Bravo, Blitsbokke!

Dylan Sage het die wendrie teen Frankryk gedruk. (Foto: X/Blitsbokke)

Wát ʼn wedstryd!

Die Blitsbokke het in Singapoer soos die Springbokke in Parys gemaak en hul Franse teenstanders met een punt geklop.

Die nasionale sewesrugbyspan het vanoggend ʼn wipplankwedstryd met 20 – 19 gewen om die groepfase onoorwonne af te sluit.

Quewin Nortjé, Selvyn Davids en Tristan Leyds het gesorg dat die Blitsbokke ʼn gemaklike voorsprong van 15 – 0 teen die Fransmanne geniet het.

Maar toe begin die drama.

Frankryk het drie drieë binne die bestek van ʼn paar minute gedruk om skielik die voortou te neem.

Die Blitsbokke van die Vancouver- en Los Angeles-toernooie sou ná dié onverwagse Franse rewolusie net gaan lê het, maar die herlewingsvure brand deesdae weer in die Suid-Afrikaanse kamp.

Hulle het weliswaar gesukkel om die laaste afskop van die kragmeting te bemeester, maar ná ʼn vinnige Leyds-tikskoppie het die bal sy pad na Rosko Specman gevind.

En “Specmagic” het sy toorkunsies uitgestal.

Die 35-jarige blits het sy ore platgetrek en na die Franse doellyn laat wiel. Hoewel hy platgetrek is, kon hy die bal uitgee en Dylan Sage het oor die doellyn geduik om ʼn merkwaardige poging af te rond.

Suid-Afrika het vroeër met Spanje (31 – 7) en Samoa (15 – 10) afgereken en hulle speel om 14:12 in die bekerkwarteindstryd teen Australië.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.