Aussies kelder Blitsbok-bekerdroom

Die Blitsbok-verdediging trek Australië se Hayden Sargeant plat. (Foto: Roslan Rahman/AFP)

Die Blitsbokke sal nie verder om bekerglorie in Singapoer meeding nie nadat Australië hulle met 29 – 24 in die kwarteindstryd geklop het.

Die Suid-Afrikaners verdien egter ʼn klop op die skouer vir hul terugvegpoging in die tweede helfte. Die Aussies het die wenpunte in bykomende tyd aangeteken.

“Dinge was ʼn bietjie slordig in die aanloop tot die wedstryd, maar die ouens het gewys dat hulle oor die nodige karakter beskik om nie vir ʼn agterstand van 24 – 5 te skrik nie,” het Philip Snyman, tydelike hoofafrigter, gesê.

Die telling was gelykop toe die eindfluitjie geblaas het, maar Nick Malouf se drie het die kragmeting vir die Australiërs beklink.

“In bykomende tyd het ons drie geleenthede gehad wat ons nie in punte kon omskep nie. Dalk kon ons dinge anders benader het, maar dit is in die verlede en ons kan nou niks daaromtrent doen nie.”

Volgens Snyman wou sy span bitter graag in die bekerhalfeindstryd gespeel het.

“Dit was baie teleurstellend, maar ons sal moet leer om beter besluite op die veld te neem. Terselfdertyd moet ons ook puntegeleenthede met al twee hande aangryp en meer klinies wees.”

Suid-Afrika speel Sondag om 09:55 teen Argentinië en die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

  • Puntemakers:

Suid-Afrika: Drieë: Zain Davids, Tristan Leyds, Christie Grobbelaar en Quewin Nortjé. Doelskoppe: Selvyn Davids en Leyds.

Australië: Drieë: Nathan Lawson (2), Dietrich Roache, Henry Hutchison en Nick Malouf. Doelskoppe: Roach (2).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.