Dubbelmoord by Glen: Egpaar het baie gedoen vir ander

Christo en Christa Morrison, die egpaar wat die naweek wreed vermoor is op hul plaas Rietfontein in die Vrystaat. (Foto: Facebook)

Die wrede moorde op Christo Morrison (76) en sy vrou, Christa (73), op hul plaas Rietfontein naby Glen in die Vrystaat, is uit verskeie oorde ten sterkste veroordeel.

Christo is bestempel as ʼn man met ʼn goeie hart wat oor die jare ʼn “hele paar plaasboere uitgehelp” het. “Christo en Christa het baie vir mense gedoen,” het ʼn persoon wat gevra het dat sy naam nie genoem word nie, aan Maroela Media gesê.

Christo was vroeër onder meer ʼn hoofdirekteur by Absa en daarna ook ʼn hoofdirekteur van finansies by Sentraal-Wes.

Die egpaar se plaas is sowat 25 km buite Bloemfontein.

ʼn Bekommerde buurman het Saterdag alarm gemaak toe hy nie die Morrison-egpaar op hul selfone in die hand kon kry nie.

Sers. Mahlomola Kareli, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die polisie het Christo se liggaam sowat 300 meter van die plaashuis aangetref. Christa se liggaam is in ʼn septiese tenk op die plaas gevind. Met die polisie se aankoms op die toneel het die huis se deure oopgestaan. “In die huis was daar bloed op die vloer. Die opstal is geplunder, maar die bejaarde egpaar was nie in die huis nie,” het Kareli gesê.

ʼn Multidissiplinêre aktiveringsplan is daarna in werking gestel en ʼn soektog na die egpaar is deurnag volgehou.

Die egpaar se seun, Melt, is by sy ouers se dorpshuis in Bloemfontein en sy suster, Dia, van die Kaap het reeds geland.

Na wat verneem word, het die Morrisons grond by Petrus Steyn en in die omgewing van Reitz in die Oos-Vrystaat besit.

Kareli sê die egpaar se Toyota Land Cruiser is naby Majwemasweu by Brandfort gevind. Die Morrisons het oop wonde aan hul bolywe gehad en is op die toneel dood verklaar. Gereedskap en elektroniese items is onder meer uit die huis gesteel.

Die Glen-polisie ondersoek aanklagte van moord en huisroof. Niemand is nog in verband met die moorde in hegtenis geneem nie, maar luidens berigte is mense oor die saak ondervra.

Jan van Niekerk, VF Plus-leier in die Vrystaat, sê dié party veroordeel die brutale moord ten sterkste.

“Plaasaanvalle en -moorde neem ʼn ander vorm as huisbraak en roof in stedelike gebiede aan, veral die geweld en onmenslikheid wat daarmee gepaardgaan.”

Van Niekerk sê dit word deur politieke retoriek van die ANC en EFF aangeblaas.

“Die VF Plus beskou die wreedheid van hierdie geval as brutaal en onnodig.”

Hy sê die aanval is een van vele wat wys die regering het nie die politieke wil om hierdie soort misdade te bekamp nie. Veiligheidsnetwerke moet ook versterk word om soortgelyke aanvalle te voorkom. “Die reaksie van die polisie moet van so ʼn aard wees dat dit as afskrikmiddel vir aanvallers dien.”

Van Niekerk sê die VF Plus simpatiseer met die familie van die egpaar, wat nie verdien om hierdie hartseer te beleef nie.

Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, skryf dié soort voorvalle toe aan die ANC se gebrekkige beleid oor polisiëring. (Foto: Anja van der Merwe)

Dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat, het ook sy innige medelye met die Morrison-familie betuig.

“Die voorval is net nog ʼn tragiese gebeurtenis ná ʼn onlangse aanval op Ladybrand,” sê Jankielsohn en skryf die voorvalle terselfdertyd toe aan die ANC se gebrekkige beleid oor polisiëring.

Hy sê Suid-Afrikaners leef daagliks in vrees en die gevaar van diefstal, moord of verkragting is immerteenwoordig.

Enigeen met inligting word versoek om kol. Ben Bolsiek van die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade te kontak by 082 466 8530 of die polisie se StopMisdaad-nommer by 08600 10111. Anonieme wenke kan op die MySAPS-app gegee word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Kokerboom ·

Onbeskryflike hartseer
Kan ons ASB ons vryheid en veiligheid terugkry?!

Bolandse Nooi ·

“Die reaksie van die polisie moet van so ʼn aard wees dat dit as afskrikmiddel vir aanvallers dien.” … VF+ … julle leef in ‘n droomwêreld. Wat dan van die KFC wat pas gekoop is, as die SAPD, só vinnig moet reageer op noodgevalle? Die “mense” sal mos honger ly!!!

Bolandse Nooi ·

@Kokerboom … dit is tyd dat die KOMMANDO-STELSEL terugkom. Dit is al wanneer ons ons vryheid en veiligheid sal terugkry … sedert Mei 2003, is hierdie uiters effektiewe misdaad-beheer stelsels (onder Thabo Mbeki se regering) uitgewerk en uiteindelik afgestel en toe het misdaad, veral op plase, begin toeneem sodat ons vandag sit met sowat 81 mense wat PER DAG vermoor word.

Michael ·

Die politieke partye staan nou gereed by elke toneel vir voorhandligende motiewe maar wat doen hulle om die probleem te stop ?

Republikein in die Wes Kaap ·

@BNooi, die kommandos was destyds deel van die SAW. Ek sal ongemaklik wees om nou te dien in die kommandos wat deel is van die SANDF. Voor jy weet stuur hulle jou na die DRK of Gaza om saam met Hamas te veg en Israelis uit te jaag. Weier jy, gooi hulle jou in die tronk.

Leona ·

My innige simpatie en en liefde aan al die familie en vriende. Sjoe, hulle straf gaan te genadig wees.

Danie ·

Die ANC moet verantwoordelikheid aanvaar vir alle plaasmoorde.

Frank ·

Nee, Republikein, die plaaslike kommandos was NIE deel van die SAW nie

Jan Jacobs ·

Frank hulle het onder die saw se struktuur geval. Uniforms wapens en so aan.

Danie ·

Ek dink nie die meeste mense verstaan hoe dit werk nie: Die bose goed wat hierdie, en ander mense vermoor, doen dit omdat dit vir hulle lekker is, omdat hulle sadistiese genot daaruit put. Omdat hulle daarvan hou om ander se sien ly tot die dood toe.

Solank as wat mense bogenoemde ignoreer gaan dit nie ophou gebeur nie.

SjN ·

Weereens sagte teikens, klomp lafaards, sterkte aan hul geliefdes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.