Plum meen Sharks slaag karaktertoets

Die Sharks sal op 24 Mei in die eindstryd van die Europese Uitdaagbeker teen Gloucester speel. (Foto: X/Springbokke)

Die Sharks sal op 24 Mei teen Gloucester in die eindstryd van die Europese Uitdaagbeker te staan kom.

Die wedstryd sal op die veld van Tottenham Hotspur in Londen beslis word.

Volgens John Plumtree het sy span ʼn groot karaktertoets in die halfeindstryd van die toernooi teen Clermont op die Twickenham Stoop geslaag.

Die Durbaniete het die Franse klub uiteindelik met 32–31 geklop nadat ʼn rustydagterstand van 28–18 hulle in die gesig gestaar het.

Veral Clermont se Joris Jurand was ʼn doring in die Sharks se vlees en hy het twee drieë in die kragmeting gedruk.

“Ek het vir die ouens rustyd gesê dat ons met net tien punte agter is. Ek weet die telbord het 28–18 gewys, maar ek het dit probeer tuisbring dat dit eintlik net 10–0 is,” het die Sharks-afrigter gesê.

“Ek het eerlikwaar gevoel as ons ʼn bietjie meer van die bal kon sien, sou ons hulle onder druk plaas en vir onsself ʼn geleentheid gee om die wedstryd te beklink.”

Nou ja, die Sharks se sterre het ná rustyd begin saamgesels.

“Ons het doodeenvoudig geweier om handdoek in te gooi. Dit is die pad wat ek saam met hierdie span wil stap. Ons mag dalk ʼn wedstryd verloor, maar dit is nooit oukei om net op te gee nie.”

Siya Masuku het ongetwyfeld sy skopskoene aangehad en hy was in die kol met twee doelskoppe en ses strafskoppe teen Clermont.

“Hy is ʼn baie nederige speler wat nou op die groot verhoog geskitter het,” het Plumtree bygevoeg.

“Ek voorspel dat hy nog beter kan word soos wat hy aan sy vaardighede werk. Sy beste lê nog voor hom.”

Die Sharks speel volgende teen Benetton (11 Mei) en Cardiff (18 Mei) vóór die groot eindstryd.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.