Kies en verseker jou opwekking­stelsels só  

(Foto: pixabay)

Elektrisiteitsprysverhogings tussen April en Julie 2021, tesame met die alomteenwoordige bedreiging van beurtkrag, lei daartoe dat talle Suid-Afrikaners hulself tot alternatiewe elektrisiteitsopwekking- en rugsteunstelsels wend, maar hoe kies ʼn mens die korrekte stelsel, hoe pas jy dit op en hoe laat jy dit voldoende verseker?

“Suid-Afrikaners moet nie alleen ʼn allemintige 15% meer vir elektrisiteit opdok nie, maar is ook deurentyd bewus van die druk op die nasionale kragnetwerk wat hulle binne ʼn oogwink sonder elektrisiteit kan laat,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“Dit gaan ʼn gesamentlike poging verg om verbruik te laat afneem, maar hierin lê ook ʼn geleentheid vir klein verstellings en slim beleggings wat verbruikers op die kort  en lang termyn ʼn hele paar rand kan spaar en terselfdertyd die omgewing kan help.”

As ʼn goeie vertrekpunt gebruik Virseker en die span by Solar Craft die energie-piramide vir doeltreffendheid:

  • Energiebesparing (geen of lae koste): Afskakel van ligte, afstel van geisertermostate, minder warm water gebruik en die uitprop van ongebruikte toestelle.
  •  Energie-effektiwiteit (relatief lae koste): Energiedoeltreffende gloeilampe en ander toestelle, geisertydskakelaars, hittepompe of sonpanele vir geisers.
  •  Hernubare energie (hoër koste): Alternatiewe energiebronne soos sonkrag-waterverhittingstelsels en ander sonkragtoestelle bied uitstekende waarde, tesame met onafhanklikheid van die netwerk en verlaagde impak op die omgewing.

“Dis nie alles-of-niks nie, want ʼn mens kan die omskakeling na ʼn energieslim huishouding in fases benader,” sê Coetzee.

“Fokus eers op besparing en effektiwiteit en takel die grootste verbruikers in jou huis. Daarna kan jy kyk na rugsteunstelsels, soos batterye wat van die gewone elektrisiteitstoevoer af laai, om jou tydens onderbrekings te help. Jy kan stelselmatig batterye toevoeg om jou vir langer of met meer toestelle te onderhou. Dan kan jy kyk na energie-opwekking deur byvoorbeeld sonpanele. Jy kan weer eens stelselmatig sonpanele byvoeg om jou huis meer onafhanklik van die netwerk te maak.”

Wanneer dit by die keuse van ʼn stelsel kom, sê Rohann Mattheus, ʼn direkteur van Solar Craft, word die beste oplossing vir jou in die eerste plek bepaal deur jou huidige elektrisiteitsverbruik en hoe energiedoeltreffend jy leef, nie die grootte van jou huis of die aantal mense daarin nie, en tweedens deur jou behoeftes ten tyde van ʼn kragonderbreking:

 Slegs ligte: ʼn Klein stelsel van sowat R15 000 sal werk vir sporadiese onderbrekings van ʼn paar uur. Dit laai van die netwerk en skakel slegs tydens onderbrekings oor na die battery. Energiebesparende gloeilampe kan help om die maksimum diens uit batterye te put. Sonpanele lewer hier nie ʼn merkwaardige besparing nie.

Ligte en noodsaaklike toerusting: Sou jy noodsaaklike toestelle soos TV’s, rekenaars, Wi-Fi, elektriese heinings, alarms en ʼn yskas byvoeg, is ʼn 3 kW-omsetter met 2,4 kWh-batterykapasiteit met drie uur se bystand die minimum vereiste. ʼn 5 kW-omsetter word egter aanbeveel vir opgraderingsruimte.

Vir ongeveer R60 000 kan ʼn stelsel met 1,8 kW-sonpanele geïnstalleer word, met ʼn verwagte besparing van 8 kWh tot 10 kWh op ʼn sonnige dag.

