Nuuskommentaar: Diktatuur van die meerderheid

Die hofsaak wat die IVP-LP, dr. Mario Ambrosini in die grondwetlike hof gewen het, vestig opnuut die probleem van wanneer ‘n demokrasie in ‘n diktatuur van die meerderheid ontaard. In Engels word dit selfs sterker uitgedruk – tirannie van die meerderheid.

Suid-Afrika, weens sy heterogene bevolkingsamestelling, kan so ‘n diktatuur van die meerderheid allermins bekostig. Tog het die land opsigtelik in daardie rigting beweeg, en uit Luthuli-huis, en selfs die presidensie, het dikwels verwyte gekom dat die howe te dikwels die “meerderheidswil” veto. Dit word dan as “ondemokraties” beskryf.

Kortom, as dit nie vir die howe en hul onafhanklikheid was nie, was die land waarskynlik reeds ‘n teksboekgeval van ‘n diktatuur van die meerderheid. En omdat die ANC grootliks ‘n ras-saamgestelde party is wat openlik ‘n “Afrika-agenda” bedryf, en verkiesings in wese ‘n etniese sensus is, sou hierdie posisie vir ‘n hele ruk vasgemessel wees.

Trouens, die ANC funksioneer soos die dominante party in ‘n eenparty- “demokrasie.” Enigeen met ‘n bietjie begrip van wat aangaan, volg met arendsoë hoe sake verloop in die aanloop tot die ANC se groot kongres die einde van die jaar, en hou asem op oor of pres. Jacob Zuma die pyp gaan rook of nie.

Die mate waartoe die land reeds in ‘n diktatuur van die meerderheid ontaard het, blyk onder meer uit die ANC se besluit dat voorgestelde wetgewing net via die ANC tot in die parlement kan vorder. ‘n Komitee moet eers wetsontwerpe keur, en die komitee het die begraafplaas geword van wetgewing wat deur lede van die opposisie gegenereer word. Dit is hierdie praktyk wat nou deur die grondwetlike hof vir ‘n ses geslaan is. Beeld neem vanoggend in sy hoofartikel die kwessie onder die loep.

Die ANC se beleid van kaderontplooiing lei nie net tot die bestuurs- en administratiewe chaos in die land nie, maar erodeer die skeiding van uitvoerende, wetgewende en regterlike gesag. Dit is waarskynlik die ooglopendste manifestasie van ‘n diktatuur van die meerderheid.

‘n Grondwetlik demokrasie word ook gekenmerk deur deursigtigheid, en hier laat die voorgestelde snoerwet die alarms loei. ‘n Mens ys oor wat die gevolge sou wees as dié wet op die wetboek was toe Nkandlagate en die skoolboekkrisis deur die krakies begin sypel het.

Dan beteken die minderheidsregte waarvoor die grondwet voorsiening maak ook min, want artikel 235 van die grondwet bepaal dat dié regte via nasionale wetgewing opgeneem kan word. Maar met Gwede Mantashe en Nkosazana Dlamini-Zuma wat reeds die doodsvonnis oor minderheidsregte vir die Afrikaner uitgespreek het, is sulke aspirasies in ‘n diktatuur van die meerderheid kwalik iets wat die agenda sal haal.

Die Kommissie vir die Beskerming en die Bevordering van die regte van Taal- Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe is onlangs deur ‘n burgerlike instelling by die Menseregtekommissie verkla omdat die betrokke kommissie nie sy werk wat die grondwet aan hom opdra doen nie.

Suid-Afrika boer intussen agteruit op die persvryheidsindeks, en Freedom House het Suid-Afrika se media as slegs deels vry geklassifiseer. Boonop word die media gereeld van eie politieke agendas beskuldig wat beteken dat sekere stemme glo nie ter wille van die liberale agenda gehoor word nie, en waar of nie waar nie, sulke persepsies skaad die land op die indeks van Verslaggewers sonder Grense.

Ambrosini se oorwinning in die grondwetlike hof is ‘n oorwinning vir demokrasie in die land. Dit beteken nog nie dat die ANC nou enigsins onder ‘n verpligting is om wetgewing wat deur die opposisiepartye voorgestel is te aanvaar nie, bloot dat dit in die parlement bespreek moet word. Met die ANC wat ongelukkig is oor Luthulihuis-wetgewing wat in die howe sneuwel, kan kleinlik wraak geneem word.

Minstens sal die kiesers nou via die media groter blootstelling aan die proses kry waar die ANC dit dwarsboom.

Die opposisie en burgerlike instellings soos AfriForum en OUTA sal steeds hul hoop op die howe vestig. Daar is reeds belangrike hofuitsprake wat as presedente gekoester moet word en waarvan die bal in die lug gehou moet word. Onder die belangrikstes tel die volgende:

–       Die Modderklipsaak waarvolgens die owerheid nie bloot sy probleme die publiek se probleme kan maak nie, en sy grondwetlike pligte moet nakom. Die regering het hierdie saak van die Hooggeregshof tot die appèlhof en die grondwetlike hof verloor, maar dit sou nie sonder die hulp van Agri SA moontlik gewees het nie.

–       Die appélhofuitspraak van Administrator of Transvaal versus Traub wat kaderontplooiing kan temper deurdat dit in wese bepaal dat iemand nie bloot vir ‘n pos of bevordering gediskwalifiseer kan word nie omdat geoordeel word hy voldoen nie aan die wetlike voorskrif van “geskiktheid” nie. Iemand kan eers so gediskwalifiseer word as hy daarvoor verhoor en skuldig bevind is. Te dikwels dien dié bepaling in onder meer die staatsdienswet as die “oop” bepaling waardeur ander kandidate as ontplooide kaders se aansoeke snippermandjie toe gaan. Dié saak het ook die beginsel dat die ander party gehoor moet word, die bekende audi altaram parem-reël bestendig.

–        Die Grondwetlike Hof het in die saak van City Council of Pretoria versus Walker in die meerderheidsuitspraak beslis dat dit op onbillike diskriminasie neerkom dat wit inwoners van munisipale gebiede gemeterde tariewe betaal, terwyl inwoners van  voormalige swart woongebiede vaste tariewe opdok. Die tweede belangrike aspek is dat, sou die staat ongrondwetlik optree, kan die staat in effek slegs gestuit word deur ‘n hofbevel daarteen te kry. Dit beteken dat ‘n moedswillige regering knaend in die hof gaan boer, mits die ander kant die fondse kan monster om hierdie peperduur proses vol te hou.

Die ideaal bly in die eerste plek om ‘n regering aan bewind te hê wat in algemene belang, en nie in meerderheidsbelang, of in soustreinbelang regeer nie. Die Suid-Afrikaanse kiesers besluit egter vir eers dat dit nie sal gebeur nie.

En daarom kan die werk wat instansies soos Solidariteit en AfriForum doen, wat die howe en ander middele inspan, nooit onderskat word nie.

Maar Ambrosini verdien ook nou elke klop op die skouer wat hy kry.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus, Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae