Akani trek sy stralerskoene nader

Akani Simbine is vuurwarm op die atletiekbaan. (Argieffoto: Tiziana Fabi/AFP.)

Alles is besig om mooi in plek te val vir Akani Simbine in die aanloop tot die Olimpiese Spele in Parys.

Die Suid-Afrikaanse naelloper het Saterdag tydens die Adidas Atlanta City Games in die VSA ongetwyfeld sy stralerskoene aangehad toe hy die vinnigste 100 m-tyd in 2024 behaal het.

Simbine het met sy tyd van 9.90 s hakskene vir gerekende teenstanders soos Ferdinand Omanyala (10.00 s) en Kendal Williams (10.05 s) gewys.

Dit is die 30-jarige blits se vinnigste tyd vanjaar en hy het dit boonop met ʼn teenwind van -0.4m/s vermag.

Simbine het verlede maand gewys dat die Olimpiese medaljevuur hoog vir hom brand toe hy Christian Coleman op die Diamantliga-byeenkoms in China geklop het.

“Hierdie vertoning gee my baie selfvertroue in die aanloop tot die Olimpiese Spele. Dit gee ʼn mens ongetwyfeld ʼn momentuminspuiting en ek hoop dat ek hierop kan voortbou namate die seisoen vorder,” het die Suid-Afrikaanse 100 m-kampioen ná daardie wedloop gesê.

Die blitslopie in Atlanta was die derde vinnigste tyd van sy loopbaan. Hy het al voorheen die 100 m in tye van 9.84 s en 9.89 s afgeblits.

Maar toe het die wind lekker saamgespeel. Nou was dit pure wilskrag wat die Suid-Afrikaanse kampioen aangespoor het.

  • Die Olimpiese Spele vind van 26 Julie tot 11 Augustus in Parys, Frankryk, plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.