Swiatek tem ‘onverskrokke’ Sabalenka

Iga Swiatek is die wenner van die Madrid-ope. (Foto: X/Madrid-ope)

Wie skrik vir ʼn wedstrydpunt of twee teen jou naam? Definitief nie Iga Swiatek nie.

Ná meer as drie uur se spel in die Spaanse hoofstad het die Poolse wêreldnommereenspeler staande teen Aryna Sabalenka in die eindstryd van die Madrid-ope gebly.

Die telling was 7-5, 4-6 en 7-6 in haar guns en sy moes ʼn paar keer met ʼn behendige swaai van die raket sake beredder nadat die titel binne Sabalenka se bereik was.

In die proses het Swiatek sommer soete wraak teen die Belarussiese speler geneem: Sabalenka het verlede jaar in die Madrid-eindstryd met die louere weggestap.

Met haar Madrid-sukses kon die jong Poolse ster die 20ste titel van haar loopbaan vier.

“Ek is baie dankbaar om die silwerware hier omhoog te hou. Dit maak nie baie saak of ek al vantevore hier gewen het of nie; ek probeer om elke liewe toernooi te wen waarin ek speel,” het die 22-jarige speler gesê.

Volgens Swiatek het Sabalenka se onverskrokke benadering haar onkant betrap.

“Ek dink vir die grootste gedeelte van die wedstryd het Aryna met oorgawe gespeel en sy het ʼn paar dapper besluite op die baan geneem. Teen die einde van die kragmeting het ek my bes gedoen om ook onverskrokke spel op te dis.

“Dit was ʼn eindstryd wat al twee spelers eintlik verdien het om te wen. Een of twee punte in die valbylpot was uiteindelik die verskil tussen wen en verloor.”

In later vandag se manseindstryd speel Felix Auger-Aliassime teen Andrey Rublev. Die wedstryd begin om 18:30 en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.