Nuuskommentaar: Koppe wat rol

Uiteindelik!

‘n Dag voor die minister van finansies skadebeheer in sy sogenaamde klein begroting moet toepas om die werklikhede van ‘n verkiesingsbegroting en die harde werklikhede van ‘n wêreldekonomie wat noustrop trek met mekaar te versoen, het die koppe van twee ministers gerol, en nog een wat van spandabelrigheid beskuldig word is uit sy portefeulje geskuif.

Dit het ook gekom op dieselfde dag as wat die minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson onder skoot gekom het oor hotelverblyf van R1,6 miljoen. Boonop gaan die wapenskandaal nou deur ‘n kommissie bestaande uit gerespekteerde regters ondersoek word. Al het sake nou as pakket op die tafel beland, het elke saak ‘n element van uniekheid.

Terwyl selfs Sicelo Shiceka se grootste vriende – of dan vriendinne – sal moet toegee dat dié afgedankte minister op geen manier beredder kon word nie, is daar wel ‘n ligte angel in die afdanking van Gwen Mahlangu-Nkabinde. In die geval van Shiceka is die enigste uitstaande vrae hoekom dit so lank geneem het om die trekpas te kry, en hoekom geen aanduidings verskaf is oor maatreëls om vermorste staatsgeld te herwin nie. Volgens mediaberigte uit sy termyn het hy min gedoen om in sy termyn ‘n suksesvolle minister te wees. Hy het wel ‘n amptelike doelwit gestel dat alle munisipaliteite binne ‘n paar jaar skoon oudits by die Ouditeur-generaal verwerf, maar bitter min gedoen om doeltreffende programme in te stel om by hierdie doelwit te kom. Sy koppestamp met die belastingbetalersvereniging was onverkwiklik. Hy het met regsoptrede gedreig, en dan self nie vir afsprake opgedaag nie en die flouste verskonings denkbaar opgedis oor hoekom hy ander afsprake moes nakom, maar nie redes aangevoer hoekom sy gashere sonder taal of tyding vir sy skitter in afwesigheid gelaat is nie. Intussen het die uitstaande munisipale rekening op sy huis in Midrand na tienduisende rande opgeloop, en toe hy hieroor gekonfronteer is, was sy verweer dat hy wag dat die munisipaliteit antwoorde oor chaotiese rekenings verskaf. Die rekenings was in chaos, maar sy verweer het darem baie geklink na dié van die NBO, wat hy nie as rede wou aanvaar nie. Boonop het sy privaat lewe volgens die berigte op ‘n volslae gebrek aan moraliteit gedui.

Met Mahlangu-Nkabinde gaan ‘n belangrike brokkie inligting dalk nou onbeantwoord deur die krakies val. Toe reuse openbare uitgawes onlangs vir opknappings aan onder meer presidentswonings aangekondig is, het ‘n bedrag van R170 vir die opknapping aan die kantoor van die president die oog gevang. Mahlangu-Nkabinde het egter in reaksie gesê sy het in Maart dié buitensporige bedrag opgemerk, en die uitgawe hangende ‘n meer realistiese beraming nie goedgekeur nie. Sy het destyds ook ‘n openbare aankondiging hieroor gedoen. Voor sy nou daarop gewys het, het sy by haar departement vasgestel dat hierdie uitgawe steeds nie goedgekeur is nie. Het hierdie ontydige wakkerskrikkery nou die finale spyker in die politieke doodskis geslaan?

Die ironie is dat sy juis minister van Openbare Werke geword het om haar voorganger te vervang wat ook ‘n stokkie voor geskorste Bheki Cele se kantoorhuurplanne gesteek het. Hieroor het sy ‘n verdoemende verslag van die Openbare Beskermer op die lyf geloop, hoewel sy aangevoer het dat haar voorganger reeds die transaksies goedgekeur het.
In die proses het sy die indruk geskep dat sy nie ‘n behoorlike greep op die werklikheid het nie. Uit onlangse verslae van die OG het dit geblyk dat die Departement van Openbare Werke al lank deur tenderpreneurs benut is om honderde miljoene rande te tap. Of anders gestel: Dit het as kanaal gedien waardeur belastingbetalersgeld in wese gesteel is. Dit moet dringend reggestel word om dit vir die Minister van Finansies moontlik te maak om doeltreffend te begroot – en dat die staat waarde kry op uitgawes. Mahlangu-Nkabinde boesem eenvoudig nie die vertroue in dat sy genoegsaam ‘n greep op die werklikheid het nie.

Sedert die presidentskap van Nelson Mandela het daar ‘n gebrekkige ingesteldheid gegeld om swak en onderpresterende ministers tot verantwoording te roep. Groot skade is onder meer aan die onderwys, binnelandse sake en gesondheid aangerig. Dat juis die weifelende Zuma nou al ‘n tweede kabinetskommeling aangekondig het waartydens ook ‘n paar swak ministers se koppe gerol het, spreek van ‘n tikkie ironie, maar steeds van heeltemal te min heeltemal te laat.
Oor die skorsing van Cele kan bloot gesê word dat die land duime sal vashou dat nou raakgevat sal word met die aanstelling van ‘n polisiehoof wat die polisiediens vooruit sal neem. Kaderontplooiing werk nie. Vir oulaas moes die publiek in ongeloof aanskou hoe die polisiediens in die parlement klei trap en die mees eenvoudige vrae oor onder meer geldsake nie kon beantwoord nie.

Volgens internasionale norme sou die kwessie nooit tot hierdie punt ontwikkel het nie – die betrokke ministers sou lank reeds self hul bedankings aangebied en geloop het. Hier is dit bykans ondenkbaar dat ‘n minister van Vervoer sou bedank as simboliese gebaar na ‘n lugramp waarin hy immers geen realistiese aandeel kon hê nie.

Tereg vra die TLU-SA dat ook nou sommer van Julius Malema ontslae geraak word. Al hoe meer ekonome wys daarop dat Malema se praatjies en optrede die land se beeld skade berokken en potensiële beleggers afskrik. So verdiep die armoedekrisis, ironies die segment wie se steun hy op groot skaal gemobiliseer kry.

Dit is jammer dat die Kommissie van Ondersoek na die wapenskandaal se bevindings te laat voltooi sal wees om ‘n behoorlike impak op die ANC se volgende leierskapsverkiesing te hê. Die ANC se eeufeesjaar sal dus ook nie sommer deur goggas wat uit die gate kruip ontsier word nie. Dit sal egter moeilik wees om in minder as twee jaar so ‘n omvangryke ondersoek af te handel – selfs die Valke het formeel oor die omvang die handdoek ingegooi.

Dit is egter nodig dat hierdie donker wolk wat nou al so lank oor die land se kop hang, eens en vir altyd verdryf word. Solank hierdie saak soos die spookskip, die Vlieënde Hollander, as korrupsie-vlagskip bly vaar, sal dit byna onmoontlik wees om die klimaat genoegsaam teen korrupsie te draai dat die probleem doeltreffend aangespreek word.
Voorlopig geld die persepsie steeds: Die ANC het nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar