3 maklike maniere om meer omgewingsvriendelik te wees

(Foto: Pixabay)

Wanneer mense hoor “gaan groen” dink hulle dikwels dit behels groot, alomvattende veranderinge, maar om meer omgewingsvriendelik te wees gaan juis daaroor om klein impakvolle veranderinge in jou alledaagse lewe te maak.

Catherine Clarke, eienaar van The Harvest Table, ʼn aanlyn gesondheidswinkel wat ʼn holistiese benadering inslaan ten opsigte van dít wat mense eet en doen, glo dat individue en sakeondernemings meer volhoubare keuses kan en moet maak om hul uitwerking op die omgewing te verminder.

“Ons wil sakelui en individue aanmoedig om ʼn volhoubare denkwyse te kweek wat mense se impak op die aarde sal beperk en uiteindelik ons gesondheid sal verbeter. Om só ʼn denkwyse aan te neem sal lei tot verminderde afval en energieverbruik, wat uiteindelik die omgewing en ons lewes sal verander,” sê Clarke.

Hier is drie maklike maniere om meer omgewingsvriendelik te wees:

  1. Skep jou eie elektrisiteit

Groot dele van die wêreld gebruik fossielbrandstof, maar hierdie hulpbronne is nie hernubaar nie, wat beteken dat ons alternatiewe moet vind vir ons energieverbruik.

Suid-Afrika is gelukkig om 2 500 uur se sonskyn per jaar te kry, wat mense en sakeondernemings kan gebruik om elektrisiteit aan hul geboue en huise te verskaf. Die voordele van sonpanele is veel groter as die koste van installasie en sal jou aan die einde van die dag geld spaar.

Die gebruik van gratis, skoon en hernubare energie verminder die afhanklikheid op fossielbrandstowwe en dra by tot laer emissie wat die omgewing beïnvloed.

  1. Stoor dit in die wolk

Tegnologie het só ontwikkel dat dit nou nie meer nodig is om groot hoeveelhede dokumente op duur hardeskywe te stoor nie. Fisieke hardeskywe gebruik ook baie energie en plaas druk op natuurlike hulpbronne.

Wanneer lêers eerder in die wolk gestoor word, kan dit selfs die stoor-en-deel-proses van data vergemaklik.

Hoewel sakeondernemings toenemend papierloos funksioneer, maak papier steeds 25% van storting op en 33% van munisipale afval uit, volgens The World Counts. Dit is ʼn kommerwekkende hoë persentasie, maar wolkberging kan help om dit te verminder.

  1. Gebruik omgewingsvriendelike verpakking

Soveel as wat ons oor die afgelope paar jaar hoor ons moet herwin en hergebruik, neem die globale afvalproduksie steeds toe. Volgens Conserve Energy Future is plastiek een van die grootste afvalprodusente en dit kan gevaar inhou vir mense, wilde diere en die seelewe.

Afval plastiek vind hul pad na diere en die see en vind so hul pad terug na ons bord. Die chemikalieë in plastiek veroorsaak infeksies onder diere en dit versteur ons natuurlike hormone.

Oplossings is so eenvoudig soos om eerder glas as plastiek te gebruik en om herbruikbare inkopiesakke te gebruik. Koop ook produkte wat in herbruikbare verpakking kom sodat jy dit later in jou kantoor of kombuis kan gebruik. As jy produkte verkoop, dink ook aan maniere hoe jy jou verpakking meer omgewingsvriendelik kan maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Delia ·

Goed en wel om te sê leef meer ekovriendelik en eet gesond. Ek het al heelwat Gesondheidswinkels besoek.
Hoekom is DIE produkte so duur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.