Die reg om verkeerd te wees

Ek is onlangs deur die Parlementêre Portefeuljekomitee vir Water en Omgewingsake genooi om ‘n mondelingse voorlegging te doen oor die Suid-Afrikaanse Weerdiens Wysigingswetsontwerp.

Die Portefeuljekomitee het in die ou Nasionale Raadsaal, met sy groen leerbanke en donker houtpanele vergader. Vir 84 jaar was hierdie lokaal die bewaarplek van politieke soewereiniteit. Die politici wat op hierdie banke gesit het kon, en het, enige wetgewing aangeneem wat hulle wou. Daar was geen konsultasie met die miljoene Suid-Afrikaners wie se lewens hulle aangetas het nie en daar was geen appèl teen die strukture wat hulle opgelê het nie.

Nou is die groenleer-lessenaar waarop ordedokumente voorheen gestapel was, oortrek met – ietwat oneerbiedig, maar baie demokraties – sellofaan-verpakte toebroodjieborde en plastiekbottels met vrugtesap.

Soewereiniteit was nie meer in hierdie saal gesetel nie, of selfs nie in die nuwe Nasionale Raad langsaan nie. Dit was nou gesetel in die verslete boekie wat ek in my sak gedra het – die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika. Die publiek is nie meer uitgesluit van die politieke proses nie. Inteendeel, die Parlement word deur die Grondwet verplig om die publiek deel van die wetgewende proses te maak. Ek was daar omdat, volgens ons mening, die wetgewing wat deur die komitee oorweeg word, versuim om aan belangrike vereistes in my boekie te voldoen.

In die besonder, maak die wetsontwerp voorsiening vir swaar strawwe, tronkstraf van tot vyf jaar of ‘n boete van tot R5 miljoen, vir iemand wat (a) ‘n gevaarlike weersomstandigheids- of lugbesoedelingverwante waarskuwing uitreik sonder die nodige geskrewe toestemming van die Weerdiens; (b) vals of misleidende inligting oor die Weerdiens verskaf; of (c) wederregtelik, met opset of nalatig, enige optrede onderneem of versuim om op te tree, wat die Weerdiens nadelig of moontlik nadelig kan aantas.

Teen die tyd dat ek my mondelingse voorlegging moes doen, het die regering reeds toegegee dat die subartikel wat ander verbied om waarskuwings oor gevaarlike weersomstandighede uit te reik, herskryf moes word. Die oorweging was nie om bona fide waarskuwings te verhoed nie maar om moontlike skadelike en kwaadwillige gekskeerdery te bekamp.

Ons was egter steeds besorg oor die subartikels wat die verspreiding van vals of misleidende inligting en optrede wat die SA Weerdiens nadelig mag aantas, verbied. Die voorsitter, Johnny de Lange, was uit die veld geslaan. Die FW de Klerk Stigting was die enigste organisasie wat kapsie teen hierdie artikels gemaak het! Wat, het hy skepties gevra, het ons teen maatreëls wat vals en misleidende inligting verbied?

Ek het geantwoord dat wat vals of misleidend is, dikwels afhang van persoonIike sienings. Ek het genoem dat, indien dieselfde bepaling op die Kantoor van die President van toepassing was, dit politieke debat sou kortwiek en ‘n katastrofiese uitwerking op ons grondwetlike demokrasie sou hê.

Daar is bykans geen nuusberig of politieke kommentaar wat nie êrens ‘n stelling bevat wat die regering moontlik as vals of misleidend mag beskou nie. Die kern van politieke debat is dikwels om te bepaal wat vals of waar is. Byvoorbeeld, die regering dink sonder twyfel dat dit vir kritici vals en misleidend is om die stelling te maak dat die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting ten doel het om die publiek te verhoed om oor korrupsie ingelig te word.

Kan mens jou die klemmende uitwerking op redakteurs en kommentators voorstel as hulle sou voel dat enige stellings in hul artikels wat moontlik deur die regering as vals of misleidend beskou mag word, verwyder moet word anders mag hulle dalk die risiko van ‘n vonnis van vyfjaar-tronkstraf loop?

“Maar,” het voorsitter De Lange gesê, “dit is slegs maksimum vonnisse en die howe sal moet besluit.” Hulle sal inderdaad moet besluit, maar teen daardie tyd is die joernalis gearresteer, in die gevangenis gesit, om dan weer op borgtog vrygelaat te word met ernstige ontwrigting van sy of haar lewe.

Dit is om hierdie redes dat die enigste beperkings wat deur die Grondwet op die vryheid van uitdrukking geplaas word, propaganda vir oorlog; aanhitsing tot dreigende geweld; en verkondiging van haat wat gegrond is op ras, etnisiteit, geslag of geloof en wat skadelike aanhitsing is. Die verdraagsaamheid teenoor dit wat ons moontlik as vals of misleidend mag beskou was nog altyd ‘n integrale deel van politieke debat. Diegene wat glo dat hulle benadeel is kan ‘n saak van laster aanhangig maak of ‘n klag by die Persombudsman indien. In meeste gevalle sal hulle egter met die stampe en stote moet saamleef. Vryheid van uitdrukking sluit die reg van andere om verkeerd te wees in.

Dit is ook heeltemal geoorloof om op te tree op ‘n wyse wat moontlik nadelig vir regeringsorganisasies mag wees. Blootstelling van korrupsie; kritiek op beleid; betogings buite staatskantore of spontane stakings mag almal as skadelike optrede beskou word wat sodoende drakoniese straf tot gevolg kan hê. “Sulke aksies,” het voorsitter De Lange uitgewys, “sal onwettig, met voorbedagte rade, of uit nalatigheid moet ontstaan.” As sulke aksies egter onwettig is, moet die skuldiges onder die wette wat hulle gebreek het aangekla word. As hulle nalatig is, moet diegene wat daarvoor verantwoordelik is gedagvaar word vir skadevergoeding. As hulle nie onwettig of nalatig is nie, mag diegene wat daarby betrokke is, wel beskerm word deur die reg op vryheid van uitdrukking en vry politieke aktiwiteit.

Regeringsdepartemente behoort nie deur ‘n heining van drakoniese strafmaatreëls beskerm te word teen die stampe en stote van debat en regmatige politieke aktiwiteite nie. Die Weerdiens is een van die mees onskadelike organe van die staat en dit is onwaarskynlik dat dit die oorsaak van politieke kontroversie kan word. As die beginsels van die wysigingswet ooit op alle staatsdepartemente van toepassing gemaak word, sal dit ons regte op vryheid van uitdrukking en vryheid van politieke aktiwiteite ernstig aantas.

Die onaanvaarbaarheid van die strafklousules in die wysigingswet is natuurlik nie die skuld van die Weerdiens nie. Die probleem lê by die regering se regsadviseurs wat nooit moes toelaat dat sulke ongrondwetlike bepalings ingesluit word in dit wat veronderstel is om ‘n onskadelike wetsvoorstel te wees nie.

Intussen werk die stelsel. Soos voorsitter De Lange opgemerk het, was die doel van die aanhoor van voorleggings om die beste moontlike wetgewing in belang van alle Suid-Afrikaners te ontwikkel. Kom ons hoop dat al drie strafklousules onttrek word, of verander word om gevolg te gee aan die Grondwet. Ons as Suid-Afrikaners is gelukkig om so ‘n oop parlementêre stelsel te hê en om die regte in my sakboekie-Grondwet te kan geniet. Ons moet alles in ons vermoë doen om hulle te beskerm.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Dave Steward

Meer oor die skrywer: Dave Steward

Dave Steward is Uitvoerende Direkteur van die FW de Klerk Stigting en voormalige ambassadeur van Suid-Afrika by die Verenigde Nasies.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae