Storm eis talle lewens in Europa

Oorstromings Maandag in York, Engeland,. (Foto: Danny Lawson, AP)

Storm Ciara het vandeesweek verskeie lewens in groot dele van Europa geëis. Nou dreig Storm Dennis om in die komende dae nóg verwoesting te saai.

Dié jongste storm sal na verwagting winde van meer as 60 km per uur en swaar reën na die weste van Europa bring. Hoewel daar in dié stadium verwag word dat Storm Dennis nié so ernstig soos Storm Ciara sal wees nie, word daar voorspel dat die storm wel ontwrigting gaan veroorsaak.

ʼn Windwaarskuwing is reeds vir Saterdag vir ʼn groot deel van Engeland en Wallis uitgereik en verdere waarskuwings kan moontlik volg.

Stormagtige golewe Sondag in Newhaven aan die suidkus van Engeland. (Foto: Matt Dunham, AP)

Dít volg nadat Storm Ciara sedert die naweek minstens sewe lewens geëis het. Dié storm blyk aan’t opklaar te wees.

ʼn Man in sy 60’s is Dinsdag dood nadat ʼn boomtak op hom geval het toe hy met honde in Liverpool in die noordweste van Engeland gaan stap het.

ʼn 58-jarige man is Sondag in ʼn soortgelyke voorval dood toe ʼn boom op sy motor in Hampshire geval het.

‘n Boom het Maandag op ‘n motor in Hamburg, Duitsland geval. (Foto: Daniel Bockwoldt, AP)

Sterk winde van sowat 100 km per uur woed ook sedert Sondagaand in Pole met minstens twee mense wat reeds aan die hand van Storm Ciara in dié land omgekom het. Volgens die Poolse meteorologiese diens sal die storm waarskynlik tot Woensdag hiér woed.

ʼn Tiener (15) en haar ma (52) is Maandag in die Suid-Poolse bergoord Bukowina Tatrzanska dood, toe ʼn sterk wind die dak van ʼn winkel afgeruk en ma en dogter getref het. Minstens twee omstanders is in die voorval beseer. Een is in ʼn kritieke toestand.

Storm Ciara, bekend as Storm Sabine onder Duitsers, het ook verskeie lewens in Duitsland, Swede en Slowenië geëis. Talle huishoudings is sonder elektrisiteit gelaat met verskeie vlugte en treindienste in lande soos Hongarye opgeskort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.