seksueel mishandel, verwerp deur sy pa wat daarvan oortuig was dat hy nie sy kind was nie en is in ʼn stadium selfs in ʼn hondehok aangehou waar hy uit dieselfde bak as die hond moes eet en sy lyf met krapmerke oortrek was.

Sy ma het die huis verlaat toe hy slegs twee jaar oud was. Hy en sy jonger broer is aan sy pa en sy meisie, later sy pa se vrou, se genade oorgelaat.

Johannes is vanaf vierjarige ouderdom mishandel en verstoot. Hy is gebreinspoel met die Bybelse woorde: “Jy moet jou vader en jou moeder eer, sodat jou lewe verleng mag word”.

Vroom maar verwarrende woorde, sy omstandighede in ag geneem.

Hy stel dit duidelik dat hy nie met hierdie boek op soek na simpatie is nie. Dit was ook nie vir hom maklik om hieroor te skryf en homself bloot te stel nie.

Johannes se ma, Cornelia, het as tiener swanger geword nadat sy na bewering deur haar beste vriendin se broer verkrag is. Sy pa wou nie kinders gehad het nie en sy ouers het op nagenoeg drie maande swangerskap ʼn aborsie laat uitvoer.

Aanvanklik is gedink dat sy ma ʼn tweeling verwag het, maar dit was inderwaarheid ʼn drieling. Sy het later beweging gevoel en daar is vasgestel dat daar ʼn derde embrio was wat oorleef het.

Dit was Johannes.

Die paartjie is getroud maar die huwelik was onstuimig; daar was struwelinge en emosionele en verbale mishandeling.

Johannes is in November 1984 gebore. Sy pa het aggressief teenoor hom begin optree. Hy het kwansuis ʼn vasektomie gehad en het gesê die kind is nie syne nie.

Sy ma het weer swanger geraak en dit was ʼn geweldige emosionele ervaring. Die swangerskap is deur aanrandings bedreig. Dit was so erg dat die huiswerker in ʼn stadium ʼn ambulans ontbied het.

Na sy ma se vertrek is Johannes toenemend mishandel.

Johannes (John in die boek) is op ses skool toe. ʼn Onderwyseres het hom eendag na ʼn aanranding aan die skouer gevat en hy het ineengestort van die pyn.

Hy is na die skoolhoof geneem wat die polisie ontbied het.

By die polisiekantoor is foto’s van sy lyf geneem; blou kolle sowel as merke van vorige aanrandings.

Die distriksgeneesheer is ontbied en daar is vermoed dat hy moontlik gekraakte ribbes mag hê as gevolg van sy pa wat hom geskop het.

As jong mishandelde kind wat toe nog by sy pa gewoon het, het hy gedink dit was sý skuld. Hy was daarvan oortuig dat hy al die pyn verdien het en dat hy die oorsaak van sy pa-hulle se egskeiding was.

Hy was maar vyf jaar oud toe hy begin wens het hy is eerder dood. Sy pa moet hom net doodslaan en klaar kry want die fisieke pyn was ondraaglik.

Op sesjarige ouderdom is hy na ʼn plek van veiligheid geneem, maar selfs hier was alles nie maanskyn en rose nie.

Hy en sy broer is gedurig rondgegooi en na nuwe plekke toe verskuif omdat hul verhoorafwagtende pa inligting ontvang het oor waar hulle hul bevind het.

Op sewe is hy in pleegsorg geneem waar hy ook nie veel liefde ontvang het nie.

“Ek is letterlik soos ʼn hond daar behandel. Ek moes saam met die hond in sy hok bly en kos uit die hond se bak eet. Daar was krapmerke op my lyf”, vertel hy.

Na drie maande het die welsynwerker ondersoek kom doen en besef dat iets verskriklik verkeerd was as gevolg van die merke en kolle op sy liggaam, waarna hy na die volgende pleegouers gestuur is.

So is hy rondgegooi totdat hy 10 jaar oud was. Daar was goeie en slegte tye. Vanaf 10 tot 18 was hy in die Reddersburg-kinderhuis waar hy ook heelwat beleef het.

Op 18 is hy in sy ma se sorg geplaas nadat sy hom opgespoor het. Dit het ʼn rukkie lank goed gegaan voordat die ellende hom weer getref het.

Hy het verlore gevoel en het geen goeie ouerlike rolmodelle of leiding gehad oor hoe om die trauma in sy lewe te verwerk nie.

Johannes het terapie by ʼn simpatieke psigiater ondergaan wat vir hom van groot hulp was.

Hy is met sosiale angsversteuring en vrees vir verwerping gediagnoseer.

Die pad na genesing was egter lank en moeilik. Hy het woedeuitbarstings gehad en het hom dikwels soos ʼn skilpad in sy dop teruggetrek.

Twee jaar gelede het hy besluit om by kennisse op ʼn plasie buite Bloemfontein te gaan woon.

“Daar het ek my hart vir God oopgemaak en liefdevolle mense het vir my begin bid. Ek het geleer hoe om oor my angs en verwerping te praat en hulle het my gehelp om dit te oorkom.”

Geleidelik het sy tragiese lewensverhaal begin ontvou. Hy moes self ook ʼn wilsbesluit neem om die keuse te maak om vry te word.

“Liefde en God se mense het my deurgedra.”

Johannes het in ʼn stadium weens misbruik van psigiatriese medikasie – hy het op 13 reeds antidepressante begin drink – in die hospitaal beland. Toe hy wakker geword het, het hy besef dat hy baie na aan dood was.

Maar terug na sy stormagtige kinderjare.

Soms is hy en sy broer saam geplaas, ander kere is hulle geskei.

Gelukkig het hulle in ʼn stadium wonderlike vakansieouers gehad wat hul see toe geneem het, maar weereens moes hulle vlug omdat hul pa op hulle spoor was.

Dit het soos verraad gevoel toe hulle later uitvind dat die skoolhoof kop in een mus met hul pa was.

Hulle was huisvriende en hy het die kinders verraai.

Die skoolhoof is glo aangekla en het sy werk verloor.

Hul droomvakansie moes kortgeknip word.

Die drama het net voortgeduur. Daar was selfs ʼn geval waar sy pa sy boetie ontvoer het.

Sy pa is tot drie jaar tronkstraf gevonnis en sy stiefma tot drie maande.

“Hieroor was ek baie teleurgesteld en selfs kwaad. Ek het gedink hy sou ʼn lewenslange vonnis kry.

Ek was ook bang dat hy my sou opspoor en my vermoor as hy eers vrygelaat is.

“Ek was ongeveer 27 jaar oud toe ek hom weer gesien het. Ek het aan hom gesê dat ek hom vergewe. Ek moes dit doen om vrede in my gemoed te kry. Maar kort voor sy dood het ek ʼn boodskap gekry dat ek nie sy seun is nie.”

“Ek het ook besluit om sy vrou te vergewe maar sy het my net toegesnou dat ek nooit weer my voete in hul huis moet sit nie.”

Sy pa wou ook nie tot DNS-toetse instem nie.

Weereens het Johannes verwerping ervaar.

Johannes Wolfaardt (Foto verskaf)

Toe sy pa in 2019 weens ʼn hartaanval dood is, het hy glad nie hartseer gevoel nie.

Johannes se broer is reeds in 2008 oorlede. Volgens die polisiedossier was dit weens selfmoord.

Johannes is twee jaar gelede met Annelle getroud wat hy op die plaas ontmoet het.

Hy was aanvanklik maar bot met haar, maar na diep gesprekke en gebed het hy op haar verlief geraak en hom bekeer.

Sy het hom aangemoedig om die boek te skryf.

Hy het sy manuskrip na Nico Schamrel van Ns. Skrywershuis gestuur en hy het vir Johannes gesê as dit God se wil is, sal die boek die lig sien. Dit was woorde wat hom bygebly het.

Deesdae doen hy af en toe timmerwerk, maar hy is tans baie bedrywig met boekbekendstellings en motiveringspraatjies.

Sy doelwit met die boek was om die soeklig op kindermishandeling te laat val maar ook om mense te bemoedig dat daar ʼn uitweg uit al die pyn is.

“Dit gaan oor maniere om deur middel van my getuienis depressie en trauma te oorkom. Ek verwys mense ook na kundiges wat hulle kan help.

“Dit lê my op die hart om uit te gaan en ander aan te raak deur die krag wat God my gee, om sodoende ʼn positiewe verskil te kan maak in die wêreld.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nico ·

‘n Ongelooflike boek en ‘n dapper skrywer. Welgedaan, Johannes, dat jy die moed gehad het om te publiseer. Ons is geweldig trots op jou.

annie ·

Afrikaner-mans moet maar ophou om te glo hulle gaan saam met ander ‘hoog heiliges’ voor in die koor ná die einde van die wêreld sit en vereer word vir hul swaarkry en verontregting. Afrikaner-pa’s is van die swakste wat op die aarde geloop het. Soveel ware verhale van mans en seuns wat deur hul pa’s erger as honde en slawe behandel is/word, word gehoor. Gebreekte jongmans wat huidiglik werkloos is weens die politieke klimaat beleed daagliks erge teistering. Christus waarsku diegene wat wanneer hul seun hul ‘n vis vra, ‘n slang gee.

minnie muis ·

dan kla ons so maklik!, ek kom uit baie gelukkige huis , al was ons arm ,my onthou is van pa en ma wat vreeslik lief was vir ons. jou boek gee mens hoop dat daar beslis beter tye in die lew e is.

nou kan jy die volgende een skryf . sterkte en seen vir jou

Bolandse Nooi ·

@annie, ek dink ek stem saam met jou, baie wit, Afrikaanssprekende Afrikaner-pa’s is boelies “incarnate”. Hulle dink omdat húlle swaargekry het en swaar (dalk arm en deel van ‘n groot gesin) grootgeword het, moet hulle dieselfde ‘dissipline’ toepas op hul seuns. “Cowboys don’t cry”.

My oupa aan vaderskant was so ‘n mens. Hy het my arme Pa as jong seuntjie met ‘n kar se ou “fan belt” bygekom. Hy het ‘die lewe’ in my Pa, ‘n sieklike kind, ingefoeter. Vandag nog, as ek by sy graf kom (hy is gelukkig vroeg dood – in 1949, toe my Pa ‘n jong seun van 13 was), skop ek teen sy grafsteen en sê vir hom: “Dis vir elke keer wat jy my Pa so geslaan het. jou ou vark!”.

Leeubekkie ·

Baie dankie dat jy die moed gehad het om jou swaarkry te deel. Mag God jou styf vashou. Sterkte vorentoe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.