Gru-plaasmoord in Glen: Buurplase loop deur onder veediefstal

Christo en Christa Morrison. (Foto: Facebook).

Skaapboere wat skaars 12 km vanaf die vermoorde Morrison-egpaar woon, het sowat ʼn maand gelede hul laaste ses skape na die slagpale geneem, want selfs om hul skaapkraal rég langs hul huis op te rig, kon veediewe nie van stryk bring nie.

Freda (Vossie) Vorster (86) sê skaapdiefstal het hulle gedwing om hierdie stap te doen. “Ons het die skaapkamp se heining later rég langs ons huis opgerig, maar dit het nie gehelp nie.” Die nag van daardie diefstal het haar seun wakker geskrik van die ganse se geraas. Sowat 15 tree vanaf die huis het hy ʼn rooi rugsak gevind. “Binne-in was alles wat jy nodig het om ʼn skaap af te slag: twee lang messe en plastieksakke waarin die vleis gepak sou word,” sê sy.

Christo Morrison (76) en sy vrou, Christa (73), se liggame is die afgelope naweek op hul plaas, Rietfontein, naby Glen in die Vrystaat gevind. Christo se liggaam is sowat 300 m vanaf die plaashuis af en Christa se liggaam in ʼn septiese tenk gevind, het sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, gesê. Glen is sowat 25 km vanaf Bloemfontein.

Vorster, wat haar lewe lank op haar plaas woon, het die brutaliteit van die moorde op die Morrison-egpaar, wat sy nie geken het nie, as verskriklik bestempel. “Ek het grootgeword in ʼn tyd wat daar nog nie eens trekkers was nie.”

Sy sê om vandag op ʼn plaas te woon is nie meer maklik nie. Die diefstal van haar en haar kinders se skape het hulle gedwing om die diere te verkoop. “In ons omgewing kan mens glad nie meer met skaap boer nie.”

Sy gaan nou voort met haar gansboerdery, wat sy inspan vir donsduvets en verekussings, asook deesdae meer restourasiewerk, maar ook dié diere word aanhoudend vasgelê. “Ek het in Januarie 60 ganse gehad. Nou is daar net 20 oor, wat ek elke aand toesluit.”

Vorster sê die diewe steel waarskynlik die ganse om te eet. “Hier is nie meer ʼn ystervark in die omgewing nie. Skilpaaie, enige ding wat eetbaar is, word in die nag gesteel.”

Boere wat in dieselfde omgewing as die vermoorde Morrison-egpaar woon, loop gereeld deur onder veediefstal. (Foto ter illustrasie)

Tumi Modutwane (43) wat sedert 2012 in Soutpan langs die Soetdoring-natuurreservaat sowat 64 km wes van Bloemfontein boer, sê hy ondervind af en toe veediefstal, maar die diefstalle kom eintlik deurlopend in die gebied voor.

“Dan vat hulle skape en bokke, dan hoor jy dié boer het diefstal gehad, dan hoor jy hulle het by dié een gesteel.” Modutwane en sy ma het ná sy pa se dood “stadig maar seker” op die plaas aangegaan met die boerdery.

Modutwane sê die veediefstal-eenheid in die omgewing het slegs twee voertuie. “Ons het laas met Senekal [ná die moord op Brendin Horner in 2020] gehoor hulle het twee voertuie gekry, maar as jy nou by Glen [polisiekantoor] gaan vra, sal jy hoor daar is nie voertuie nie.”

Hy sê in Soutpan steel en slag hulle skape op die plek. Verlede jaar is iemand se bees gesteel en die karkas later in die begraafplaas gevind. “Die man het die oggend 05:00 gesien die bees is weg, maar die veediefstaleenheid van Bloemfontein het eers die middag daar aangekom. Jy kom op ʼn punt wat jy nie meer 100 of so lammertjies hét nie, want hulle steel dit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.