Die Biebers sing psalms en die Malemas sê hulle is Jesus

René Roux (Foto: Verskaf deur SHH)

Suid-Afrika is ongelukkig reeds lankal goed bekend met iets soos ʼn nasionale staking. My vriende in die buiteland dink dit is onsin en absolute chaos. Hulle vra waarom word dit enigsins toegelaat. My antwoord is maar dié van ʼn leek, maar opreg bedoel: “Want hulle glo hul menseregte gee hulle nie net die reg nie, maar ook die plig om te plunder en te brand.”

Ek mag dalk verkeerd wees met my antwoord, maar vir my as Suid-Afrikaanse burger met presies dieselfde regte doen en leef ek anders. Ja ek veg, maar met ʼn hart van staal, ʼn fluweelhandskoen en ʼn gedagtegang gevul met kennis.

Gisteraand verskyn daar ʼn sosialemediaplasing op my Facebook. In die video sing Justin Bieber ʼn lied. Die woorde van die lied word uit verskeie Bybelverse gehaal. Een vers uit Dawid se Psalms. Nou, ek was nie ʼn Bieber-aanhanger gewees nie. Ek en my man braai graag en terwyl ons braai, luister ons graag Christelike musiek. Ons het lankal op hierdie liedere van Bieber afgekom, en vir mekaar gesê hoe goed dit is dat mense na die Here begin draai. Vir my is Bieber se verlede in die verlede en sy toekoms hou ek dop, want ek geniet sy musiek ter ere van God. Aan die een kant het jy ʼn Bieber wat draai na God en aan die ander kant het jy ʼn Malema wat sê hy en sy rooipakkies is Jesus.

Vandag sit ek in my direkteur se kantoor en wag vir ons vergadering om te begin. Dit is ʼn goeie Vrydagoggend, ek is geseënd. Maar terwyl ek wag, verskyn daar weer ʼn video op my Facebook-blad. In hierdie video spreek Malema die woorde dat hyself Jesus is.

Nou goed, ons as burgers van Suid-Afrika het ook die reg op vryheid van spraak. Maar wat ons maak met hierdie reg is waar die verskil inkom. Ons moet praat met kennis en kundigheid, anders lyk ons bloot net soos narre.

Vir my as Afrikaner-Christenvrou oortree jy die grens van vryheid van spraak wanneer jy uiter dat jyself Jesus is. Wat dink jy, Malema? Maar meer as dit, waar is jou siel se rusplek? Ek het ook al mooi gesien en geleer dat alle sukses van die Here af kom en nie van myself af nie. Die Here lei die mens om suksesvol te kan wees in sy skeppingsdoel. Net so terloops, Malema, die Here het jou ook geskape, nie jyself nie.

In hierdie video stel Malema nie net die standpunt dat hý verantwoordelik is vir die sukses van homself en sy party nie, maar dat hyself Jesus is. Ek weet baie ander Christene lees hier en ek is seker hierdie absolute nonsens wat Malema praat, maak jou ook warm en kriewelrig.

Ons almal weet wat met Herodes gebeur het, bloot net omdat hy self eer wou vat vir wat God spreek. Handelinge 12:21-22 lui soos volg: “Op die vasgestelde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en hulle toegespreek. Die mense het geskreeu: ‘Dit is ʼn god wat praat, nie ʼn mens nie.’” Dit laat my dink aan jou ander narre wat jou toejuig terwyl jy hierdie woorde uiter. Maar in elk geval, die waarheid is omrede Herodes die eer vir homself as ʼn god wou vat, het ʼn engel hom getref omdat hy nie die eer aan God wou gee nie. Herodes is deur wurms verteer en het gesterf. Nou, Malema, ek weet nie van jou nie, maar ek is nie mal oor wurms nie en ek is ʼn Godvresende vrou.

Malema, wys vir my hoe jy en jou EFF die Rietsee se water skei, wys my hoe julle manna uit die lug laat val om ʼn hele volk te voed. Verander vir my water in wyn en laat ʼn verlamde loop, ʼn blinde man sien en ʼn stom man praat. Ek wil graag sien hoe loop jy en jou rooi narre op water.

Jy laat my eintlik uit my maag uit lag, maar tog kry ek jou jammer. Want jy wat sê jy is Jesus, het heel duidelik vergeet dat Hy vir jou ook aan ʼn houtkruis gesterf het. Maar jy verwys mos daarna as “a silly cross”.

Jy is besig om met vuur te speel, jouself te veroordeel en God te misken en verloën. Mag jy tot jou sinne kom voordat die engele van die ware God weer besluit om te tref.

Anders as jy, glo Solidariteit Helpende Hand in die een ware God. Jy het hardop getuig dat jy dit nie doen nie. Anders as jy, bou ons Helpende Hand se strategie en vooruitgang in ons geloof. Ons instelling rus sag in die ware God se genade.

Een van ons belangrikste fokuspunte en deel van die holistiese welstand waarna ons omsien by ons mense is geestelike welstand. Ek kan met vrymoedigheid sê dit is waarom ons floreer en jy en jou narre nie. Dalk is dit omdat jou begronding nie reg is nie dat jy wil probeer om ʼn snelweg tot stilstand te bring. Selfs as jy dit kan regkry, gaan jy steeds geen verskil maak nie; dit gaan ons as kinders van God beslis nie bang maak nie en dit gaan jou steeds nie Jesus maak nie.

Dankie, Bieber, dat jy jou lewe probeer reg leef, al het jy foute. Dankie dat jy sing vir God. Malema, vir jou het ek niks meer om te sê nie.

Word deel van ʼn familie wat weet wie Jesus is, wat Hom volg en wat sy werk doen en opdragte uitvoer vir sy gemeenskappe en wat nie bang is om op te staan as iemand sy naam belaster nie.

  • Roux is ʼn adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand.

Meer oor die skrywer: René Roux

René Roux is adjunk-uitvoerende hoof en woordvoerder van Solidariteit Helpende Hand.

Deel van: Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.