Goosen vir paar wedstryde geskors

Johan Goosen. (Foto: GB Jordaan)

Johan Goosen se koppestampsessie met Munster se Craig Casey op Loftus Versfeld beteken dat hy vir drie weke geskors is.

Die losskakel is in die tweede helfte van die Bulls se nederlaag teen die Ierse besoekers met ʼn rooi kaart vir ʼn gevaarlike duikslag van die veld gestuur.

Die skorsing beteken dat hy waarskynlik nie meer deel van die Bulls se veldtog sal wees om ʼn tuisuitspeelwedstryd te verseker nie, maar as hy Wêreldrugby se têkkelkursus voltooi, kan hy dalk weer op 18 Mei in die Pretorianers se laaste groepwedstryd teen Benetton speel.

Volgens die tugkomitee – onder leiding van Kathrine Mackie van Skotland – het Goosen aanvaar dat hy aan vuil spel skuldig is en dat die rooi kaart geregverdig is.

Die Bulls speel die naweek teen die Ospreys op Loftus Versfeld en Chris Smith gaan waarskynlik die no. 10-trui in Goosen se afwesigheid dra.

Jaco van der Walt, wat al in ʼn paar toetse vir Skotland gespeel het, kan ook die losskakelskoene volstaan.

Smith het egter al vantevore gewys dat hy die septer in Goosen se afwesigheid kan swaai toe sy wenskepskop in 2022 die Sharks-bootjie in die kwarteindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap gesink het.

Bulls se komende wedstryde:

27 April teen die Ospreys

11 Mei teen die Glasgow Warriors

18 Mei teen Benetton.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anton ·

‘n Paar weke gelede kry ‘n Leinster-speler, vir ‘n amper identiese duikslag as Goosen s’n, slegs geel en word hy nie verban nie. Die Bulle verloor agv die rooikaart en Goosen is boonop vir 3 weke geskors.

Rugby het in ‘n onkykbare klugspul verander, waarin die beamptes se onregverdige toepassing van die regulasies wat teen SA se spanne gemik word, bepaal wie die beker gaan wen, nie die spelers nie. Dis amper asof oorsese spanne volgens ‘n ander boek van regulasies speel.

As Bill Beaumont en trawante dan wel hoogvatte wil straf en hulle kykers wil behou, kan hulle eenvoudig nie die skreiende verskil in strawwe toelaat nie, want hierdie is maar net ‘n verneukspul op die oomblik en ek is persoonlik op die punt om nie eens verder te kyk nie.

Manie ·

Ek stem saam met jou Anton, daar is 2 reëlboeke. 1 vir SA en 1 vir die res van die wêreld. Dit kom al dekades aan en NZ en Aus skeidsregters was in Super Rugby al die groot sondebokke. Dis nag vir die Springbokke indien ‘n Fransman, Ier of Engelsman die fluitjie dra, hulle ly nou eers aan vervolgingswaansin en suur druiwe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.