Tien jaar ná die Arabiese Lente

Foto: Mohammed Huwais/AFP

Op 17 Desember 2010 het ʼn gebeurtenis in Tunisië uitgekring tot ’n geweldige groot politieke storm waarvan die nadraai steeds met ons is. Die Arabiese Lente het in ʼn mindere of meerdere mate feitlik elke land in die Midde-Ooste en Noord-Afrika geraak.

Die sneller vir die opstande waarna verwys is as die Arabiese Lente was toe ʼn straathandelaar in ’n stad in Tunisië uit protes teen sy mishandeling deur die owerhede homself aan die brand gesteek het. Dit was uit desperaatheid nadat sy stalletjie se toerusting, waarmee hy sy gesin meer sleg as reg onderhou het, deur die polisie gekonfiskeer is (na bewering omdat hy nie as handelaar gelisensieer was nie, maar blykbaar omdat hy nie omkoopgeld wou betaal nie). Toe hy beswaar gemaak het by die plaaslike owerheid, is hy verneder en uitgejou. Hy het geen ander uitweg meer gesien as om petrol oor homself uit te gooi en homself aan die brand te steek nie. Die man het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Sy lot van armoede en magteloosheid teen ʼn hardhandige en korrupte bewind, wat soortgelyk aan dié van miljoene mense in Tunisië en ander Arabiese lande was, was die lont in die kruitvat. Mense het in solidariteit met die man betoog en dit het baie vinnig soos ʼn veldbrand in die hele streek versprei. In 2011 het die een land na die ander grootskaalse betogings en opstande teen outokratiese leiers gesien. Die rede vir die opstande was die bekende mengsel uit ekonomiese (werkloosheid, armoede, inflasie) en politieke (korrupsie, magsmisbruik deur die leiers en die veiligheidsmagte, beperking van vryheid van spraak, verkiesingsbedrog ensovoorts) griewe. Enorme druk en teendruk het opgebou.

In Tunisië het die langtermynpresident Zine el Abidine ben Ali tot ʼn val gekom, in Egipte die langdurige leier Hosni Mubarak en in Jemen die outokratiese president Ali Sali. In Libië kon die betogers, ook danksy buitelandse hulp, uiteindelik daarin slaag om die wrede diktator Moeammar Ghaddafi te ontsetel en selfs om die lewe te bring. Dit het egter geen einde aan die opstand gebring nie en in Libië duur die burgeroorlog voort.

In Sirië was die gevolge seker die ergste. Daar het die ingrypendste burgeroorlog op talle fronte hom afgespeel, en veral die radikale Islamiete het daarin geslaag om die opstand te kaap. Die oorlog daar is nog steeds nie heeltemal verby nie, maar die heerser Bashar al-Assad kon deur buitelandse militêre steun en uiterste brutaliteit dit regkry om aan bewind te bly, te midde van ʼn land in puin. In meeste lande was daar betogings, wat egter deur ʼn mengsel van hervormings en toegewings aan die een kant, en ferm optrede aan die ander kant, in die kiem gesmoor is, soos in Algerië, Irak, Jordanië, Marokko en die meeste state van die Arabiese skiereiland.

Die groot verandering in die rigting van geregtigheid en demokrasie, waarvoor opgewonde waarnemers in 2011 gehoop het, het eintlik nêrens gerealiseer nie. Die Arabiese land wat die naaste aan ’n demokrasie gekom het, is Tunisië, waar ná ’n baie broos oorgangsproses en die gevaar van ʼn wegsink in ʼn Islamitiese bewind, ʼn wankelrige demokratiese bewind deur middel van verkiesings en burgerlike deelname gevestig kon word.

In alle ander lande het die opstand eintlik geen positiewe verandering teweeggebring nie: In Egipte het ná ʼn tussenspel van ʼn verkose, Islamitiese bewind van die Moslembroederskap in 2013 die weermag en sy hoof Abd el Fatah al-Sisi die mag oorgeneem. Al-Sisi het hom sedertdien tot president laat verkies, maar is eintlik net weer ʼn outokratiese leier soos Mubarak was. Die land sukkel ook met Islamitiese terreur. In Jemen heers ʼn burgeroorlog al geruime tyd omdat verskeie magte teen die nuwe bewind in opstand gekom het. In meeste gevalle is die ou heersers nog aan bewind en is die betrokke lande, ten spyte van klein hervormings, nog steeds monargieë of diktatorskappe.

Ook die ekonomiese situasie, wat die opstande in die eerste plek laat uitbreek het, het nie werklik verander nie, trouens, die opstande en die onderdrukking daarvan het eerder die situasie laat versleg. Niemand kan mense verkwalik as hulle teen ʼn onregverdige bewind wat nie na hulle griewe luister nie in opstand kom. Opstand en geweld lei egter selde indien ooit tot uiteindelike vrede en voorspoed. Oor nog tien jaar van nou af het weer ʼn nuwe, woedende jong generasie opgegroei wat heel moontlik die volgende opstand ontketen. As die leiers versiende is, gebruik hulle die tyd om te hervorm. Moontlik gaan opstande dan dalk nie plaasvind nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.