Lesersbrief: Waarom ek as ʼn ‘Swiftie’ bedank

Anoniem skryf:

Taylor Swift op die verhoog tydens ‘n optrede van haar Eras-toer. (Foto: Michael Tran/AFP)

Ek luister na die nuutste Taylor Swift-album, Tortured Poets Department, en my hart is seer, diep seer.

As ʼn 30-jarige millenniër, of so noem hulle ons, was ek bevoorreg om die pre-kultuurbehepte Taylor Swift te leer ken en so ʼn “Swiftie” te word. Sy was die een wat jou nostalgies laat oor jou eerste liefde, een wat sonder kras woorde die klankbaan van elke meisie se hart in die 2000’s was.

Maar nou sing sy ʼn ander deuntjie en ek, vir een, is nie hier vir dit nie.

As iemand wat in die wêreld van tieners funksioneer, vir agt jaar al by hoërskole skoolgee en sien hoe die tieners van vandag blootgestel word aan baie meer kulturele uitdagings as wat ons ooit gehad het, is Taylor se nuwe album vir my ʼn diepe bekommernis.

Nie net dra die album vir die eerste keer meer eksplisiete lirieke as ooit tevore nie (11 van die 31 liedjies), dit getuig ook van ʼn ongesonde wyse om teleurstellings en seer in verhoudings te hanteer, dit skep ʼn kultuur van wraak en, vir my amper die ergste, dit bevorder die vooruitgang van toksiese verhoudings en romantiseer vir my en vir elkeen wat daarna luister hierdie tipe verhoudings.

Swifties sal natuurlik stry en haar prys vir die bemagtiging van vroue, die vryheid in haarself wat sy gevind het of die sterkte van skryf en sing oor jou seer, maar maggies doen dit dan anders asseblief!

Duisende ander kunstenaars kry dit darem reg om albums uit te gee wat hoop bring te midde van seer. Maar nee, hierdie een is bloot net ʼn galbraaksessie vol depressiewe lirieke met ʼn onderliggende slagoffermentaliteit en angstige gehegtheidsprobleme (anxious attachment issues) wat na vore kom.

As ek dit wil hoor of sien, kyk ek dan liefs weer eerder die nuwe seisoen van Love is Blind op Netflix, want Taylor jy neem niemand van ons na mooi plekke met jou lirieke of nuwe liedjies nie. Wat leer dit my en my dogters oor die verwerking van seer, teleurstelling en gebroke harte?

Sal my opinie oor hierdie album en ons kinders wat ook hierna luister gekruisig en uitmekaar geskeur word? Beslis! Hoekom? Want dit is die gees van die tye om nie teen die tendense en die kultuur wat vir ons geskep word te gaan nie – en nog minder mag jy ʼn opinie lewer oor iets wat klaarblyklik bemagtiging gee aan vroue.

Die harde werklikheid is dat sou ek en jy die gees waarmee hierdie album ons kinders en onsself los ignoreer, sit ons met groter moeilikheid oor 10 jaar van nou.

In ʼn gesprek met kollegas oor hierdie einste opinie wat ek gevorm het, bloot oor hoe my hart, my gees en my gedagtes gevoel het nadat ek deur die 31 liedere op haar album moes wroeg, was ons dit eens – as volwassenes het ons almal triggers in die luister van die album ervaar. Van depressiewe gedagtes tot ʼn hart wat swaar is, want jy herleef onnodige toksiese oomblikke van vorige verhoudings. Hierdie album het niemand van ons gevoed nie, en is dit nie tog wat musiek moet doen nie?

So meneer of mevrou, ek sal nie vir jou ooit voorskryf waarmee jou kind moet besig bly nie, maar as hy of sy die album luister, weet asseblief tog net waarna hulle luister. Waak teen die gees van die eeu wat sy kloue op subtiele maniere om jou kind se denke, verhoudings en geestesgesondheid wil kry.

Dankie Taylor, maar ek bedank dus hiermee amptelik as ʼn Swiftie.

