Boeke: ‘Kuifie in Tibet’, ‘Die juwele van Bianca Castafiore’

Hergé

Die avonture van Kuifie (Frans: Les Aventures de Tintin et Milou) is een van die gewildste strokiesverhale wat in die twintigste eeu verskyn het en is vandag steeds gewild. Die boeke word in ongeveer 60 tale vertaal. Die hoofkarakter van die verhale is die jong Belgiese verslaggewer Kuifie. Saam met sy hond, Spokie, beleef hy verskeie avonture.

Die eerste verhaal van Kuifie het op 10 Januarie 1929 verskyn as ’n bylae tot die Franstalige Brusselse koerant Le Vingtième Siècle. Hergé het in die tydperk tussen 1929 en 1976 sowat 23 strokiesverhale (die 24ste verhaal bly onvoltooi) geskryf en geteken.

Kuifie in Tibet
In Kuifie in Tibet stort die vliegtuig waarop Kuifie se vriend Tjang is in die Himalajas neer. Daar is nie veel hoop dat enigiemand die ongeluk oorleef het nie. Kuifie droom egter dat Tjang steeds lewe en hy, Spokie en kaptein Sardijn besluit om Tjang te gaan soek. Aanvanklik sukkel hulle om gidse te kry om die tog saam met hulle aan te pak: Dit is ’n gevaarlike sending en die plaaslike mense glo dat die jeti in die omtrek is. Maar die verskriklike sneeuman bestaan mos nie werklik nie …

Die juwele van Bianca Castafiore
In Die juwele van Bianca Castafiore neem Sigeuners hulle intrek naby Muizenmeul. Die fortuinverteller in hulle midde voorspel dat ’n mooi, groot vrou met pragtige juwele op pad is. Kort daarna daag die beroemde operasangeres Bianca Castafiore en haar gevolg by die kasteel op. Joernaliste oorval Muizenmeul en ’n televisieonderhoud met Castafiore word selfs daar geskiet. Toe haar waardevolle smarag verdwyn, word die Sigeuners onmiddellik van dié diefstal verdink. Maar Kuifie glo vas hulle is onskuldig en ondersoek die saak.

Oor die skrywer

Die Belgiese skrywer en illustreerder Georges Prosper Remi oftewel Hergé (1907-1983) staan bekend as die vader van die hedendaagse strokiesprent. Vir sy latere werke doen hy uitgebreide navorsing om die verhale so outentiek moontlik te maak.

Oor die vertaler

Sonya van Schalkwyk-Barrois woon in Parys, Frankryk. Sy het op Stellenbosch studeer en het ’n meestersgraad in Frans. Sy is onder meer ook die vertaler van die Asterix-boeke.

Prys: R130,00*
*Prys onderworpe aan verandering
Koop die Die avonture van Kuifie-reeks by Protea Boekhuis

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.