Nuuskommentaar: Jacob Rooi sien rooi

Kan ‘n Suid-Afrikaanse party nog almal sonder die regtrek van die geskiedenis verteenwoordig? – Die kumulatiewe spanningshipotese

Het die ANC se rasbeheptheid nou so ‘n omvang aangeneem dat ander partye dit moeilik vind om nie-rassige partye in die volle sin van die woord te kan wees?

Dié vraag het die afgelope naweek weer pertinent geword met ‘n rubriek deur Jacob Rooi, senior assistent-redakteur van Rapport waarin hy kommer uitspreek oor die DA nie op die departement van korrektiewe dienste se nasionale raskwotas wat op die Wes-Kaap afgedwing word, gereageer het nie. Dit is tot ernstige nadeel van veral die Wes-Kaap se bruin bevolking.

Rooi vra die vraag of die DA se swye beteken dat die DA nou sy oog so op swart kiesers het dat dit nie meer werklik ‘n party vir almal kan wees nie – iets waaroor hy in Junie verlede jaar nog die DA met lof besaai het. Dié kwessie van of, of, is ook toenemend duidelik uit die voortgesette bohaai oor die geskiedenisles wat die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Mulder, in die parlement gelewer het. Dié les was die gevolg van Julius Malema se skynbaar onaantasbare uitlatings dat blankes hul grondbesit bekom het deur dit van swart mense te steel. Mulder wou die persepsie regstel, maar is dadelik verkeerd in die media aangehaal – met waarskynlik as bron ‘n verklaring van die DA waarin Mulder die kop gewas is.

Dié vrae oor die werklike nie-rassige bestaanspotensiaal van partye word gevra teen die agtergrond van verskeie sake waar die rassespanning in die land eskaleer. Die uitsprake van pres. Jacob Zuma oor die grondwet en die grondwetlike hof, wat nou in ‘n stroom napratery in die ANC-leierskap omgesit het, werk ewe-eens polariserend op minderheidsgroepe in. Met die effektiewe inploffing van ander wigte en teenwigte wat minderheidsbelange moes verskans, bly ‘n onafhanklike regbank, die grondwet en die grondwetlike hof die laaste bastion, al gee akademici nou geredelik toe dat die grondwet self vol foute is.

Om die ANC toe te laat om sy hegemonie ook oor die howe uit te brei dui op niks goeds vir minderheidsgemeenskappe nie, en verdiep polarisasie. Rooi se vrae oor die DA is die jongste verwikkeling in bruin geledere na Jimmy Manyi se uitsprake, en die ANC se laertrekkery om hom, ‘n uittog uit die ANC van bruin meningsvormers verhaas het. Nou word soortgelyke vrae aan die DA gestel. Die feit is egter – as die bruin gemeenskap sulke vrae vra, hoe lyk dit as wit belange onder die soeklig geplaas word? Belange sal steeds in raskonteks gemeet word solank die ANC waarskynlik die mees rasbehepte regerende party van die 21ste eeu bly.

Lees die volledige artikel hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.