Stuur vir ons jou brief, met ’n maksimum van 500 woorde, na , dan oorweeg ons dit vir publikasie.
Hierdie rubriek is ’n lesersbrief wat op Maroela Media se webwerf gepubliseer is. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Só sê die lesers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

KwaaiRooikop ·

Dit is vir presies hierdie rede dat ek en my man die “conviction” gekry het om nie meer na sekulêre musiek te luister nie. Dit staan geskrywe dat alles tot eer van die Here moet wees. Hoe is musiek oor drank, drugs, met hoeveel meisies of mans jy rondslaap, of die aanhoudende vernedering en seer van oneerlikheid in verhoudings, revenge en haat tot eer van die Here? Dis geen wonder almal loop depresief rond nie, want dis al wat meeste mense dag en nag hoor, in winkels, wanneer hulle oefen, by die werk, selfs wanneer hulle gaan slaap. Die bybel sê nie verniet dat dit waarna jy kyk en luister, is wat jy eventually word nie.

S ·

Nog een wat haar siel aan die duiwel verkoop het vir sukses en roem. Was altyd nederig en onskuldig nou is dit ‘n kompetisie om te kyk wie kan die ergste skok met uitrustings (of tekort daaraan) en skokkende lirieke.

Klein Karoo Loper ·

Ja kyk maar ook hoe het Afrikaans is Groot in ‘n paar jaar verander nadat CA oorgeneem is deur ‘n groot maatskappy.

Haibo ·

Ek was nog nooit ‘n aanhanger nie so ek gaan duidelik nie deur haar huidige album wroeg nie maar sy het wel in die verlede paar liedjies gesing waar my kop saam geknik het. My kinders het groot geword toe Harry Potter uitgekom het sowel as Passion of the Christ en mense het almal opgetrek en laat weet dat kinders dit nie moet lees of kyk nie want dit is nadelig en gee kinders die verkeerde idees oor die samelewing. Ai toggie, my kinders was blootgestel daaraan maar ek het my kinders geleer van reg en verkeerd sodat hulle kan onderskeid tref. Ek het hulle geleer dat jy nie alles moet glo wat jy sien, lees of hoor nie en ek kan met trots se dat hulle verstandig genoeg was en is om die regte besluite te neem. Ons as ouers moet die grondslag neerle vir ons kinders en hulle pantser teen die wereld, as ons dit reg doen sal buite invloede geen negatiewe impak op hulle he nie. Ons kan nie ander blameer vir ons of ons kinders se gedrag nie, ons moet verantwoordelikheid neem. Swiftie of nie, daar is baie erger dinge daar buite om myself oor te bekommer.

Sokrates ·

Die skrywer se bekommernis lê nie by goeie ouers soos jy nie, Haibo. Dit lê heel tereg by die duisende huise waar daar weinig kritiese leiding en betekenisvolle gespreksvoering is. Dit lê by die kinders wat vanaf 13 jarige ouderdom in skoolkoshuise woon, en grootliks deur die portuurgroep beïnvloed word…..Dankie aan die skrywer om ons bewus te maak van die aard van die lirieke en beelde. Ons land se jeug is kosbaar. Ons moenie die boodskapper skiet nie.

Pieter ·

Kyk die oplossing hier is maklik jy luister na musiek waarvan jy jou, ek luister waarvan ek hou. Dis ook redelik belangrik om te noem jy kan kuns waardeur sonder om saam te stem met die onderliggende boodskap wat dit verkondig.

RS ·

Daar is baie erger dinge wat op hul huise se drimpels staan wat baie meer gevaarlik is, as om so baie bekommerd te wees oor ‘n liedtjie wat op radio is.

SwartBees ·

Meeste van die kunstenaars is voorbeelde aan die begin van hul loopbaan tot hulle hul siel aan die duiwel verruil vir roem en sukses dan gebeur hierdie soos wat genoem word in die berig. Ek WAS ‘n Swiftie maar dis nou verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.