Ligte, noodsaaklike en nie-noodsaaklike toerusting: Sou jy toestelle soos wasmasjiene, swembadpompe en mikrogolfoonde byvoeg, is ʼn 5 kW-omsetter met ʼn 4,8 kWh-battery (3 uur bystand) die minimum vereiste. ʼn 8 kW-omsetter word aanbeveel vir opgraderingsruimte.

Vir ongeveer R90 000 kan ʼn 5 kW-stelsel met 3 kW-sonpanele en ʼn 4,8 kWh-litiumbattery geïnstalleer word, met ʼn verwagte besparing van 15 kWh tot 18 kWh op ʼn sonnige dag.

Verhittingstoeselle: Dit sluit onder meer geisers, stowe en verwarmers in. Laasgenoemde twee kan deur ʼn sonkragstelsel of ʼn gasstelsel gedek word, maar wat die geiser betref word ʼn sonkrag-waterverhittingstelsel sterk aanbeveel as ʼn meer geldslim belegging.

Sonkrag en sonkrag-waterverhitting bied uitstekende beleggingswaarde met geen of lae risiko, met waterverhittingtoestelle wat normaalweg in minder as 24 maande vir hulself kan betaal en sonkragtoestelle wat normaalweg binne 3,5 tot 6 jaar dieselfde kan doen.

Belangrike dinge om in ag te neem wanneer jy ʼn verskaffer kies:

  • hoe lank die verskaffer bestaan, sy aantal suksesvolle installasies en hoe sterk die onderneming is om oor vyf jaar nog goeie naverkopediens te kan lewer,
  • hoe goed sy terugvoer van bestaande of vorige kliënte is,
  • of sy installasies aan SANS en Nersa se vereistes voldoen, deur gekwalifiseerde en geregistreerde elektrisiëns uitgevoer word en of ʼn elektriese ingenieur die gehalte van komponente en installasies nagaan,
  • of hy oor genoegsame kennis beskik om raad te gee en of die produk wat hy bied 100% geskik is vir jou behoeftes; en
  • of hy ná die installasie ʼn sertifikaat van voldoening (“COC”) uitreik.

Wanneer dit by die ontwerp van en sorg vir hierdie stelsels kom, is dit beter om ʼn effens groter stelsel te kry as wat jy benodig, aangesien dit minder druk op die stelsel sal plaas en die risiko van probleme sal verlaag. Alle standaard beskermingsmeganismes moet ingesluit word en komponente moet op ʼn gepaste plek – veral wat temperatuur, blootstelling aan stof en water betref – geïnstalleer word.

In terme van veiligheid beskik meeste moderne omsetters oor moniteringstelsels wat ʼn duidelike aanduiding sal gee as iets skort. Dit is belangrik om onmiddellik daarop te reageer, die oorsaak van ʼn fout vas te stel en, indien nodig, regstellings te maak.

Ten slotte, wys Coetzee ʼn paar belangrike dinge uit om in ag te neem wanneer dit by die versekering van rugsteun- en opwekkingstelsels kom:

  • Losstaande kragstelsels kan gespesifiseer word onder alle risikodekking, of dit kan gedek word onder huisinhoud (mits dit nie buite staan nie). Kragstelsels wat permanent aan ʼn gebou gekoppel word sal onder geboueversekering gedek word, maar die versekerde waarde van die gebou moet dienooreenkomstig aangepas word.
  • Enige installasie moet volgens die vervaardiger se instruksies en, waar toepaslik, die relevante bouregulasies gedoen word.
  • Insluitings en uitsluitings is in meeste gevalle dieselfde as vir allerisikodekking, huisinhoud- en geboueversekering, afhangend van waar die stelsel ingesluit of gespesifiseer is. Dit is egter belangrik om direk by jou versekeraar duidelikheid te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.