Afma verwelkom filiaallede

Foto ter illustrasie. (Foto: Arisa-Chattasa, Unsplash)

Die Vereniging vir veevoerprodusente (Afma) het ʼn kategorie vir geaffilieerde maatskappye tydens sy onlangse 74ste algemene jaarvergadering bekendgestel.

Afma is die amptelike verteenwoordigende liggaam van die Suid-Afrikaanse voerbedryf in die veesektor.

“Dié kategorie het ten doel om geregistreerde maatskappye wat nie veevoerprodukte vervaardig of verhandel nie, ʼn geleentheid te bied om ʼn diens aan die voerbedryf te bied deur hul kragte agter Afma in te gooi,” sê De Wet Boshoff, uitvoerende direkteur van Afma.

Hierdie ondernemings sluit voedingskonsultante, vervaardigers van verwante produkte, IT-stelsels, analitiese dienste soos laboratoriums, vervaardigers van toerusting en ander verwante bedryfsorganisasies of nie-winsgewende organisasies in, wat strategies saam met Afma wil werk.

“Hoewel die lede in die nuwe kategorie nie noodwendig daartoe sal bydra dat meer voer onder die Afma-vaandel vervaardig word nie, sal hulle sterker samewerking in die bedryf verseker om veral veilige voer vir veilige voedsel in alle sektore te bevorder.”

Afma sê die filiaallede sal ook aan ʼn keuringsproses onderwerp word, maar hulle sal nie die oudits van Afma se gedragskode hoef deur te gaan nie. “Die voldoening aan die gedragskode geld slegs vir volwaardige en assosiaatlede se fasiliteite, waar geregistreerde veevoerprodukte vervaardig, hanteer en geberg word.”

Afma se nuwe, geaffilieerde lede hoef dus nie aan die voerveiligheidsgedragskode te voldoen nie, aangesien hulle nie veevoer vervaardig of verhandel nie. Hulle sal Afma wel  bemagtig om hul oudits meer omvangryk te maak.

Die geaffilieerde lede sal dieselfde lidmaatskapvoordele geniet en dieselfde jaarlikse ledegeld as geassosieerde lede betaal en hulle sal ook ʼn unieke logo ontvang.

“Hierdie verwikkeling sal ʼn meer inklusiewe, verteenwoordigende en dinamiese voedingsvereniging in die bedryf bevorder,” sê Boshoff.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.