Oor almal wat uitgesluit word

(Foto: VF Plus/X)

Dis ʼn debat wat al van vêr kom, maar die tyd daarvoor is nou waarskynlik ryper as vantevore. Dit volg op die publikasie van die Afrikaner-verklaring waarin verskeie Afrikaner-organisasies hulle verbind om in die land te bly en help bou aan ʼn beter toekoms.

Nou gons dit behoorlik onder Afrikaners en (bruin) Afrikaanssprekendes oor wat hulle verhouding teenoor mekaar behoort te wees. Is elk ʼn duidelik onderskeibare eie kultuurgroep, of hoort hulle saam in een beduidend groter minderheidsgroep? Volgens Statistieke Suid-Afrika is daar tans 3,4 miljoen bruinmense wat Afrikaans as huistaal het en 2,7 miljoen wittes.

Afrikaans het saam met die ander tien tale gelyke status as amptelike taal gekry. Die beginsel is reeds vervat in die tussentydse Grondwet wat opgestel is tydens die Kodesa-beraad. Die sekretaris van die beraad was dr. Theuns Eloff wat in daardie tyd gesien is as ʼn verligte Afrikaner. Die verskillende partye het ooreengekom op ʼn model van meerderheidsregering met waarborge vir minderhede. Regse Afrikaners, soos die mynwerkersunie (later is sy naam verander na Solidariteit), wou ʼn stelsel van devolusie hê met ʼn konfederale regeringstruktuur.

So vier jaar gelede het oudpresident FW de Klerk die stelling in die openbaar gemaak dat apartheid nie bestempel kan word as ʼn sonde teen die mensdom nie. Dit het konsternasie veroorsaak en die FW de Klerk-stigting het die stelling teruggetrek. Dis gedoen deur dr. Theuns Eloff, wat toe aan die hoof van die instelling gestaan het. Terselfdertyd het ʼn klompie prominente wit Afrikaanssprekendes in ʼn verklaring hulle gedistansieer van De Klerk se stellings en hulle verbind tot samewerking en versoening met almal in die land.

Na vele informele vergaderings is besluit om ʼn netwerk van Suid-Afrikaners, wat in eie reg positiewe dinge doen, in verbinding te bring. Dis ʼn poging om deur dialoog groter aksie in die burgerlike samelewing ten goede te bewerkstellig. Die inisiatief is aanvanklik geneem deur hoofsaaklik Afrikaanse wit, ouerige mans met Barend la Grange aan die spits. In middel-April is twee groot vergaderings gehou – in Johannesburg en in die Kaap. Meer as 100 mense van alle kleure, ouderdomme en geslag het dit bygewoon.

Terselfdertyd het ʼn groep Afrikaner-instansies byeengekom – gefasiliteer deur dr. Eloff. Hulle het aangekondig dat hulle ná die verkiesing op 29 Mei ʼn kulturele verdrag met die nuwe regering wil aangaan. In ʼn verklaring van 12 punte beloof hulle om te help om die land te herbou, maar dan verwag hulle kulturele vryheid van die regering.

Een van die eerste hoë profiel mense wat kritiek teen die inisiatief uitgespreek het, was Christo van der Rheede – ʼn “bruinman” wat al diep spore in “Afrikaner”-instansies getrap het soos AgriSA en die Afrikaanse Handelsinstituut. Ironies is hy ook die nuut aangestelde uitvoerende hoof van die FW de Klerk-stigting wat vir Theuns Eloff in die pos opvolg.

Ek nooi toe vir Theuns, Christo en Barend om aan ʼn Zoom-gesprek deel te neem.

Freek Robinson. (Foto: Verskaf)

Christo se argument was dat Eloff se groep net opnuut vervreemding skep. Die term “Afrikaner” word opnuut gekaap vir eng nasionalistiese doelwitte. Die volle Afrikaanse gemeenskap se bydrae tot die heropbou van die land moet aangewend word. Maar met die Afrikaner-verklaring is die bruin Afrikaanse gemeenskap uitgesluit.

Eloff het hom ietwat vererg en daarop gewys dat die Grondwet voorsiening maak vir vryheid van assosiasie. Daar sal na die verkiesing gepoog word om met die nuwe koalisieregering te onderhandel oor ʼn kultuurverdrag. Die regering moet aanvaar dat die Afrikaner ʼn veel breër begrip het van kultuur. Byvoorbeeld dat dit grond insluit. Eloff sê die Grondwet erken die strewe na grond en dat kulturele vryheid sonder grondgebied sonder gronde is.

Barend het beklemtoon hoe die burgerlike samelewing moet saamstaan om ʼn gesamentlike toekoms te skep.

Ten slotte wil ek net ʼn paar punte maak.

Dis jammer dat ʼn inisiatief met ʼn klompie goeie beginsels reg aan die begin in omstredenheid gewikkel is. Beginsels soos samewerking in belang van vryheid, veiligheid en voorspoed; gelykwaardigheid en ekonomiese bemagtiging.

Daar sal in die besonder gewerk moet word aan die verhouding tussen die Afrikaanse gemeenskappe. Hoe dit ook al gestruktureer word, ons kan dit eenvoudig nie bekostig dat die meerderheid mede-kultuur en -taalgenote verstote voel nie. In my ervaring van jare se reis oral in die land, het ek werk daarvan gemaak om mensstories te vertel, veral van bruin gemeenskappe. Telkens het ek verstom gestaan oor die welwillendheid as ʼn mens maar die kleinste teken gee van erkenning van menswaardigheid en gelykheid.

