Nuuskommentaar: Om met die leeu se voorpoot te peuter

Elke jaar maak die internasionale mediavryheidsorganisasie, Verslaggewers Sonder Grense (VSG) met sy hoofkantoor in Parys ‘n internasionale persvryheidsindeks bekend. Hierdie indeks word uiteindelik nie net ‘n belangrike maatstaf oor hoe vry die pers en ander media in ‘n land is nie, maar gee ook ‘n aanduiding van hoe gesond die demokrasie in daardie land is, en hoeveel erns ‘n regering aan die dag lê om korrupsie hok te slaan.

Verlede jaar het Suid-Afrika met vyf plekke tot die 38ste posisie teruggesak. Die bekendmaking hiervan het met die ANC se beleidskongres in Durban saamgeval en kon ‘n yslike verleentheid vir die ANC geword het as die nuus in die konteks van die langnaweek nie in die media deur die krakies geval het, terwyl die media-aandag op Durban gefokus was nie.

Kort tevore het Freedom House van die VSA Suid-Afrika na ‘n slegs gedeeltelike persvrye land afgegradeer en dit het heelwat aandag geniet.

Verlede jaar het VSG drie redes aangevoer oor waarom Suid-Afrika die kreeftegang gegaan het, na die land enkele jare tevore nog die 21ste plek beklee het en die mees persvrye land op die kontinent was: Die beoogde omstrede inligtingswet, die beoogde mediatribunaal en die optrede van Julius Malema toe hy ‘n BBC-joernalis te middel van vitrioel by ‘n nuuskonferensie die trekpas gegee het.

‘n Mens kan maar net raai hoeveel skade die land as gevolg van traer beleggings gely het. Nou blyk dit die parlement – of dan twee ampsdraers van die parlement – het twee jaar gelede stil – stil ‘n nuwe mediaprotokol opgestel, en die bestaan daarvan het eers aan die lig gekom toe met dissiplinêre stappe teen ‘n parlementêre verslaggewer begin is.

Dit is egter nie net die bestaan van die protokol wat die oë laat rek nie, dit is veral die inhoudelike wat waarskynlik net nog ‘n voorbeeld is waar regeringslui op die oog af die grondwet ignoreer. Die vrye media word internasionaal as die nie-amptelike vierde been van ‘n demokratiese bedeling beskou, en dié beginsel het ook al in belangrike hofuitsprake beslag gekry.

Die Persraad se perskode, waartoe die meeste gedrukte media hulle verbind, sorg dat bandelose joernalistiek ook nie die demokrasie bedreig nie. Onder die bepalings is ook een wat joernaliste verbied om nuus te publiseer wat op ‘n oneerlike manier bekom is, of wat op ‘n breuk van vertroulikheid neerkom. By verre die meerderheid joernaliste en die media waarvoor hulle werk, se integriteit kan in vertroue geneem word. Die meeste koerante het ook genoeg inligting wat nié gepubliseer word nie en wat ‘n oorlogskip tot sink kan bring.

Maar sou ‘n joernalis of die media wat hy verteenwoordig, ‘n vertrouensbreuk pleeg, is die persombudsman en appèlligaam, en desnoods die howe daar om dit reg te stel. Om die media kollektief te muilband of tot verlengstukke van ‘n owerheidsliggaam se eie kommunikasiefunksies te reduseer is duidelik ‘n inbreuk op verteenwoordigende demokrasie, soos die VF Plus ook in dié geval uitwys.

Dit is nie net die ANC, regering of die parlement wat deur gedragsreëls die inligtingsvloei probeer beheer nie – ander liggame soos universiteite probeer ook om dit te doen en help daarmee om die demokrasie af te takel. Om aan die vooraand van die nuutste persvryheidsindeks die demokratiese baba saam met die badwater uit te smyt is ‘n onreg wat teen die hele land en sy mense gepleeg word, want dit het regstreekse ekonomiese implikasies.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae