’n Suid-Afrikaner vertel: In Switserland leef mense ook katvoet vir Covid-19

Christel (Beukes) Malan vertel van haar ervaring van die Covid-19-pandemie in Switserland. (Foto: Verskaf.)

Deur Susan Maré

Christel (Beukes) Malan wat op ’n Petrus Steyn-plaas grootgeword het, vertel uit Switserland dat hulle ook maar sku en katvoet leef vir die Covid-19-virus.

Switserland is ’n baie gedissiplineerde land waar reëls en regulasies deel is van die daaglikse lewe. In ’n Eerste Wêreldland streef Switserland in alle opsigte net die hoogste standaarde na. Die land buig egter nou ook soos alle ander lande laag voor die virus en doen alles moontlik om verdere verspreiding te voorkom.

Die Malans is reeds vir jare werksaam in Switserland en woon in die klein dorpie Kanton Zürich. Hul gelukkige lewe in ’n skilderagtige omgewing is egter nou net so gedemp soos wat mense dit in Suid-Afrika en wêreldwyd ervaar.

Die eerste Covid-19-geval is in Februarie in Geneva geregistreer wat ook die hoofkantoor van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is. Met Switserland wat sy grense met Italië, Frankryk, Duitsland en Oostenryk deel, is daar vele verbinding en logistieke roetes wat deur die land loop. Voeg daarby die groot getal internasionale reisigers en dit maak dat Switserland meer blootgestel is aan die verspreiding van infeksies.

Christel sê die begin van die Covid-19-pandemie was tog interessant. In Europa het die pandemie in die noorde van Italië ontstaan en van die begin was Kanton Ticino wat aan Italië grens, die meeste blootgestel. ’n Groot getal Italianers werk in Ticino se industrieë, maar ook ongeveer 4 000 in gesondheidsorg. Om die grense tussen die twee lande te sluit, word reeds lank bespreek. Die mense van Ticino het positief gereageer deur hul huise oop te stel vir verblyf aan werkers wat daardeur geraak word.

Die tweede bron is welbekend in Suid-Afrika. Verskeie van die eerste gevalle in Suid-Afrika was mense wat in die Alpe kom ski het en via Switserland terug is na Suid-Afrika, met die koronavirus onder lede.

Kanton Graubünden is die plek waar Switserland se grootste vervaardiger van mediese ventilators gesetel is. Die hoof van die onderneming het verduidelik dat baie van die kritiese onderdele van die buurlande afkomstig is en dat ’n groot aantal van sy werkers van Italiaanse oorsprong is. Daarom het die firma ekstra skofte ingestel om aan die aanvraag te voldoen en hou aan om die kritiese masjiene te lewer, veral aan Italië wat die ergste daardeur geraak word, sê Christel.

Die derde en grootse bron van infeksie, met meer as 2 500 bevestigde gevalle, kom van Mulhouse, net buite Basel. Selfs in die plaaslike media word nie veel daarvan berig nie. Die oorsprong was ’n evangeliese samekoms oor die naweek van 18 Februarie. Van daar het die virus na Burkina Faso, Guyana, Corsica en Frankryk versprei en word een van die grootste aanlegte van motorvervaardiging in Duitsland lamgelê.

Die grense tussen Duitsland en Frankryk is intussen gesluit, maar nie vir pasiënte wat vervoer nodig het of in hospitale in Switserland, Duitsland en Frankryk behandel word nie.

In Switserland is die eerste nasionale maatreëls op 8 Maart aangekondig. Dit was ook die dag waarop Christel en haar man, Johan, die tydperk van selfisolasie begin het. Vinnig het dit tot Bliib Dehei ontwikkel– bly by die huis. Laasgenoemde is op 13 Maart aangekondig. Dit was waarskynlik twee weke te laat. Vir die grootste gedeelte van Maart was Switserland die land in die wêreld met die hoogste voorkoms van infeksies per kapita.

Die Switserse maatreëls vereis ook van mense om so ver moontlik by die huis te bly, besighede word gesluit en samekomste beperk tot vyf mense. Openbare parke en areas word afgekamp, maar mense word toegelaat om hul hond te neem vir ’n stappie en in die nabye omgewing uit te gaan vir oefening. Gesondheidsorg, openbare vervoer, noodsaaklike dienste, kosvoorsiening en boere funksioneer soos normaal.

Anders as in baie ander lande is die kleuterskole en skole oopgehou vir kinders van mense wat in noodsaaklike dienste benodig word. Verder is daar in Switserland ook ’n groot aantal kinders wat hul daaglikse maaltye by die skool kry, en vir hulle word die uitsondering gemaak.

Die grootse meerderheid van huishoudings in Switserland het internet- en selfoondiens met goeie bandwydte. Met ’n groot aantal mense wat in die dienstesektor werk, kan baie van die huis af werk, maar haarsalonne, klerewinkels, hardeware en tuinsentrums, teaters, winkelsentrums en ander is alles gesluit.

Switserland het die voordeel van ’n baie goeie mediese stelsel, goed befonds deur belasting en nasionale gesondheidsversekering. Basiese mediese versekering is verpligtend, met verdere voordele opsioneel vir persoonlike bybetalings. Verskeie van die groot farmaseutiese maatskappye het ook hul hoofkwartier in Switserland.

Alhoewel daar aanvanklik probleme was met plaaslike hospitale se hoësorgkapasiteit, word die land se gesondheidsorgstelsel nie oorweldig nie, en reflekteer dit in die relatiewe lae sterftesyfer – hoewel steeds hoër as, byvoorbeeld, in Duitsland. Die organisering en samewerking op federale vlak van die Federale Raad (Bundesrat) is grootliks suksesvol en word wyd ondersteun.

Voorlopig is die maatreëls vir ’n onbepaalde tydperk ingestel. Die getal nuwe infeksies elke dag is besig om af te neem. Omdat die beperkings nie volledig ingestel is nie, en daar in ’n groot mate vertrou word op individue se samewerking, is die impak nie so vinnig as gehoop was nie, en waarskynlik sal die maatreëls noodgedwonge verleng word tot in Mei.

“Dus, Suid-Afrikaners, bly tuis en bly gesond! Ons almal is saam in hierdie ding! Hoe vinniger elkeen besef “dit gaan nie oor mý nie”, hoe vinniger kan ons die verspreiding van die virus beperk, meer mense gesond hou en die afsonderingstydperk vroeër beëindig kan word,” sê Christel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kattebol ·

Dit help om in ‘n land te woon waar outokratiese reëls nie afgedwing word nie en mense basiese behoeftes steeds kan vervul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.