Chris Chameleon: Die misdaad van pornografie

Chris Chameleon (Foto verskaf)

In my vorige, eerste aflewering van hierdie rubriekstel het ek ʼn bietjie rondgekrap in die donker handsak van pornografie, veral in die beursie.

Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat pornografie operasioneel meer ooreenkomste toon met misdaadkartels as met sport of vermaak en dat daar meer inligting oor die base van die top tien Mexikaanse dwelmkartels (bekend vir hulle buitengewone gewelddadigheid) bestaan as oor die base van die beheermaatskappy van die wêreld se top pornografie-mediahuise en -ateljees.

ʼn Goeie beginvraag is dus: “Waarom dan die geheimsinnigheid?”

Want in die algemeen het die geheimsinnigheid met betrekking tot die gebruik van pornografie gedurende die afgelope twee dekades stelselmatig getaan. Die gebruik van pornografie is in die meeste liberale demokrasieë genormaliseer en op sosiale media beken verbruikers openlik hul keuses, is komedie met verwysings na pornografie wyd gesaai en moderne stedelike subkultuurtaalgebruik word toenemend aangevul deur verwysings met inbegrip van die pornografie-kultuur.

Waarom, dus, die geheimsinnigheid?

Ek is nie ʼn navorsende joernalis nie – vir die skryf van hierdie mening moes ek reeds meer ure insit as vir enige van my vorige skrywes op hierdie platform – en die vlak van verdieping in hierdie onderwerp verg meer van my tyd as wat ek verantwoordelikerwyse daaraan kan toewy. Maar vir die wat belangstel in die redes vir die grootbase se geheimsinnigheid, die tol wat die industrie van die akteurs vereis, die betalingstrukture, die behandeling van die akteurs ensovoorts, is daar meer wêreldwye web-antwoorde as wat enige mens in een leeftyd kan baasraak. Gaan soek gerus.

Vir die gevalle waarin mense daartoe gedwing word om pornografie-rolspelers te word, tel ek die misdaad nie onder pornografie nie, maar onder mensehandel en dwangarbeid. Wat die geldwassery en verduistering betref – dit is ook nie eie aan pornografie nie en moet onder geldwassery en verduistering tel. En so kan ʼn mens aangaan en telkens vind dat die wye reeks misdade wat in die pornografiebedryf gepleeg woord, ook in ander bedrywe gepleeg word en dus nie eie is aan die bedryf nie. ʼn Ligpunt hier is dat verwikkelinge in kunsmatige intelligensie dalk binnekort pornografie-akteurs gaan vervang.

My bedoeling hier is dus om my te bemoei met die misdaad wat eie is aan pornografie.

As eerste mis-daad (so gespel, want ek onderskei hier tussen die wet en die waarde) noem ek dit wat vir my onlangs van groot belang geword het, met my toetrede tot enorme, dog eksklusiewe kliek van ouerskap. Pornografie is onteenseglik, uiters skadelik vir kinders. Heelwat van hierdie skade is nie tot kinders beperk nie, en tref ook volwasse gebruikers, maar soos dosisse gif, is dieselfde hoeveelheid veel skadeliker vir ʼn kind.

Ek het verlede jaar by ʼn vriend gehoor dat hy en sy vrou pornografie op hulle 13-jarige dogter se selfoon ontdek het, en ʼn week gelede dat sy nou besluit het sy’s ʼn seuntjie en haar naam na ʼn manlike vorm verander het. Nou weet ek dis ʼn wilde korrelasie om te trek, en sal dus nie my kop op ʼn blok daarvoor sit nie, maar oorweeg ten minste vlugtig die moontlikheid dat ʼn meisiekind wat sien wat sy gesien het liewer nie ʼn meisiekind wil wees nie.

