ToekomsVenster: Tekens van hoop

(Foto: Pablo Heimplatz/Unsplash)

“Sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God.” – Kolossense 1:10 (AFR83)

Jare gelede het ek op ʼn dag deur ʼn gebied in Krugersdorp gery waar mense swaarkry. Daar is werkloosheid, armoede, ook afhanklikheid en ander dinge wat mense van hul menswaardigheid beroof. So met die ry, het ek net een park gesien wat so verwaarloos was dat die kinders eerder in die straat gespeel het.

Boemelaars het hulle daar tuisgemaak en ou gebruikte matrasse het die wêreld vol gelê. Van die swaai was net ʼn paar geroeste kettings oor en van die klein klimraam, niks meer as ʼn herinnering van iets wat was nie. Van gras was daar nie sprake nie, behalwe vir die twee groot bome wat skadu gelewer het.

Die interessante is dat die park in Jobstraat geleë is. Ons is almal met Job se verhaal bekend en dit was asof die storie van Job en die omstandighede waaronder die mense in Appelpark geleef het, met mekaar gepraat het. Die skrif was aan die muur en iets moes aan die situasie gedoen word.

Baie werk het voorgelê. Die terrein moes ontwikkel word, speelapparate aangebring word en baie belangrik; die terrein moes beveilig en omhein word. Ons moes ʼn parkopsigter benoem wat na die belang van die kinders omsien en sorg dat die items nie weggedra word nie. Sitplekke van allerlei aard moes ingebring word, gras en plante geplant word.

Met tyd het ons bewus geword daarvan dat die park hoofsaaklik aan die behoeftes van die kleiner kinders voldoen, maar dat die groter kinders nie ʼn ontspanningsplek het nie. Die Parke-afdeling het die terrein reg oorkant die park tot ons beskikking gestel en ons het spasie vir krieketoefening ingerak, ʼn skaatsoppervlak asook ʼn “jungle gym” aangebring.

Dit is ʼn paar jaar later en die park het ʼn simbool van nuwe lewe geword. Dit is opmerklik dat die gemeenskap eienaarskap van die park geneem het. Stadig maar seker word mense se huise opgeknap en verfraai want, so dink ek, die park stel ʼn standaard.

Dit is steeds Appelpark, baie mense kry steeds swaar, maar Rainbow Park − soos dit bekend staan, het ʼn baken van hoop geword.

Somtyds wil ons handdoek ingooi. Daar is altyd die een of ander uitdaging. As die kinders egter op ʼn Sondagmiddag ʼn lang ry van 120 vriendelike gesigte vorm om, nadat ons ʼn boodskap gebring het, ʼn eetdingetjie te ontvangs weet ons dat dit die moeite werd is en dat ons nie moet moed opgee nie.

Miskien, net miskien, breek van daardie kinders uit die spiraal van desperate armoede en kies koers die toekoms in.

Dit is nie net die Appelpark-mense wat eienaarskap geneem het nie. Dit is die breë gemeenskap van Krugersdorp wat deur hul betrokkenheid en omgee dinge aan die gang hou, wat help skryf aan ʼn nuwe narratief vir die mense van Appelpark.

Waar kan jy, of deur inisiatief te neem of in samewerking met ander, mense se lewens beïnvloed?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.