ToekomsVenster: Mag dit goed gaan

(Foto: Artem Kovalev/Unsplash.)

3 Johannes 1:2  – Liewe Gaius, ek hoop dat jy gesond is en dat dit in alle opsigte so goed gaan met jou as wat dit geestelik met jou gaan.

Johannes skryf met dankbare vermelding oor die gasvryheid wat ene Gaius aan rondreisende Evangeliste en predikers en dit op eie koste bewys. Nuus daarvan het Johannes in  Efese bereik. Dit is ʼn mooi wens en gebed wat Johannes met Gaius deel.

Gesondheid is uiteraard baie belangrik. Die spreekwoord, ʼn gesonde liggaam huisves ʼn gesonde gees, is sekerlik nie ver van die waarheid nie. Om gedurig bekommerd te wees oor jou liggaamlike gesteldheid is vermoeiend en sleg.

Daar is mense wat regtig sukkel met hul gesondheid en ons moet vir hulle bid. Gelowiges leef altyd met die verwagting van genesing en herstel. God is gister vandag en tot in alle ewigheid dieselfde.

Die skrywer wens Gaius nie net goeie gesondheid toe nie maar welsyn vir alle fasette van die lewe.

Ons is immers liggaam, siel en gees. As die liggaamlike siek is en bly het dit dikwels ʼn impak op die ander fasette van ʼn mens se lewe. Die omgekeerde is ook waar.

Liggaamlike gesondheid behoort ʼn mens met dankbaarheid te vervul. Daar is mense wat ten spyte van liggaamlike ongesteldheid steeds die genade vind om dankbaar en vervuld te lewe. Sulke mense dwing bewondering af.

Emosionele welsyn is eweneens belangrik vir ʼn mens se omvattende gesondheid. Geestesgesondheid is ʼn saak wat veral in hierdie tyd waarin ons die ongemak en onsekerheid van Covid-19 beleef baie relevant is. Dit wil voorkom asof daar baie mense is wat met depressie, angs en ʼn gevoel van verlies lewe. Die impak wat afsondering en gepaardgaande vereensaming op veral ouer mense het word grafies in die media beskryf. Om nie die geleentheid te hê om van ʼn sterwende familielid afskeid te neem of selfs die begrafnis by te woon nie, is ongekend. So is daar baie nuwe stressors waarmee ons nie vroeër gekonfronteer is nie.

My wens is soos die van Johannes dat dit met jou in alle opsigte mag goed gaan. Mag jy geestelik groei en al hoe meer die karaktertrekke van Jesus vertoon. Mag jy emosioneel gesond en gebalanseerd bly. Mag jy liggaamlik fiks en vol energie wees. Mag dit met jou in alle opsigte goed gaan.

Moet geen een van die aspekte van menswees verwaarloos nie. Op die langduur betaal ʼn mens ʼn baie groot prys daarvoor.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.