Bokke begin hul tuistoetse op geskiedkundige Nuweland

Nuweland-stadion (Argieffoto) Foto: whatsonincapetown

Die Springbokke se bepalings vir hul internasionale tuiswedstryde is bekendgemaak en hul seisoen skop in Julie op die geskiedkundige Nuweland af wanneer hulle teen Skotland speel.

Die Bokke sal altesaam ses tuistoetse speel, waaronder kragmetings teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië in die Rugbykampioenskap ook op die kalender is.

Nuweland – die oudste toetsvenue in die Suidelike Halfrond – sal sy laaste internasionale toets huisves, terwyl die Mbombela-stadion in Nelspruit vir die eerste keer in sy geskiedenis gasheer vir die All Blacks sal speel.

Die Mbombela-kragmeting sal die eerste Springbok-All Blacks-kragmeting buite Pretoria, Johannesburg, Durban en Kaapstad wees sedert die Bloemfontein-toets van 2009.

So van Bloemfontein gepraat; die Vrystaatse hoofstad is weer eens oor die hoof gesien om die Groen en Goud te sien.

Bloemfontein het weliswaar gasheer gespeel toe Suid-Afrika Engeland met 23 – 12 op 16 Junie 2018 getroef het, maar hulle is met die onlangse Beker-toer – toe Siya Kolisi en kie met die Webb Ellis-trofee gespog het – oorgeslaan.

  • Die bepalings:

4 Julie: Suid-Afrika teen Skotland, DHL Nuweland in Kaapstad

11 Julie: Suid-Afrika teen Skotland, Jonsson Kingspark, Durban

18 Julie: Suid-Afrika teen Georgië, Nelson Mandelabaai-stadion, Port Elizabeth

8 Augustus: Suid-Afrika teen Argentinië, Emirates Airline-park, Johannesburg

19 September: Suid-Afrika teen Australië, Loftus Versfeld, Pretoria

26 September: Suid-Afrika teen Nieu-Seeland, Mbombela-stadion, Nelspruit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.