God se lig skyn in die donkerste plekke

Ji Ho het tot bekering gekom toe sy die woorde van Jesus op ʼn klein radio’tjie in Noord-Korea gehoor het. (Foto: Geopende Deure)

Die vervolging van Christene raak ernstiger en versprei teen ʼn skrikwekkende tempo, maar God se stem kan selfs in die gevaarlikste plekke nie stilgemaak word nie – soos Noord-Korea, wat die gevaarlikste plek ter wêreld is om Jesus te volg, en waar Christene in lewensgevaar verkeer as hul geloof ontdek word.

Dié land is vanjaar weereens bo-aan Geopende Deure se Wêreldwaarnemingslys, wat die top-50 lande bevat waar dit die moeilikste is om ʼn Christen te wees. In Noord-Korea se onderdrukkende regime kan die besit van ʼn Bybel tot tronkstraf lei, en geloof kan beteken dat ʼn mens in ʼn strafkamp beland. Gelowiges ervaar die risiko van marteling en selfs teregstelling.

Verdoemende bewyse

Ji Ho*, ʼn jong Christen-vrou van Noord-Korea, onthou vandag nog hoe polisiemanne hul huis in haar kinderdae bestorm het om vir bewyse te soek dat haar pa ʼn Christen was. Terwyl sommige van hulle die huis verwoes en geplunder het, het ander grond in die tuin opgegrawe, en hulle het gekry waarvoor hulle gesoek het …

“Ek en my pa het in die hoek weggekruip terwyl die polisiemanne ons huis verwoes het. Die mans het ʼn Bybel wat in plastiek toegedraai was, in die tuin begrawe gevind. ʼn Polisieman het die Bybel triomfantelik by my pa se voete neergegooi, waarna ons in trane uitgebars het. Ons het op daardie oomblik geweet dat ons mekaar nooit weer sou sien nie. Hierna is my pa by die huis uitgeboender en weggelei terwyl ek alleen agtergebly het,” vertel Ji Ho, wat toe nog op skool was.

Sy weet tot vandag nog nie wat met haar pa gebeur het nie, maar het jare nadat hy weggeneem is, ʼn wonderlike ontdekking gemaak en weereens besef dat God se stem nooit stil is nie.

Lewensveranderende radioboodskap

Ji Ho luister elke aand na haar pa se geheime transistorradio, desperaat vir nuus oor kos sodat sy nie soos haar bure verhonger nie. Eendag het ʼn nuwe stem die luggolwe onderbreek. Sy het ʼn man in Koreaans hoor praat en dit was glad nie soos die ander staatsprogramme nie.

“Julle is die sout van die aarde,” het die stem oor die radio gesê. “Dit is die woorde van Jesus, en dit herinner ons daaraan dat ons nooit ons liefde vir ander moet verloor nie.”

Sy was stomgeslaan en is skielik deur ʼn kragtige herinnering oorval. “Dit was wat my pa my baie jare gelede vertel het, amper woord-vir-woord presies dieselfde. Ek het sedertdien aanhou luister, en God het gepraat. Ek het oortuig geraak dat Jesus die onderwyser was van wie my pa my probeer vertel het.”

Ji Ho besig om te bid.(Foto: Geopende Deure)

Daaglikse stryd om oorlewing

Ji Ho het hierna haar lewe vir Christus gegee, maar net soos die beraamde 400 000 gelowiges in Noord-Korea, moet haar geloof ʼn geheim bly en staar sy ʼn daaglikse stryd om oorlewing in die gesig. Armoede is algemeen en die helfte van die bevolking ervaar hongersnood omdat hulle geen veilige voedselvoorraad ontvang nie.

“Ek besef nou waarom my pa weggeneem is. Ons leiers wil nie hê ons moet enigiemand anders as hulle eer nie, en my pa het die Here aanbid, wie magtiger is as ons land se leiers. Ek is nou ʼn Christen soos my pa, maar dit is beide geestelik en liggaamlik ʼn desperate situasie.

“Ek weet glad nie hoeveel ander Christene daar in die land is nie, en hoop dat ek eendag nog ʼn volgeling van Jesus kan ontmoet. Intussen gaan ek aanhou om na die radio te luister en om Jesus te volg. Ek wil aanhou om sout en lig te wees, soos my pa my geleer het,” sê sy.

Ondersteuning versterk gelowiges

Geopende Deure staan Noord-Koreaanse gelowiges by deur geheime netwerke wat voedsel en medisyne versprei. Danksy die bystand van ondersteuners, word altesaam 80 000 Noord-Koreaanse Christene lewend gehou met voedselhulp en ontvang 100 000 gelowiges geestelike ondersteuning met hul geloof wat deur die uitsaai van geheime Christelike radioprogramme versterk word.

Geïsoleerde gelowiges soos Ji Ho het gebede en ondersteuning nou meer as ooit nodig vir hul oorlewing en om Jesus in die donkerste plekke te volg.

Kliek hier om jou 2024 Wêreldwaarnemingslys-gebedskaart af te laai en vandag nog vir jou vervolgde geloofsfamilie te begin bid.

*Skuilnaam en verteenwoordigende foto’s gebruik om sekuriteitsredes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.