Selfs in my prille jeug in die 1970’s het daar soms vreemde stories rondgeloop oor wat seks is en hoe dit werk (ek was altyd in vreemde, eintlik-onwettige crèches). Maar hierdie stories was op hoorsê, en die illusies daarvan is stelselmatig in volwassenheid deur die bewysbare werklikheid afgebreek. Maar hoe gemaak wanneer dit nie speelgrond-hoorsê is nie, maar ʼn werklikheid wat deur dieselfde videografiese materiaal as National Geographic ingeneem word?

Die mis-daad van pornografie op die volwasse verbruiker is veral in gedrag, geestelike (sielkundige) gedrag, merkbaar. Die doel van pornografie is om die brein te stimuleer tot in ʼn katartiese ontlading wat fisiek vergestalt. Een van die redes vir die mens se suksesvolle oorlewing is sy aanpasbaarheid, wat beteken dat ons die reënwoud sowel as die woestyn gewoond raak.

Dit beteken ook dat ons stimulus gewoond raak, en net soos wat iemand wat reeds jare in Parys woon nie meer die Eiffeltoring raaksien nie, moet persone wat reeds jare lank pornografie verbruik, hulle aan steeds heftiger media-aanbiedinge blootstel om dieselfde resultate te behaal. En net soos wat ʼn mens te naby verby ʼn vrot karkas in die veld stap en dan daarna vir ʼn dag of wat ʼn stukkie karkas in ʼn groot verskeidenheid ander geure herken.

Net so plaas ʼn daaglikse blootstelling aan pornografie ʼn verbruiker in ʼn deurlopende staat van singenot, om dan byvoorbeeld met oordadige gretigheid na ʼn sekere geslag of bouvorm in winkelsentrums te staar. By sommige word die humor meer dikwels in die seksuele rigting gedryf.

ʼn Baie algemene newe-effek is dat die vermoë tot normale intieme omgang met, byvoorbeeld, ʼn lewensmaat onmoontlik word. Die gevolg is dat iemand met ʼn hiper-gestimuleerde libido ʼn sekslose lewe lei omdat die praktyk nie voldoen aan die kondisionering wat deur die pornografiese omstandighede teweeggebring is nie. Die lewensmaat kan dan onderwerp word aan gevoelens van onvergenoegdheid en verwerping, met voorspelbare uitkomste vir die verhouding. In my eie, anekdotiese lewenservaring, is ek bewus van vele verhoudings wat diepe en soms uiteindelik onherstelbare skade berokken is deur die gebruik van pornografie.

Pornografie is nie onwettig nie. En ek sal, met voorbehoude vir blootstelling daarvan aan kinders, my nie beywer vir die verbanning daarvan nie, vir die eenvoudige rede dat ek in beginsel die staat en die wet wat die staat onderhou so klein as moontlik verkies, terwyl ek ook ʼn groot voorstander is van vryheid van eie keuse. Maar dis ook nie onwettig om diesel te drink nie, net bitter ongesond.

Meer oor die skrywer: Chris Chameleon

Bekroonde kunstenaar: sanger-liedjieskrywer, bewaringsaktivis, beskermheer van die FAK-liedjietuin, beesboer met ‘n voorliefde om met sy apostelperde te reis.

Deel van: Podsendings, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

OW ·

Baie goeie skrywe Chris.Ek dink enige kind raak op ‘n stadium nuuskierig oor sy eie seksualiteit,en dit is beslis normaal.By elke mens is dit ingebou om te ontwikkel,wat ons goeie Meester vir ons gegee het.Ek dink waar die probleme ontstaan,en dit is vandag baie groter as voorheen,is dat dit ryp gedruk word,met al die elektroniese middels tot die mens se beskikking.
Pornografie is so oud soos die mensdom self,en sal altyd daar wees.In SA se vorige bedeling wat gekenmerk was as baie streng,was pornografie minder opsigtelik maar glo my iemand het dit ingesmokkel en dit was beskikbaar.Die ouers speel ‘n belangrike rol in ‘n kind se opvoeding,en al is jy hoe streng met jou kind,gaan hulle wel en of ander tyd met pornografie kennis maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.