SA Stamboek wys suiwelkampioene aan

Vyf telers het dertig koeie en verse in sewe verskillende kategorieë ingeskryf om mee te ding in 2022 se Logix Suiwel Prestasie Kampioenskap. Die gesogte kampioenskap is onlangs vir die derde keer deur SA Stamboek aangebied en Holstein-tipe diere en jerseys het deelgeneem.

“Ons is trots op die gehalte van melkboere in ons plaaslike bedryf,” sê Fanie Ferreira, uitvoerende hoof van die MPO. “Ons wens elke wenner geluk met hul uitsonderlike prestasies.”

Diere is op grond van hulle vlak van produksie, genetiese potensiaal en funksionele doeltreffendheid beoordeel, wat met lineêre beoordeling fenotipies vasgestel word. Vanjaar het Niel van Rensburg vanuit Australië die koeie en verse lineêr beoordeel terwyl dr. Bernice Mostert van SA Stamboek die dataverwerking behartig het.

Frazzled 21011 van Ede Farming is as die Holstein-tipe uitblinkerkampioen gekroon, terwyl 21009 van Johan en Salette Roux die kroon vir die jerseys gedra het. Hierdie verse was ook die wenners van klas 1 en klas 2.

 

Frazzled 21011 van Ede Farming is as die holstein-tipe uitblinkerkampioen gekroon en was ook die wenner van klas 1. (Foto: Verskaf)

 

Logix Suiwel Prestasie Kampioene vir 2022 is:

  • Klas 1: Holstein-tipe vers onder 20 maande, dragtig bevestig, is Frazzled 21011 van Ede Farming.
  • Klas 2: Jersey-vers onder 20 maande, dragtig bevestig, is 21009 van Johan en Salette Roux.
  • Klas3: Holstein-tipe koei onder 36 maande, gebore op of na 1 Augustus 2019, is Ede SS Rintje 20084 van Ede Farming.
  • Klas 4: Jersey-koei onder 36 maande, gebore op of na 1 Augustus 2019, is 20050 Milagro J20007 van JO Roux.
  • Klas 5: Holstein-tipe koei ouer as 36 maande, gebore voor 1 Augustus 2019, is 16374 Limpie 14329 Dreamweaver van Joubert en AJ Fourie, Limpopo‑melkery.
  • Klas 6: Jersey-koei ouer as 36 maande, gebore voor 1 Augustus 2019, is 18016 Milagro XF 1 J1809 van JO Roux.
  • Klas 7: Holstein-tipe koei van enige ouderdom met ʼn leeftyd se produksie van 3 500 kg melk, wat bottervet en proteïne insluit, is 15700 Rubicon Jenkins Miranda 1507 van Ede Farming.

 

21009 van Johan en Salette Roux is as jersey-uitblinkerkampioen gekroon en is ook die wenner van klas 2. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.