Nissan se kompakte sportnutsbuksie

Die B-sportnutssegment is aan die brand op die oomblik. Ons het binne twee weke die bekendstelling van twee mededingers gesien – Kia se Sonet en Nissan se Magnite. Ons sal in September Renault se Kiger ook sien. Die Kiger en die Magnite kom uit dieselfde fabriek uit en is op dieselfde platform gebou.

Die eerste rolspeler in dié segment was Ford se EcoSport. Toe Volkswagen se T-Cross en Hyundai se Venue. Daar is nou al Citroën se C3 Aircross en Peugeot se 2008. Dié segment gaan vinnig uit sy nate bars. Dit is egter ʼn goeie ding vir die eindverbruiker. As die opsies baie is, dan val die slegtes maklik uit.

Nissan se Magnite het werklik ʼn oulike ontwerp. Ek het eerste die handrat op die proef gestel, en ʼn mens kan dadelik die Renault-items uitken. Die rathefboom en die blink om die aan-en-af-knoppie kom direk van die Renault Triber af. Met die inklimslag is dit duidelik dat die bestuursposisie ʼn bietjie moeiliker gaan wees om perfek te kry.

Die paneelbord is heel netjies – al is die materiale hard. ʼn Mens moet onthou dat die Magnite verskriklik goed geprys is – én dit doen seker nie skade dat die lugreëling se uitlate soos ʼn Lamborghini sʼn lyk nie.

Die Magnite het ʼn aantreklike spesifikasievlak. Daar is klimaatbeheer, spoedkontrole en LED-dagligte. Daar is ʼn draadlose laaimat en die Apple CarPlay en Android Auto werk sonder ʼn draad – ʼn puik funksie, maar die verbinding is nie 100% stabiel nie.

Op die pad is die 1.0-driesilinderturboenjin heel in die kol. Die enjin bied 74 kW en 160 Nm op die handrat en 152 Nm op die CVT-palwisseltransmissie. Die handrat se topspoed is 168 km/h en die outo 173 km/h. Die gemiddelde brandstofverbruik op die handrat is 6 l/100 km en op die outo 5,27 l/100 km. Ek moet bieg dat ek die outomatiese ratkas verkies bó die handrat – veral in die dorp.

Op die pad voel die Magnite heel oulik. Daar het net een keer ʼn dwarswind hom bietjie van koers af gewaai – maar verder toer hy lekker. Sy vering is lekker soepel en stryk meeste hobbels lekker plat. Aan die veiligheidskant is daar vastrap en stabiliteitsbeheer, twee lugsakke, ABS met EBD en wegtrekhulp… heel skaflik.

Dit is heel maklik om die Nissan Magnite op te som. Dit is ʼn aantreklike mededinger in die segment. Ek sou wel die gehalte effens beter wou hê, maar teen die prys is die kompetisie rateltaai.

Die reeks lyk só:

Nissan Magnite Acenta handrat74 kW/160 Nm6 l/100 kmR256 999
Nissan Magnite Acenta CVT74 kW/152 Nm5,27 l/100 kmR280 100
Nissan Magnite Acenta Plus handrat74 kW/160 Nm6 l/100 kmR282 600
Nissan Magnite Acenta Plus CVT74 kW/152 Nm5,27 l/100 kmR305 700

Die reeks word gedek deur ʼn 6 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/30 000 km-diensplan. Ons sal weer tyd met die Magnite deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.