Lesersbrief: Om te staan of val vir waarin jy glo

Frank Coetzee skryf:

(Foto: Mark Paton/Unsplash)

As iemand wat 100% doof is, is ek uitgesluit van ʼn magdom inligting wat basies moeiteloos opgeneem kan word deur TV, die radio, vriende en familie deur te kan luister. Maar wanneer dit nodig is, het ek nog nooit gehuiwer om te staan of val vir waarin ek glo nie.

Wanneer ek iets wil weet, lees ek op en gebruik daardie kennis om te doen wat gedoen moet word tot ek bereik het wat ek wou bereik. Tog is ek telkens verbaas oor die gebrek aan self dink, self doen en staan of val waarin jy glo by horende mense.

By ABSA het ek baie keer in onderonsies met die hele bestuurspan beland, van senior tot senior tot die hele bestuurspan rondom my tafel stry en redeneer en ek verloor. Maar elke keer was ek wel reg bewys, sodanig dat selfs hoofkantoor ons kom besoek het en erken het dat hulle voorskrifte verkeerd was.

Miljoene rande se rente was per dag betrokke met die kontantbestuurberekenings en ek het geglo dat ondersoek ingestel moet word na die baie spesifieke hoofkantoor-instruksies daaroor. Teen daardie tyd het ek al agtergekom dat ek die voordeel het dat ek direk uit die bankhandleidings geleer het – terwyl feitlik almal op “hoor en leer by ander” staatgemaak het waar, as byvoorbeeld die bestuurder ʼn verkeerde stelling maak, die res dit nie sal bevraagteken nie en dit aanvaar as korrek sonder om self te kyk en te dink.

Momentum Life het my gedagvaar vir R1 000 000 nadat ek hulle regsafdeling aangevat het. Ek het al swaarde gekruis met advokate, groot besighede soos banke en elke keer gewen. Ek glo ook ek was indirek verantwoordelik vir die vou van Unifer nadat ek selfs tot direksievlak gegaan het oor bedrog wat op ʼn interne sindikaat dui.

Ek het al klagtes by die provinsiale direktorate teen polisiebevelvoerders oopgemaak wat vinnig en doeltreffend ondersoek en afgehandel is – sowel as teen ʼn landdros wat gedink het hy kan regulasies en dinge ignoreer of draai soos dit hom pas.

My punt met hierdie skrywe is – as ek as ʼn gehoorgestremde kan opstaan vir waarin ek glo en ʼn verskil maak, hoeveel meer kan ʼn perfek horende persoon nie vermag met dieselfde geloof in hom/ haarself en die ruggraat en bereidwilligheid om te staan of val daarvoor nie?

As jy nie stem nie omdat jou vriende nie gaan stem nie, beteken dit jy kan nie onafhanklik vir jouself dink nie en sal ook in die dam spring as hulle dit doen? As jy orals hoor van swak polisiëring of ander dinge, aanvaar jy dit maar gelate en sonder slag of stoot of doen jy iets daaraan?

Op die ou end is die toekoms van ons kinders op net een ding gegrond en dit is ons vermoë of gebrek daaraan om saam te staan of val vir waarin ons glo. Elke enkele stem, daad en verandering aan gesindheid wat ʼn rimpeleffek ten goede in plaas van slegter kan meebring.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.