Soorte resepte:

Japtrap-wenke vir ʼn gesellige tafel

Breekware van Maxwell & Williams se White Basics Charlton-versameling. (Foto: Verskaf)

ʼn Mooi gedekte tafel laat ʼn tuisgemaakte ete sommer lekkerder smaak, maar nie almal van ons het Nataniël se flair of Emsie Schoeman se natuurlike aanvoeling vir goeie etiket nie.

Daarom het Betsie van der Westhuizen, hoofbestuurder van Maxwell & Williams Suid-Afrika, ʼn paar nuttige wenke gedeel om ʼn gesellige en stylvolle tafel in ʼn japtrap te dek.

Kleurskema

Besluit eers wat jou kleurskema gaan wees. ’n Wit tafellandskap sê elegansie en swierigheid, terwyl ’n monochroom-kleurskema byderwets kan wees. Vir ʼn meer speelse gevoel is helder, kleurvolle keuses ideaal.

Tafeldoek of plekmatjies?

Dink aan watter atmosfeer jy wil skep wanneer jy tussen ’n tafeldoek of plekmatjie moet besluit.

Plekmatjies is altyd gewild, maar indien jy hulle kies, onthou dat alle eetgerei op die plekmatjie se oppervlak vertoon moet word.

‘n Wit tafeldoek is die formeelste opsie en word gewoonlik vir aandete gebruik, terwyl ’n kleurvolle tafeldoek perfek is vir ’n spesiale of gemaklike aandete.

Begin met ’n gewone lap en voeg kleurvolle borde en opdienware by. As jy eerder ʼn meer gewaagde tafeldoek kies, gebruik jou gunsteling wit breekware daarby.

Eetgerei kortpad

Dek net die tafel vir die gereg wat jy gaan bedien – jy hoef nie meer eetgerei by te voeg net om spoggerig te lyk nie

Plaas altyd jou vurk aan die linkerkant van jou bord en messe aan die regterkant. Jou nagereglepel word bo-op die bord geplaas met die steel van die lepel na regs. ’n Soplepel word ook regs van die mes geplaas.

Maak seker dat al jou eetgerei in lyn en eweredig gespasieer is. Die een helfte moet soos ʼn spieëlbeeld van die ander lyk.

(Foto: Verskaf)

Servette

Om ’n servet in ’n glas of koppie te plaas is ’n besliste nee.

Bind jou servet met ’n lint vas, plaas ’n servetring in die middel van jou servet en plaas dit dan in die middel van die bord of eksperimenteer met verskeie maniere om ʼn servet te vou.

Wanneer jy ’n sopbakkie gebruik, plaas jou servet aan die linkerkant van die plekmatjie en nooit in die leë sopbakkie nie.

Druk jou persoonlike stempel af

Die hoofdoel van enige onthaal is om jou gaste spesiaal te laat voel, moet dus nie vergeet om af en toe  ʼn meer persoonlike aanslag te volg nie. Maak byvoorbeeld ’n handgeskrewe spyskaart en naamkaartjie vir elke gas.

Voeg glasware by

Moenie bang wees om glasware op ’n nie-tradisionele manier te gebruik nie. Bedien byvoorbeeld pragtige skemerkelkies in wyn- of jenewerglase vir ʼn meer eklektiese gevoel.

Hou dinge deftig deur jou rooiwyn in ’n sjiek kraffie te gooi en onthou om altyd ’n beker water op die tafel te hê.

Middelpunt van aandag

Die middelpunt van jou tafel is waar jy veral kreatief kan wees en enigiets van vars blomme, ’n formele blommerangskikking, kruie in ʼn pot of plante kan gebruik. Moet ook nie van kerse vergeet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.