Renault se nuwe Captur beïndruk  

Die Suid-Afrikaanse motorbedryf is die afgelope dekade of so gepeper met “meer bekostigbare” modelle uit Indië en China.

Renault se Logan, Sandero en Kwid tel onder dié voertuie en indien dit die enigste modelle was wat Renault in Suid-Afrika beskikbaar gehad het, sou ʼn mens dit as die vlak van gehalte vir die handelsmerk beskou het. Maar, soms kry ons ʼn volvet-model uit die handelsmerk se eie tuisfabriek, en die resultaat is fantasties.

Renault se Captur was nog nooit uiters gewild in Suid-Afrika nie. Die Clio het sy kans in die son gehad en toe kry Renault as handelsmerk die knou vir “onbetroubaar” wees. Ek sou stry dat die eerste nuwe Renaults wat in die 2000’s Suid-Afrika toe gekom het, moontlik net té gevorderd was en ʼn spesifieke tipe tegnikus nodig gehad het om probleme effektief op te spoor. Dit is lankal nie meer ʼn probleem nie – en onderdele en arbeid is deesdae effens meer bekostigbaar weens die Right to Repair-riglyne.

Die nuwe Captur is ʼn fantastiese ryding. ʼn Opgepompte B-segment luikrug… ietwat van ʼn kruismodel. Die ontwerp is mooi en die stilering netjies. Die oomblik wat ʼn mens die deur oopmaak weet jy oombliklik dat dit ʼn produk van puik gehalte is.

Sodra ʼn mens inklim en die gehalte van die sitplek se steun voel, en die leer op die stuurwiel, weet jy dat dié voertuig nie uit Indië of China kom nie. Die binneruim is toegerus met al die moderne luukshede wat klimaatbeheer en spoedkontrole insluit, elektroniese handrem en ook al die nodige veiligheidstelsels.

Onder die kap sit ʼn juweel wat ons nie ken nie – Renault se eie 1,.3 viersilinderturbopetrolenjin wat 113 kW en 270 Nm bied. Die enjin gaan gepaard met Renault se 7-spoed dubbelkoppelaar outomatiese EDC (Efficient dual clutch)- ratkas. Die Captur tref ʼn lekker balans tussen goeie brandstofverbruik wanneer ʼn mens sag met hom werk, en goeie verrigting wanneer jy dit benodig. Renault beweer 6,6 ℓ/100 km in die gekombineerde siklus.

Op die oop pad loop die Captur soos ʼn droom. Ritgehalte is soepel genoeg – maar die padhouvermoë is ook in die kol. Selfs die aangename reuk in die binneruim bevestig die Captur is van Europese afkoms.

Ek sal die Captur só opsom: Já, as ʼn mens hom met produkte van ʼn swakker gehalte vergelyk is hy effens duur, maar moet nie daardie fout maak nie. Die Captur is ʼn lieflike voertuig wat salig is om te bestuur. Toetsbestuur beslis een indien jy in die mark is vir dié soort voertuig.

Die reeks lyk só:

Renault Captur 1.3 Turbo ZenR469 999
Renault Captur 1.3 Turbo IntensR499 999

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Volkswagen Taigo 1.0TSI Style85 kW/200 Nm5,4 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R512 800
Opel Mokka 1.2T GS Line96 kW/230 Nm6,1 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R539 900
Mazda CX-3 2.0 Hikari115 kW/206 Nm6,7 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km-waarborg en diensplanR541 900
Fiat 500X 1.4T Sport103 kW/230 Nm5,7 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R560 900
Toyota C-HR 1.2T Luxury85 kW/185 Nm6,4 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

6 dienste-diensplan

R612 000

Tussen dié mededingers is die Captur die bekostigbaarste, en met die sterkste enjin. Loer beslis, jy sal aangenaam verras wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.