ToekomsVenster: ’n Kwessie van prioriteite

balans

(Foto: Nathan Dumlao/Unsplash)

“Jesus antwoord hom: ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand’.” – Matteus 22:37 (AFR83)

Dat die wêreld, Suid-Afrika en ons konteks, ʼn enorme appèl maak op ons as mense, is ʼn absolute feit.

Sommige mense besluit om eerder nie na enige nuus te luister nie, geen koerant te lees nie en nie aan besprekings deel te neem nie. “Hoe minder ek weet,” sê hulle, “hoe beter”. Ek word ontstel as ek luister na die dinge wat rondom my gebeur en het dit nie in my lewe nodig nie. Ek woon eerder in hierdie sintetiese borrel waar my vrede nie gesteur word nie.

Uiteraard het elke mens die reg om besluite oor sy of haar lewe te maak en as dit die besluit is, is dit in orde.

Aan die anderkant kry ʼn mens nuusverslaafdes, soos ekself, wat somtyds sukkel om nie negatief, oorstelp en desperaat te raak nie.

Die lewe bestaan darem ook nie net uit slegte nuus nie, daar is opmerklike dinge aan die gebeur wat ʼn mens baie opgewonde behoort te maak. Ons moet ook meer aandag gee aan die positiewe stories sodat ons nie in ʼn gat van ellende en depressie val nie.

Hoe leef en oorleef ʼn mens in so ʼn uitdagende wêreld? Hoe wil die Heilige Gees ons help om relevant te wees, sonder om in negatiwiteit te verval?

Ek het ʼn idee dat prioriteitsbepaling ons daarmee kan help.

Somtyds trek ek ʼn stokmannetjie op ʼn stuk papier. Die stokmannetjie verteenwoordig myself. Dan trek en strepe en pyle wat die verskillende kontekste waarbinne ek beweeg en lewe, verteenwoordig.

Daar is my gesin, een streep ver. Daar is my “werk”. Nog ʼn streep ver. Daar is my sosiale verbintenisse, my belangstellings en stokperdjies, my gemeenskapsbetrokkenheid en so teken ek verder.

Vir elkeen van ons sal die indekse anders daaruitsien, alhoewel dit breedweg seker dieselfde sal wees.

Dan verfyn ek die kategorieë.

Daar is my gesin – ek en my beter helfte, ek en die kinders, gesamentlik en individueel.

Daar is my inkomste en die besteding daarvan, soos met ʼn begroting.

Daar is my vriendekring, naby en ver.

So begin my skets inhoud kry en so begin ek my lewe as te ware van bo af beskou.

Wat sien ek? Wat bly agterweë? Wat geniet te veel aandag, wat neem my tyd in beslag sodat ek nie by ander belangrike dinge kan uitkom nie? Waar moet ek oor prioritiseer? Wat moet anders gedoen word?

Uiteraard is my verhouding met die Here ʼn kategorie, maar ook oorkoepelend en insluitend. Hy kan tog van niks uitgesluit wees nie.

Hoe begroot ek tyd om met die Here te wees, van Hom te leer, sake met Hom uit te klaar en sy lof te verwoord? Wat van erediensbywoning en my betrokkenheid by my gemeente?

Soos reeds gesê, ons elkeen se prentjie lyk anders, maar ek verstout myself om te sê dat die meeste van ons aanpassings nodig het.

Dit is ʼn fyn balanseertoertjie en dit is boonop nooit afgehandel nie. Die skets moet van tyd tot tyd hersien word.

Dit is naweek. Dalk wil jy jou eie skets trek, dalk wil jy dit net met jou beter helfte deurpraat en dalk wil jy jou lewe ietwat anders beplan.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.