Die aanlyn verkoper Amazon het vandag (Dinsdag) amptelik sy virtuele deure in Suid-Afrika geopen.
Dié aanlyn reus het verlede jaar aangekondig dat Suid-Afrikaners vanjaar ook toegang tot die platform gaan kry.
“Ons is opgewonde om Amazon.co.za bekend te stel, in samewerking met duisende onafhanklike verkopers in Suid-Afrika,” het Robert Koen, besturende direkteur van Amazon se Sub-Sahara Afrika-afdeling gesê.
“Ons bied aan verbruikers goeie gehalte en ʼn wye verskeidenheid, wat internasionale en plaaslike produkte insluit, en ʼn gerieflike afleweringservaring.”
Suid-Afrikaanse verbruikers se eerste Amazon-aflewering sal gratis wees. Daarna sal die afleweringsfooi gratis wees indien jy meer as R500 se produkte bestel.
Amazon beoog ook om Suid-Afrikaanse ondernemings te bemagtig, met meer as 60% van die items op Amazon wat deur onafhanklike verkopers vervaardig word. Dit bied vir plaaslike ondernemings die geleentheid om hulle eie produkte ook op Amazon te verkoop.
“Die hartklop van ons klein sakeondernemings bepaal die gesondheid van ons land se ekonomie,” sê Stella Ndabeni-Abrahams, Suid-Afrika se minister van kleinsake-ontwikkeling.
“Ons verwelkom organisasies wat die geleentheid bied aan plaaslike verkopers en entrepreneurs om hul besighede te laat groei. Ons maak staat op Amazon om hierdie geleenthede aan ons klein ondernemings te bied, en ons sien uit daarna om geleenthede te ontsluit.”
Agter (of voor?) in die ry
Amazon is een van vele aanlyn verkopers waaruit Suid-Afrikaners deesdae kan kies.
Nathalie Schooling, kliënte-ervaringspesialis en uitvoerende hoof by nlightencx, ʼn onderneming wat in kliëntediens spesialiseer, meen dat Amazon se teenwoordigheid in Suid-Afrika ander aanlyn verkopers gaan aanmoedig om hul eie dienste en produkte te verskerp.
“Met die aanvang van die Covid-19-pandemie het ons plaaslike e-verkopers hulle oomblik gehad,” sê Schooling.
“Eensklaps was daar nuwe lewe geblaas in hoe daar op gerieflikheid, kliëntediens, die kliënte-ervaring en innovasie gefokus word. En dinge het gewerk vir ʼn rukkie, maar vra enige Suid-Afrikaner of hulle deurlopend gelukkig is met die diens wat hulle deesdae by ons plaaslike e-verkopers ontvang, en jy gaan waarskynlik gemengde reaksies kry.”
Volgens Schooling kan die klagtes van kliënte van aanlyn verkopers op sosialemediabladsye tot verbetering lei.
“Ongelukkig kruip selfvoldaanheid in wanneer dinge goed gaan, en ondernemings verloor sig van die kliënt.
“Die koms van Amazon gaan plaaslike spelers daartoe dryf om hul eie spel op te skerp om sodoende die lojaliteit van hulle kliënte terug te wen en die opinie wat mense oor hulle het te verbeter.”
- Besoek Amazon se webwerf hier.
Mooi!
Wonder of Amazon moes koebaai sê van 50% van sy aandele vir BBBBEEEE
@Henker, waars jou bewyse van 50% aandele weggee van enige maatskappy in SA. Ooja dis reg, jy het nie.
Hoogtyd!!
Ek het vinnig gaan loer.
Op die oomblik is daar nou nie regtig kwaliteit produkte van bekende make op Amazon te kry nie.
Miskien sal dit later beter lyk.
Mooi!
Verstaan nog nie lekker hoe die storie werk nie. Meeste van die goed wat ek op .com wil hê, is nie op co.za beskikbaar nie
Henker, heel waarskynlik. Niks kan gebeur sonder SEB nie. Musk het ‘n toffie geswaai. Nou sit ons sonder Starlink.
Ondersteun liewers plaaslike maatskappye.