Edcon hef klubgelde onwettig, sê Tribunaal

Foto: Pixabay

Die Nasionale Verbruikerstribunaal (NVT) het vandeesweek bevind dat Edcon al jare lank, sedert die Nasionale Kredietwet in 2006 in werking getree het, onwettig ‘n verbode bedrag vir klubgeld op kredietooreenkomste gehef het en sodoende die Wet oortree het. Edcon het miljarde verdien uit die klubgelde wat gehef is op rekeninge wat by Edgars en Jet geopen is. Klublede kry voordele soos goedkoper vlieg- en fliekkaartjies. Ina Opperman verduidelik waarom die heffing verbode is en wat nou gaan gebeur.

Die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) het ondersoek ingestel nadat verbruikers gekla het oor die heffings en gevind het dat Edcon die klubgeld wel deel van sy kredietooreenkomste maak. Die NKR het toe die saak na die tribunaal verwys.

Die Nasionale Kredietwet bepaal watter kostes ’n kredietverskaffer by die kredietooreenkoms mag insluit. Volgens die Wet mag ‘n kredietooreenkoms nie vereis dat die verbruiker vir enigiets behalwe die hoofskuld, aanvangsgelde, diensgelde, rente, kredietversekering, ‘n wanbetalingsadministrasieheffing en invorderingskoste betaal nie. Klubgelde mag dus nie ingesluit word nie.

Die tribunaal het in sy uitspraak gesê Edcon het die klubledegeld as ’n opsie aangebied in die aansoek vir krediet en daarom is dit onwettig. “Die Tribunaal het dit nou duidelik gemaak dat klubgelde nie gehef mag word op kredietooreenkomste nie,” sê Jacqueline Peters, bestuurder van ondersoeke en wetstoepassing by die NKR.

Wat gebeur nou?

Volgens Peters sal Edcon nou versoek word om ’n onafhanklike oudit van sy leningsboek te laat doen om te bepaal hoeveel verbruikers terugbetaal moet word en wat die bedrag sal wees. Die tribunaal sal dan besluit oor die terugbetaling van klubgelde en sal ook in ‘n sitting die boete bepaal wat aan Edcon opgelê kan word. Hierdie boete kan ‘n maksimum van 10% van sy jaarlikse omset wees.

Wat sê Edcon?

Die maatskappy het in ’n verklaring gesê hy neem kennis van die uitspraak wat dit ongeldig verklaar om klubledegeld op ’n kredietooreenkoms te hef en is besig om die uitspraak te bestudeer met die oog op appèl.

Edcon het verder gesê verbruikers moet onthou dat die uitspraak net handel oor die meriete van die saak en nie die strafbepaling, wat later gelewer word, nie. “Die klubproduk is ’n alleenstaande produk en verbruikers wat vrywillig aansluit, kry ’n aantal voordele. Die klubgelde vorm nie deel van die kredietooreenkoms nie. Na raming kan ’n klublid tot R17 000 per lid per jaar bespaar as al die voordele gereeld gebruik word.”

Volgens Edcon het hy omvattende regsadvies ingewin wat daarop dui dat die konsep van ’n klubproduk, met sy verwante voordele, ’n goed gevestigde praktyk wêreldwyd is, wat ’n mandjie van waardetoegevoegde dienste en voordele bied in ruil vir ’n vrywillige betaling, wat as klubgeld beskryf word.

Die maandelikse klubgelde vir Edgars Club se drie soorte klublidmaatskap vir “VIP”, “Life” en “Classic”, beloop van R34 tot R60 en ’n aantal punte op kliënte se Thank U-kaarte. Edgars het onlangs gesê sy jongste resultate vir die nege maande tot einde Desember het gewys die daling in sy inkomste, weens swak verkope, is gedeeltelik teengewerk deur die toename in klubgeld van R40 miljoen, omdat meer verbruikers hul Classic-lidmaatskap na die VIP-lidmaatskap verander het.

Die nege maande se inkomste uit klubgeld was R418 miljoen en die totale inkomste R29,5 miljard.

Die Nasionale Verbruikerstribunaal

Die tribunaal hoor sake aan wat verband hou met die oortreding van die Nasionale Kredietwet en die Wet op Verbruikersbeskerming. Die magte van die tribunaal sluit in bevele om verbruikers terug te betaal en die uitreiking van boetes vir oortreding van die wette.

Die Wet op Verbruikersbeskerming en klubgelde

Die Wet bepaal in artikel 31 handelaars mag nie iets soos klubs bemark deur middel van ‘n veto-opsie nie. Dit beteken iets soos klubgeld mag nie net gehef word sonder dat jy spesifiek aangedui het dat jy wil aansluit nie.

Verbruikerswenke

  • Wanneer jy ‘n kredietooreenkoms sluit, vra om al die dokumente deur te lees en maak seker jy betaal net wat jy moet volgens wet.
  • Lees rekeninge aandagtig deur om seker te maak jy betaal net vir die krediet en produkte of dienste waarvoor jy toestemming gegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae