Kerkgebou op Christus se geboorteplek nou wêrelderfenis

Geboortekerk – EPA

Die kerkgebou wat in die 6de eeu gebou is op die plek waar Christus volgens oorlewering gebore is, is in St Petersburg deur Unesco tot wêrelderfenis verklaar.

Die kerk, in Bethlehem op die Palestynse Wesoewer, het verlede jaar 2 miljoen toeriste getrek. Die tradisionele pelgrimsroete is ook tot wêrelderfenis verklaar. Die Palestynse owerheid, wat verlede jaar lid van Unesco geword het, het die status op ‘n dringende grondslag aangevra en aangevoer die muur wat Israel bou, bedreig talle argeologiese skatte. Israel het Unesco se stap as politiekery afgemaak.

Die proses het amper-amper skipbreuk gelei toe die Palestynse owerheid ‘n ander aansoek gekaap het. Bewaringskundiges het aansoek gedoen dat die klein Palestynse gemeenskappie, Battir, wat suid van Jerusalem en naby Bethlehem lê, as wêrelderfenisgebied verklaar word. Die agt uitgebreide gesinne van dié gemeenskap maak van ‘n besproeiingstelsel gebruik wat uit die Romeinse era dateer, om hul antieke terrasse nat te lei.

Battir se antieke terrasse: Abir Sultan, Europese persfoto-agentskap

Battir lê teenaan die ou spoorlyn uit die Ottomaanse tyd wat Jerusalem en Jaffa verbind het, en wat min of meer op die grens tussen Israel en die Wesoewer loop. Bewaringskundiges meen die veiligheidsmuur wat Israel op sy grens met die Palestyne oprig, sal die argeologiese waarde van die gebied skend.

Battir se aansoek het egter weens interne Palestynse twiste skeefgeloop, toe die Palestynse owerheid die proses probeer kaap het. Toe dit blyk dat die Battir-aansoek te laat vir die St. Petersburg-vergadering ingedien is, het die Palestynse owerheid dit op ‘n grondslag van dringendheid probeer deurvoer, maar hul saak vir die Geboortekerk probeer laai deur Battir se rede “oor te neem” – dat die kerk deur die Israelse muur bedreig word. Israel is nie met hierdie “rede” beïndruk nie.

Die kerk word gesamentlik deur die Rooms-Katolieke Kerk, die Grieks-Ordokse en die Armeens-Apostoliese Kerk beheer, wat elk ‘n eie vleuel besit.

Klik hier en hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.