In die bruin gemeenskap is daar ʼn geweldige sensitiwiteit oor veral die Afrikaner se hantering van diskriminasie. Dit ondanks die feit dat ons voorsate almal saam deel gehad het aan die ontwikkeling van ons unieke mengeltaal op hierdie bodem. Ons is nie veraf familie nie… ons is broer en suster – soms letterlik só.

Wat en hoe sal al die sake hanteer word in die kultuurverdrag?

Wie stel dit op?

Wie dra dit voor?

Die persepsie is dat die Afrikaner-verklaring eintlik maar net ʼn Solidariteit-verklaring is. Meer as die helfte van die deelnemende organisasies kom uit die stal van die Solidariteit Beweging – soos die vakbond Solidariteit, AfriForum, Helpende Hand, Akademia, Sol-Tech en verskeie ander. Die Beweging het die afgelope 30 jaar allamintig gegroei tot die sterkste en mees veelsydige burgerlike organisasie in die land. Hy het waarskynlik nie sy gelyke internasionaal nie.

Leiers soos Flip Buys, Dirk Hermann, Kallie Kriel en Gerrie Nel skrik nie vir die duiwel nie. Hulle doen eers en praat dan. Hofsaak na hofsaak het hulle die reputasie gekry as ʼn gedugte teenstander. Aanvanklik het die regering en partye soos die EFF hulle afgemaak as reaksionêre, regse rassiste wat net wit Afrikaners bedien. Namate hulle sukses gegroei het, het al hoe meer swartmense by hulle aangeklop vir hulp.

Een ding is seker: enige inisiatief om Afrikaner/ Afrikaanse taal/ kultuur te bevorder, sal nie sonder Solidariteit aangepak kan word nie. Dit gaan net delikate gesprek kos om te verseker dat die beste strategie gevind kan word om die saak te dien.

Ook: Hoe pas prokureur Willie Spies se Afrikaner-bloudruk by die prentjie in?

En Orania?

Ek hoop sinvolle oplossings in goeie gees sal gevind word.

Meer oor die skrywer: Freek Robinson

Freek Robinson is ‘n vryskut radio- en televisieaanbieder. Hy is nou semi-afgetree en was voorheen die aanbieder van Fokus (SABC 2), Praat Saam (RSG), Robinson Regstreeks (kykNET) en die hoofanker van eNuus. Hy besit sy eie kommuinkasiemaatskappy en gee opleiding aan sakeleiers in mediavaardighede.

Deel van: Podsendings, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hans ·

Sou jy hierdie Afrikaner manifes lees en na bv Alexander Dugan se kommentaar oor ultra-liberalisme lees en luister, sal die kommentator in artkel besef hoe verregs Afrikaner-liberalisme is, invergelyking met moderne neigings van geen ras, geen geslag en geen mens nie, masjien KI en geen onderskeid van diere nie.
Maw, ons Afrikaners verklaar dat ons nie langer met “nuutste siel van die weste” kan vereenselwig nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Here in the Western Cape we focus on independence. We will determine our own future. Gone are the days when Afrikaners who are emotional about conferences and treaties simply drag in the rest who think otherwise. The risk is that your treaties could damage our efforts in the South and lead to divisions between groups that want to work together.

Haan ·

Kan iemand onthou toe die woord “Volk” nog bestaan het. Pleks van “kultuurgemeenskappe” en “vryheids-organisasies”
Hou aan praat. Jul binnegevegte wys aan die jonges dat hul heil en toekoms slegs veilig is in eie hande… volks-eie hande.

capie ·

Net so Republikein in die Wes Kaap. Sê vir hulle. Hier kan ons ‘n vreedsame lewe lei.

capie ·

Ek het waardering vir wat organisasies soos Solidariteit en Afriforum en andere oor die jare vir die land gedoen het. Maar en dit is ‘n groot maar. Word daar nie nou van die woord “Afrikaner” ‘n soort skelwoord gemaak soos “apartheid” nie. Wat en wie is die Afrikaner. Wie kan Afrikaners word. Is dit so inklusief. Ek kom uit ‘n Afrikaner gesin. Trou ek met ‘n engelse meisie en my kinders word afrikaans grootgemaak volgens Afrikaner tradisie, is hulle ook Afrikaners. Gestel dit is ‘n Hollandse meisie, is dit nog reg. Gestel dit is ‘n Amerikaanse meisie, is dit nog OK. Oeps, die Hollandse en Amerikaanse meisies mag dalk swart wees, hoe dan nou. Wie is die een wat die potlood in my kinders se hare gaan druk? Wie is die een wat homself die reg toe-eien om ander te klassifiseer as sy gelyke.

Ander volke aanvaar nuwe bloed in hul nasies. Die Afrikaner stoot dit weg. Die Afrikaner is in elk geval ‘n mengelmoes van ander nasies, wit en niewit.

annie ·

Hoeveel dekades al wou plaaslike Gekleurdes nie al die Afrikaanse taal gebruik on hul velkleur te probeer verander nie? Hulle is hulself en ‘n nuwe groep. Hul eiesoortige taalgebruik dui dit ook aan. Deur nie wit te wees nie, maak jou nie sleg of minderwaardig nie, maar sekere mense wil hê ons wittes moet sleg voel en glo ons is rassiste as ons nie soos hul lyk en voel nie. Britte, Iere en Skotte praat almal Engels, maar is trots op hul eie aard. Deur Afrikaners te wil sleg te maak en boelie, verander nie aan die feite nie. Doen jul eie ding. Freek praat namens homself. Elkeen wat deesdae agter ‘n bos uitspring probeer
kamma ‘namens’ ander reëlings tref en praat. Spring terug.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.