Luister: Tagtigs-musiek die agtergrond van Zirk se jongste roman

Zirk van den Berg (Foto: Brenda Veldtman)

“Daar was ʼn hele klompie jare wat Obermania die volk beetgepak het. Hy was meer upbeat as Koos du Plessis, meer Afrikaans as David Kramer, meer emosioneel as Anton Goosen. Cooler as Coenie de Villiers ook, maar daarop kan selfs ek in my beter oomblikke aanspraak maak. (bl. 72)”

Ober, oftewel George Oberholzer, is die musieksensasie waarmee lesers in Zirk Van den Berg se jongste roman, Die onsigbare pou, kennis maak. Dié verhaal word geskets teen die agtergrond van die Afrikaanse musiektoneel in die tagtigs en dit word vertel uit die oogpunt van Sybrand de Waal, Ober se jarelange vriend en agent.

In die woorde van Sybrand, oftewel Sybie, het Ober se gewildheid selfs werklike musikante soos Kramer en De Villiers sʼn oortref. Wanneer ʼn mens vir Van den Berg hieroor pols, verklap hy dat sy jongste roman juis te danke is aan mense soos Kramer, André le Roux en Kerneels Breytenbach wat waardevolle insette gelewer het.

“Die boek was baie naby aan klaar geskryf toe dit my eendag tref dat my Ober-karakter se musiekloopbaan baie ooreenstem met die tyd waarin Kramer ook gewild was.

“Toe dink ek daaraan dat hy waarskynlik my vrae sal kan beantwoord oor goed soos waar hulle opgetree en hoe die opnames gewerk het,” sê Van den Berg.

Hy het vir Kramer ʼn e-pos gestuur en groot was Van den Berg se verbasing toe ʼn groot gros inligting van Kramer se kant af kom.

“Dit was baie meer as wat ʼn mens van ʼn vreemdeling kan verwag om te doen, en boonop groot hulp vir die boek. Dit het my daardie vertroue gegee dat dit wat ek in Die onsigbare pou skryf, eg is en werklik so gebeur het.”

Van den Berg vra aan die einde van sy boek om verskoning vir ʼn paar bekendes wat hy in sy roman by die naam noem. Hy skryf:

“Ek het elemente uit diverse mense se lewens aan die boek-karakters toegedig en ʼn paar bekendes by die naam genoem. Vergeef tog maar. (bl. 222)”

Oor De Villiers deel Van den Berg ʼn interessante staaltjie.

“Die naarste ding wat ek sê is die verwysing na Coenie wat dan nou nie cool is nie. Ek ken nie vir Coenie nie, maar ek weet hy ken vir Deon Meyer en ek ken vir Deon. So het ek Coenie se kontakbesonderhede gekry en vir hom ʼn e-pos gestuur waarin ek die stuk aanhaal.

“Ek het vir hom gesê ek wil dit in my boek skryf en gevra of hy gaan omgee. Natuurlik het ek ook vir hom vir verduidelik dat ek wat Zirk is, sekerlik die uncoolste mens nog is. Nou ja, Coenie het teruggekom na my toe en gesê dis doodreg ek kan maar voortgaan.”

Van den Berg, skrywer van Ek wens, ek wens wat in 2020 met die WA Hofmeyr-prys, asook kykNET-Rapportpryse in die fiksie- en film-kategorie bekroon is, sê ook in die onderhoud waarom dat die boek se kleurvolle omslag na sy mening treffend is, en hy vertel hoe die speellyste op Spotify vorm aangeneem het.

Van Morrison se “Spanish Rose”, Harry Nilsson se “Don’t forget me” en Creedance Clearwater Revival se “Wrote a song for everyone” is enkele van die liedjies op Van den Berg se Spotify-speellys met die titel “Ober se mixtape”.

Hy het gedurende die skryfproses twee speellyste op Spotify geskep: Die een lys bevat musiek waarna Ober sou luister en die ander een, getiteld “Die Onsigbare Pou musiek”, is ʼn versameling met liedjies wat in die boek genoem word.

“Vir sewe of agt jaar kon ek hierdie storie nie laat werk nie, en toe ek die musiek bybring toe werk dit. Dit was ook vir my ʼn lekker manier om te skryf oor musiek waarvan ek hou.

“Ek het absoluut geen musiektalent nie. Trouens, ek is twee keer uit die skool se koor gegooi omdat ek nie kan sing nie, al wou ek hoe graag,” vertel hy.

Hoewel hy in hierdie verhaal uiting gee aan sy waardering vir musiek, is dit nie die sentrale tema nie. “Die musiek is vir my die agtergrond van die storie; dit is nie waaroor die storie gaan nie.”

  • Zirk van den Berg se Die onsigbare pou het pas by NB-Uitgewers verskyn. Klik hier om die boek aan te skaf.
  • Luister boaan die artikel na die volledige onderhoud met Zirk van den Berg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.