Boek: Briewe tussen maestro’s verruim SA musiekgeskiedenis

Stephanus Muller en Stephanie Vos

Sulke vriende is skaars. Die briewe van Anton Hartman en Arnold van Wyk bevat die geannoteerde briefkorrespondensie tussen twee seminale figure in die Suid-Afrikaanse Westerse kunsmusiek. Dit is die eerste keer dat briefwisseling binne die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenisskrywing gepubliseer word en is ’n publikasie wat ’n noemenswaardige bydrae tot die dissipline van Suid-Afrikaanse musiekhistoriografie, asook tot Afrikaner- en apartheidshistoriografie, sal maak. Dit toon die belangrikheid aan van verdere navorsing oor die geïnstitusionaliseerde posisie van wit kunsmusiek in Suid-Afrika. Benewens die briewe, word belangrike foto’s, afskrifte van faksimilees, telegramme en ander vorme van korrespondensie geplaas en groot klem gelê op die visuele voorkoms van die boek.

Oor die skrywers

Stephanus Muller is professor in musiek en direkteur van die Africa Open Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie (AOI) aan die Stellenbosch Universiteit. Nagmusiek, sy drievolume werk oor Arnold van Wyk, is bekroon met die Eugène Marais-prys, Jan Rabie Rapport-prys, UJ-prys vir debuutfiksie en die kykNET/Rapport-prys vir niefiksie. Muller se jongste boek The Journey to the South (SunMedia, 2019), met illustrasies deur die kunstenaar Manfred Zylla, handel oor sensuur en transformasie aan Suid-Afrikaanse universiteite. Hy publiseer die aanlyn tydskrif herri en is die mederedakteur van South African Music Studies (SAMUS).

Stephanie Vos is ’n postdoktorale navorsingsgenoot by die AOI. Vos is die dryfkrag agter die Interdissiplinêre Forum vir Populêre Musiek (IFPOP), ’n projek wat kritiese perspektiewe op populêre musiek vanuit ’n Suid-Afrikaanse hoekpunt ontwikkel. Haar navorsingsbelangstellings is divers: van vervreemding in Suid-Afrikaanse opera met ’n fokus op John Joubert, uitgewekenheid in Suid-Afrikaanse jazz in die musiek van Abdullah Ibrahim, tot politiek en ritueel in Zim Ngqawana se Exhibition of Vandalizim. Vos se skryfwerk verskyn in South African Music Studies Journal (SAMUS), The Conversation Africa, LitNet en Playing for Keeps wat deur Duke University Press uitgegee is.

Prys: R395,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die e-boek by Graffiti Boeke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.