Hoe jy trou is nie perdekoop nie

trouring-bybel-pexels.jpg

Foto: pixabay.com/pexels.jpg

ʼn Mens stap nie blind in ʼn huwelik in nie. Ten spyte van wat die wêreld en Hollywood ons vertel oor kitstroues onder ʼn Elvis-dominee en al dies, is dit nie iets waarby ek my kan skaar nie.

Ek gaan nie hier op filosofiese of geloofsterme in nie (net dit – my posisie is maklik – as Hollywood een rigting neig, is dit minstens goed om jouself te vra of dit sinvol is vir jou om te volg), want dis nie die ruimte daarvoor nie.

Maar dit raak ook jou persoonlike finansies.

Sien, hoe jy trou, en ek praat nou hier van die wetlike ratte daaragter, naamlik binne of buite gemeenskap van goedere (met of sonder die aanwas), het wesenlike implikasies.

Niemand trou om te skei nie. In elk geval, ek hoop nie so nie. Maar die lewe gebeur. En dis nie die enigste manier wat huwelike tot einde kom nie. Die dood beskaam nie, en onder watter bedeling jy getrou het, het ʼn invloed as jy sterf ook.

Hier moet jy liefs nugter dink en besluit, al brand jou hart (en jou lieste) hoe. Trouens, nugtere besluite geld eintlik vir alle finansies, maar nou ja…

Ek weet ek sê dit elke maand, maar neem my tog die maand nog ernstiger op: gaan sien iemand hieroor wat gekwalifiseerd is. Ja, prokureurs en beplanners kan duur wees. Maar weet jy wat is nog duurder? Om kastaiings later uit die vuur te moet krap.

Wat is binne en buite gemeenskap? Wat is aanwas?

(Foto: Engin Akyurt / Unsplash)

So, daar is ʼn rede waarom prokureurs en regslui so lank studeer. Die goed is bitter tegnies, en kan verskriklik kompleks raak.

Ek verf hier met ʼn breë kwas.

Dus: binne gemeenskap van goedere beteken losweg wat myne en joune was, word nou saam ons s’n. Buite gemeenskap van goedere beteken myne bly myne, en joune bly joune.

Dis natuurlik heelwat meer kompleks as dit, en daar is ander gevolge (waarby ons weldra gaan uitkom), maar dis die hart daarvan.

Die aanwasbedeling is ʼn relatief komplekse stelsel wat iewers tussen die twee bedelings sit. Elkeen van die getroudes lys voor die troue bates waarmee hulle die huwelik inkom. By die ontbinding van die huwelik, hetsy uit egskeiding of die dood, kyk ʼn mens dan hoe elkeen se onderskeie boedels gegroei het.

Basies gaan ʼn deel van die een met die groter groei na die ander party.

Hoekom die een of die ander?

Onthou: daar is nie noodwendig reg of verkeerd hier nie, bloot wat vir julle sal werk.

Binne gemeenskap van goedere is die verstekopsie, tensy jy ʼn sogenaamde HVK of huweliksvoorwaardekontrak in plek het.

Dit beteken alles smelt saam. Dis aanloklik, want, soos reeds genoem, niemand trou om te skei nie. En dit bind ons mos saam. En in elk geval, soos die Bybel sê, ons word een.

Maar … dit skep ook ander probleme. Jy kan byvoorbeeld nie ʼn kontrak aangaan sonder dat jou gade ook teken nie, hetsy dit by die bank of die versekeraar of die selfoonplek. Dit is nie net jou bates wat saamsmelt nie, maar ook jou laste.

Ek vereenvoudig nou verder: By die ontbinding van die huwelik word dit eers een, voor jou gade aanspraak het op die helfte daarvan. Jy kan natuurlik die ander helfte ook aan hulle bemaak in jou testament.

Die uitdaging kom waar iemand byvoorbeeld eiendom besit (dink tipies ʼn boer), of ʼn sakeonderneming het. Gestel jy besit Maatskappy ABC, en jou vrou sterf, moet die helfte van daai firma na die gesamentlike boedel gaan.

As een gesekwestreer word, word albei, want daar is eintlik net die gesamentlike bates.

Nou: daar is uitsonderings (jy kan bates spesifiek uitsluit, en erfgoed is gewoonlik nie deel van so iets nie). Maar jy hoef nie ʼn regsgeleerde te wees om die uitdagings hierin raak te sien nie.

Argieffoto.

Buite gemeenskap, sonder die aanwas, beteken joune is joune en myne is myne en so sal dit bly (weereens kan jy bemaak wat jy wil in ʼn testament).

Ek illustreer die uitdagings hiermee met ʼn voorbeeld: gestel jy en jou gade is getroud; jy bly tuis en pak toebies en ry kinders rond en jou wederhelf klim die maatskappy se leër na bo, al het jy ʼn graad in ingenieurswese. Dis beter vir die kinders. Jou wederhelf vind later uit hulle verkies hulle sekretaresse bo jou, en skei.

Die huis, die karre, die meubels in hulle naam, wel, dit bly hulle s’n.

Ook hier hoef jy nie ʼn regsgeleerde te wees om te sien wat die probleme is nie.

Buite gemeenskap met die aanwas probeer iewers tussen die voriges te wees. Julle deel in die groei saam met mekaar, maar word ook verskans teen die praktiese uitdagings dat albei kontrakte moet teken soos met binne gemeenskap. En laste bly die individu s’n.

Dis beslis nie perfek nie. Ek gaan nie hier in vreeslike wiskunde ingaan nie, maar dis waarskynlik op balans die regverdigste stelsel.

Een ding wat ek hier moet uitdruklik noem: dis belangrik dat julle vooraf mooi dink hieroor. As een van die partye ʼn bate sou lys in die huweliksvoorwaardekontrak vir iets wat jy bymekaar gemaak het voor die huwelik, sou ek baie sterk voorstel dat die ander party ook iets lys.

Die manier wat die aanwas bereken word kan groot probleme skep sou jy dit nie doen nie, en die party met die kleiner groei in bates benadeel, wat nie in die gees van die aanwasbedeling is nie.

Laaste dinge

Leon-Ben Lamprecht (Foto verskaf)

Daar is nog baie, baie om oor die onderwerp te sê. Ek het nie eens geraak aan gemeenregtelike of religieuse huwelike nie.

Dan maar net dit in afsluiting: My ma sê altyd kommunikasie is een van die heel belangrikste dinge in ʼn huwelik, en dit is beslis só. Dis ook voor ʼn huwelik belangrik. Praat voor die troue met mekaar hieroor en noem julle standpunte.

Probeer ook, sou julle skei, onthou dat jy eens op ʼn tyd lief was vir mekaar.

Julle gaan vir jul later verdriet spaar as julle mooi gaan dink hieroor en nie net emosioneel besluit nie. Ja, jy kan later ʼn kontrak in plek kry, maar dis ʼn baie duurder uitstappie as ʼn HVK voor die tyd.

Dis in elk geval goed om hierdie dinge deur te trap. Dit behoort vir niemand ʼn geheim te wees dat finansies iets is waaroor paartjies nogal kan baklei nie.

Maar, en dis ʼn les wat ons almal daagliks kan onthou, ek inkluis, waar die lig skyn, wyk die duisternis.

Hierdie reeks finansiële rubrieke is moontlik gemaak deur Solidariteit Helpende Hand. Finansiële welstand is vir Solidariteit Helpende Hand net so belangrik soos geestelike en fisiese welstand om holisties na ons gemeenskappe om te sien. Maak gerus ’n bydrae aan Solidariteit Helpende Hand sodat hulle ’n bydrae in die welstand van ons gemeenskappe kan maak. Volg gerus die skakel na hul webblad of gebruik die QR-kode om sommer dadelik ’n bydrae te maak.

(QR-kode verskaf deur Solidariteit Helpende Hand)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.