Gedagte vir die dag: Die Seun van die mens (deel twee)

man_stap_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

“Die mense was verwonderd en het gesê: ‘Watter soort mens is dit dié dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?’” (Matteus 8:27).

Skrifgedeelte
Matteus 8:23-35

Oordenking
Die vrees van die mens vir die natuurmagte ken almal. Daarom is die verwondering van die dissipels verstaanbaar dat Jesus die storm gestil het deur dit eenvoudig te bestraf. Hulle vraag: “Wat vir ʼn mens is Hy?” sou Christus met sy verdere wonders en prediking antwoord.

Dit is ʼn vraag wat deur die eeue op verskillende wyses gestel sou word, in geloof of ongeloof. God se openbaringe is om ons ook te antwoord. Soos toe Jesus Homself “die Seun van die mens” noem (Joh. 5:27). Daarmee lei Hy ons na Daniël 7:13, waar staan dat die heerskappy, eer en koningskap gegee is aan die Een wat met die wolke van die hemel gekom het. Net sy woord is genoeg om die kragte in die skepping in werking te stel, of te tem. God tel en roep die oneindige getal sterre (Ps. 147). Jesus Christus is die beloofde Gesalfde wat deur die profete vooraf verkondig is.

Die dissipels sou Hom mettertyd ook as die Man van smarte (Jes. 53) leer ken. Hulle sou hoor dat Hy nie gekom het om ʼn aardse Koninkryk op te rig nie. Ná sy magswerk en oorwinning aan die kruis is Hy verhoog aan die regterhand van sy Vader, van waar Hy alles regeer, ook die magtige skepping. Van daar oefen Hy sy mag uit, waarvoor selfs die natuurmagte moet buig.

Op ons vrae na aardse en selfs alledaagse gebeure lei die Here Jesus ons na antwoorde oor hoëre dinge. Na die hemelse en heerlike wat kom. So het Hy met sy prediking die dissipels se verwagtinge na vorentoe gerig.

Ken Hom so – Christus is ons troos en verlange, wanneer nie net die natuur se storms nie, maar alle lewensstorms ons verskrik. Want ons weet Wie Hy is: God die Seun!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.