Koepka spog weer met LIV-titel

Die Amerikaner Brooks Koepka. (Foto: Jamie Squire/Getty/AFP)

Die Amerikaner Brooks Koepka het Sondagoggend by die Sentosa-buiteklub in Singapoer sy LIV-gholftitel met welslae verdedig toe hy die toernooi oor drie rondes in 15 houe onder die baansyfer voltooi het. Die Aussies Cameron Smith en Marc Leishman was saam tweede, twee houe (-13) agter Koepka.

Dit was Koepka se vierde oorwinning in die reeks.

Die Amerikaner Talor Gooch (-12) was vierde, met Suid-Afrika se Dean Burmester 14de op -8. Burmester is gevolg deur Louis Oosthuizen (-6), Branden Grace (-6) en Charl Schwartzel (-2).

In die spanafdeling was Ripper eerste (-32), gevolg deur die Fireballs en Cleeks saam tweede op -29.

Die Suid-Afrikaanse Stingers was tiende op -19.

* In die DP World Tour (Europese reeks) het Adrian Otaegui van Spanje Sondagoggend die Chinese Ope in Shenzhen met een hou gewen. Die derde ronde van dié toernooi is weens swak weer gekanselleer.

Otaegui het op 198 houe (-17) geëindig en was een hou voor die Italianer Guido Migliozzi, met die Sweed Sebastian Sõderberg, Paul Waring (Engeland) en Joel Girrbach (Switserland) saam derde op 200 (-16).

Suid-Afrika se Brandon Stone was sewende op 202 (-14) en Zander Lombard 17de op 207 (-9).

* In die Amerikaanse PGA-reeks se CJ Cup Byron Nelson-toernooi wat in McKinney in Texas plaasvind, is ses van die voorste tien spelers, wat ná die derde ronde in die toptiengroep is, op soek na hul eerste oorwinning in die reeks.

Die Kanadees Taylor Pendrith is op 194 houe (-19) met een hou voor Jake Knapp (195, -18), wat ná die tweede ronde voorgeloop het.

Die Engelsman Matt Wallace en nog ʼn Amerikaner, Ben Kohles, is saam derde op 196 (-17), gevolg deur hul landgenoot Kelly Kraft en Alexander Noren (Noorweë) wat albei op 198 houe (-15) geëindig het.

Die 34-jarige Wallace, wat reeds met tien internasionale oorwinnings spog, waaronder vier seges in die Europese reeks, is die mees ervare speler in die toptiengroep, hoewel Pendrith met twee oorwinnings in Kanada spog.

Die 28-jarige Knapp het vroeër die Mexikaanse Ope gewen om sy PGA-rekening te open.

* In die plaaslike Sonskynreeks se Waterfall City-toernooi van Kampioene wat op Royal Johannesburg & Kensington in Johannesburg beslis word, loop Louis Albertse (201, -15) met drie houe voor ná Saterdag se derde ronde.

Die toernooi, waaraan van die heel beste mans- en vrouespelers in die Sonskynreeks om dieselfde prysgeld meeding, se eerste prysgeld is R1,2 miljoen.

Albertse het 68 in die derde ronde op die Oos-baan aangeteken en is op -15 drie houe voor die Wallieser Rhys Enoch en Casandra Alexander (albei 204, -12).

Alexander, die voorste vrouespeler, het ná die tweede ronde voorgeloop nadat sy Vrydag 61 houe aangeteken het. Sy het dit Saterdag met 73 houe opgevolg, wat haar telkaart bederf het.

Kyle Barker en Rupert Kaminski is saam vierde op 205 (-11), gevolg deur Ryan van Velzen en Gerhard Pepler saam op 206 (-10) met Nikhil Rama en die amateur Ivan Verster saam agtste op 207 (-9).

Bronne: DP World Tour, LIV Golf, Sonskynreeks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.