Uitsmyter Jake voor in Byron Nelson-toernooi

(Foto: Facebook/Jake Knapp)

Dit was die tweede keer vanjaar ʼn geval van knap gedaan, Jake.

Maar die vertoning van Kris Kim, ʼn 16-jarige Britse tiener, het saam met dié van die onbesonge Jake Knapp die oog getref het in die tweede ronde van die CJ Cup Byron Nelson-toernooi.

Die 29-jarige Knapp, wat vroeër vanjaar die Mexiko-Ope gewen het om sy rekening in die Amerikaanse PGA-reeks te open, was ʼn jaar of twee gelede nog ʼn uitsmyter by ʼn Amerikaanse restaurant om die pot aan die kook te hou.

Dit was toe hy gedink het dat hy nie ʼn bestaan op die gholfbaan sou kon maak nie.

Hy het Vrydagaand die tweede ronde op TPC Craig Ranch in McKinney, Texas, ook in 67 houe (-7) voltooi en was op 128 houe (-14), een hou voor die Amerikaner Troy Meritt en Matt Wallace van Engeland (albei 129, -13) in die klubhuis.

Hulle is een hou voor Kelly Kraft (130).

Knapp, wat twee jaar gelede sy spelersregte verloor het weens sy swak peil, het op Donderdag-, Vrydag- en Saterdagaande tot vroegoggend as uitsmyter die orde bewaar. Hy was vroegoggend in die gimnasium, op die baan en oefenbof met drome in sy oë.

Kim het vir die laaste twee rondes gekwalifiseer nadat hy tellings van 68 en 67 (135) op sy telkaart ingevul het. Sy ma, wat in Suid-Korea gebore is, het in die 1999’s aan die Amerikaanse LPGA-reeks deelgeneem.

Die ironie van Kim se puik spel is dat hy nou saam met Jordan Spieth die jongste speler is wat vir die laaste twee rondes kon kwalifiseer het. Spieth was in 2010 16 jaar oud toe hy 16de in dié toernooi in Dallas geëindig het.

Maar Vrydagaand het die ongeluk Spieth gery toe hy nie vir die laaste rondes kon kwalifiseer nie.

* Die Sweed Sebastian Soederberg loop voor ná die tweede ronde van die Chinese Ope wat in Beijing gespeel word en deel is van die Dubai World Tour (Europese reeks), op 128 houe (-16) met drie houe voor die Brit Paul Waring (131, -13).

Guido Migliozzi van Italië is derde op 132 (-12) gevolg deur Gordan Brixi (Tsjgeggiese Republiek), Adrian Otaegui (Spanje) en Joel Girrbach (Switserland), wat almal saam vierde is op 133 (-11).

Suid-Afrika se Zander Lombard is sewende op 134 (-10) met sy landgenote Brandon Stone (138, -6) en Casey Jarvis (130, -5) verder terug.

* In die LIV-reeks se Singapoer-toernooi het Sebastian Munoz van Colombia die voortou met 65 houe (-6) ná die eerste ronde geneem.

Hy word gevolg deur die Amerikaner Kevin Na, Abraham Ancer van Mexiko, Thomas Pieters van België, Martin Kaymer van Duitsland en nog twee Amerikaners Brooks Koepka en Cameron Tringale, wat almal saam op 66 houe (-5) klaargemaak het.

Suid-Afrika se Louis Oosthuizen en Dean Burmester is albei op 67 (-4) met Branden Grace (69) en Charl Schwartzel (70) wat skaflik gevaar het.

Die tweede ronde is deur swak weer ontwrig en het eers laat Saterdagoggend op die Sentosa-baan begin.

* Op die Royal Johannesburg & Kensington-baan in Johannesburg het Casandra Alexander met 61 houe in die tweede ronde van die Waterfall City-toernooi vir mans- en vrouespelers tot eerste opgeskiet.

Alexander is op 131 houe, 13 houe onder baansyfer en is twee houe voor Louis Albertse wat 68 houe in die tweede ronde aangeteken het.

Albertse het op 133 (-11) klaargemaak.

Rupert Kaminski en Gerhard Pepler is saam derde op -7, gevolg deur die amateur Ivan Verster, Deon Germishuys, Hennie Otto, Ryan van Velzen, Kyle Barker en die Wallieser Rhys Enoch, almal saam op 138 (-6) is.

Die voorste mans- en vrouespelers in die plaaslike Sonskynreeks ding om dieselfde prysgeld in dié toernooi mee.

Alexander, wat reeds vyf toernooie in die Sonskynreeks gewen het, het foutloos gespeel en geen teken van die enkeloperasie getoon wat sy verlede jaar in Desember ondergaan het nie.

Bronne: The Golf Channel en Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.