Kapenaars staan saam om winterkoue te bekamp

Foto ter illustrasie. (Foto: Kelly Sikkema/Unsplash)

Die Kaapse radiostasie Good Hope FM vat vanjaar weer hande met Community Chest en HomeChoice in ʼn poging om soveel moontlik komberse en niebederfbare produkte in te samel om die winterkoue hok te slaan.

Die Keep Cape Town Warm-projek word al die afgelope 15 jaar gedryf. Die projek is begin om behoeftige mense in Kaapstad by te staan met ʼn warm kombers en ʼn vullende bord kos.

“Ons ken die toestande wat die mense van Kaapstad in die wintermaande moet deurmaak, en ons gaan aanhou werk om armoede hok te slaan,” sê Peter Heeger, tydelike uitvoerende hoof van Community Chest, ʼn organisasie sonder winsbejag.

“Keep Cape Town Warm is ʼn hoogtepunt op ons kalender, aangesien dit doodgewone burgers kans gee om te wys dat hulle omgee. Ons moedig alle Kapenaars aan om hierdie wonderlike projek te ondersteun, en ons daag sakeondernemings uit om betrokke te raak.”

Dit is vir Good Hope FM ʼn riem onder die hart om jaarliks by dié gemeenskapsprojek betrokke te wees.

“Good Hope FM is soveel meer as ʼn bekroonde radiostasie. Ons is toegewyd om ons gemeenskappe in nood te help en ʼn praktiese verskil in ons luisteraars se lewens te maak,” sê Michael Bossenger, Good Hope FM se besigheidsbestuurder.

“Veral in die winterkoue waartydens te veel mense sonder basiese behoeftes gelos word.”

Die projek word in Mei en Junie gedryf, en Kapenaars word aangemoedig om skenkings te maak. Geldelike skenkings kan op Community Chest se aanlyn portaal gemaak word, en nuwe komberse en niebederfbare kos kan by Good Hope FM se ateljee by Beachstraat 209, Seepunt, afgelaai word.

Andersins kan skenkings by enige van die volgende buitelug-uitsendings afgelaai word:

  • Dinsdag 7 Mei om 06:00 tot 09:00 by Star College in Bridgetown
  • Dinsdag 14 Mei om 06:00 tot 09:00 by Golden Grove Primary in Rondebosch
  • Dinsdag 21 Mei om 06:00 tot 09:00 by Blouberg Ridge Primary in Bloubergstrand
  • Saterdag 25 Mei tussen 09:00 en 12:00 by HomeChoice by die Promenade
  • Dinsdag 28 Mei om 06:00 tot 09:00 by Fairview Primary in Grassy Park
  • Dinsdag 4 Junie om 06:00 tot 09:00 by Milnerton Primary in Milnerton
  • Saterdag 15 Junie om 09:00 tot 12:00 by Community Chest se kantore in Breestraat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.