ToekomsVenster: ’n Gebroke wêreld

(Foto: Daniel Tafjord/Unsplash)

Genesis 3:19 – “..net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

Ons gesels in die volgende dae met mekaar oor die woordjie “totdat” wat nagenoeg 163 keer in die Bybel voorkom en vra of daar dalk lesse te leer is oor die toepassing daarvan op die trauma, hartseer, en die tragedie en ontwrigting wat ons tans ervaar.

Ons weet hoe die Here eers vir Adam en toe vir Eva gemaak het, Adam uit die stof van die aarde en Eva uit Adam. Die Here gee duidelike riglyne van hoe hulle hul lewens moet inrig, wat Hy van hulle verlang en watter opdragte hulle moet uitvoer.

Die geskiedenis is egter bekend. Die slang, die bose, is listig en kan nie wag om die handewerk van God en sy gesag daaroor uit te daag nie. Derhalwe die versoeking om van die boom se vrug te eet nadat God dit eksplisiet verbied het.

As Adam en Eva die opdrag van God verontagsaam, word die gevolge daarvan duidelik uitgespel. Adam sal voortaan in die sweet van sy aangesig sy brood verdien totdat hy sy taak op aarde voltooi het en terugkeer tot die stof waaruit hy gemaak is.

Let net weer op die woordjie “totdat”, ek herhaal die teks : “..net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.”

Ek wonder of jy ook die twee realiteite wat voortspruit uit Adam en Eva se ongehoorsaamheid raak hoor: Die sweet van jou aangesig, met moeite, te midde van weerstandigheid, harde werk en selfdissipline is jou voorland Adam. Lewensonderhoud word ʼn stryd. Die weerstandigheid van die bestel waaraan ons almal deel het, is bekend.

Bitter min dinge kom maklik!

Dit kom met opoffering, daar is ʼn prys aan verbonde.

Vroeg opstaan en laat gaan slaap, sukkel om die begroting te laat klop, siekte van allerlei aard, teëstand van ander mense, menslike beperkinge, en so kan ons aangaan.

Die huidige bestel is stukkend en voorlopig. Jesus bring daaraan ʼn verandering maar dit neem tyd.

Moeite en stryd is nog met ons, trouens, dit sal so wees tot op die dag dat die Here weer kom.

Dit alles beteken dat wat met ons gebeur, die ongerief en gebrokenheid ons nie moet verras nie. Ons weet waar dit vandaan kom en ons weet dat die sondigheid van mense dit in stand hou. Daar kom ʼn volmaakte verandering, maar ons sien nog net die eerste tekens daarvan. “In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien,” sê die Here.

Die tweede saak is die finaliteit en ononderhandelbaarheid van die dood.

Die lewe loop uit op die dood. Elke mens sterf en dit is nie iets waarna enige mens uitsien nie. Dit breek ons harte om geliefdes aan die dood af te staan en ons self meld nie aan daarvoor nie.

Gelukkig weet God wanneer dit tyd is.

Die Prediker leer ons mos, “daar is ʼn tyd om gebore te word en ʼn tyd om te sterwe”. Dit is die direkte gevolg van, ja, Adam en Eva, maar ook my en jou onverskilligheid.

Gebrokenheid gee geboorte aan gebrokenheid. Wat jy saai is wat jy maai, dit kan nie anders nie.

Goddank weereens dat ook aan die dood ʼn einde sal kom. Paulus getuig daarvan in 1 Kor. 15. Hy spot eintlik met die dood as hy vra waar sy gewraakte angel dan sit?

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ietsanders ·

Deur die geskiendenis vd wereld was daar altyd oorlog, hongersnood, peste, swaarkry, dood. Die moderne mens glo dat hy nie meer die Here nodig het nie, want ons kan mos alles self regmaak met ons medikasie en tegnologie. Wat ons almal nodig het, is om na die Here te gaan. Hy is nie ‘n marionet wat net altyd sal doen wat ons verwag nie, maar by Hom is daar troos en vrede, veral in hierdie moeilike tyd wat ons nou beleef. Hoekom het ons so bang geword vir die dood? Ons het regtig begin lewe asof ons vir altyd daar sal wees….die aftakeling ten spyt. Dit is baie jammer dat soveel jong mense deesdae sterf…..broodwinners en mense met kindertjies….ons bid vir hulle.

Yvonne ·

Dankie Here ons hoop en vertroue is in U gevestig TODAT U ons kom haal…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.